(25) Die Psalms van Christus
Psalm 5 (2): ‘nGebed wat oorloop van sekerheid en vertroue
Die eerste wat Dawid in die oggend gedoen het, was om te bid. So hoor ons in Psalm 5.
Dit is duidelik dat dit ‘n dringende gebed is, dat die nood groot is: Gee aandag aan my gesug (gekreun) (v 2), gee aandag aan my roep (skreeu) om hulp (v 3).
Maar die gebed van Psalm 5 is óók ‘n gebed wat oorloop van sekerheid.
Die sekerheid word reeds in die aanspreekvorms uitgedruk:
- Twee maal spreek hy die HERE in vers 2 tot 4 aan as HERE. Dit is die Verbondsnaam. Daarmee sê hy: HERE, U het tog ‘n verbond met my gesluit.
- Daarby noem hy Hom my Koning en my God. Die klein woordjies my is groot van belangrikheid. Dawid roep nie tot ‘n onbekende, onpersoonlike God nie, maar tot mý Koning en mý God. Die Koning en God wat met hom ‘n verbond opgerig het. Die my spreek van vertroue. Dit is wat Thomas ook na Jesus se opstanding vir Hom gesê het: my Here (Koning) en my God (Joh 20:28)
Mý, om te sê mý, HERE U is mý Koning en mý God – dit is woorde wat die HERE in ons mond en hart moet lê. Uit jou eie sê ‘n mens dit nie. Deur die Heilige Gees alleen is ons instaat om te sê: Here Jesus, U is my Koning en my God, U het gesterf en U het dit ook vir mý gedoen.
Die goddelose mag nie – wil trouens ook nie – tot die HERE nader nie. Dawid daarenteen het heerlike sekerheid: Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan, my buig na u heilige tempel, in u vrees. Die maar ek staan daar met nadruk en as teenstelling: maar ek in teenstelling tot die goddelose.
En dan onthul hy die geheim waarom hy wél mag nader tot die HERE: Maar ék, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan. Dit is die grootheid van die HERE se goedertierenheid (=genadige verbondsliefde) in Christus. Hierin lê sy rede, sy vrymoedigheid om te kan bid: mý Koning en mý God.
Dit moet ons opval opval, is dat Dawid nie sy vroomheid as rede aanvoer, waardeur hy wel in God se teenwoordigheid mag kom nie. O nee, Dawid weet dat hy dit self ook verbeur het deur sy sonde. Maar hy weet van die grootheid van die HERE se genade: Ek mag in u huis kom … deur die grootheid van u goedertierenheid! Die goedertierenheid, die liefde van die HERE word as groot beskryf.
Vir die goddelose wag daar slegs oordeel: Verklaar hulle skuldig, o God! Laat hulle val deur hul planne; dryf hulle weg oor die menigte van hul oortredinge, want hulle is wederstrewig teen U. (v 10). Wat ‘n smart.
Van die gelowige daarenteen bid Dawid: Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.Want U seën die regverdige, o HERE, U omring hom met welbehae soos met ‘n skild. (vv 11-12). Op die noot van sekerheid en sekere veiligheid eindig Dawid sy gebed – met ‘n gejubel en gejuig.
Weer hoor ons die woordjie skuil van Psalm 2:12. Wie steun op die grootheid van die HERE se goedertierenheid, wie vir Jesus sê my Koning en my God – hý skuil by God.
Toe Luther na Augsburg op pad was om voor kardinaal Cajetanus te verskyn, het een van Cajetanus se knegte spottend vir Luther gesê: “Waar sal jy skuiling vind as jou beskermheer, die keurvors van Sakse, jou in die steek laat?” Daarop het Luther geantwoord: “Onder die skuilplek van die hemel”. Dit was Dawid se skuilplek. Laat dit ook ons skuiling wees. Daar is geen sekerder skuilplek as dit vir ‘n gelowige nie.
Onlangse Kommentaar