(27) Die Psalms van Christus
Psalm 6 (2): Straf my soos ‘n Vader
Psalm 6 begin met die gebed van Dawid: o HERE, straf my (maar nie) nie in u toorn nie, en kasty my (maar nie) nie in u grimmigheid nie. Die nadruk is op die nie in u toorn nie en nie in u grimmigheid nie. Dawid bid dus dat die HERE hom vaderlik sal tugtig en nie soos ’n streng regter (= in toorn, in grimmigheid) nie.
Luther skryf in sy preek oor Psalm 6: God straf op twee maniere:
- Die een manier is dat hy as vriendelike Vader in genade tydelik straf;
- Die ander manier is dat hy as streng Regter in toorn ewig straf.
Daarom skryf Augustinus ook: O God, verdruk maar hier (= hier, aan hierdie sy van die graf – AHB), tref maar hier, slaan maar hier; maar slaan ons nie (eenmaal, in die hiernamaals – AHB) vir ewig voor u regterstoel nie.
Dit sal nie goed wees as God ons nie vaderlik tugtig nie. Dit weet die Nuwe Testament ook, want die Hebreër-brief (12:5-7) sê: En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?
Dit is verder belangrik om te sien dat Dawid nie vaskyk teen wat mense, vyande, hom aandoen nie, maar dat hy agter die vyandsoptrede die Vader se slaanende hand erken, wat deur die hand van vyande ons teregwys.
Dit is treffend dat Dawid ondanks die HERE se tugtiging nogtans roep tot die HERE. Agt maal weerklink die Naam HERE in hierdie Psalm ; vyf maal roep hy die Naam van die HERE aan in die eerste vyf verse.
In vers 3 bid hy om verlos te word van die straf: Wees my genadig, Here, want ek is verswak; maak my gesond, Here, want my gebeente is verskrik. Let op die wees my genadig, Here. Dawid weet dat hy die straf verdien het. In homself vind hy geen gronde waarom die HERE moet ophou met die straf nie. Hy kan alleen pleit: uit genade, HERE, om Christus wil. God se genade is die enigste, maar ook die sekerste grond waarop hy kan staan. Daardie genade kan ons so spel: C-H-R-I-S-T-U-S. In Christus is al God se genade saamgevat.
Die HERE slaan Dawid in die arms van Christus. Dit is die resultaat van die vaderlike tugtiging. Met die tugtiging het die Vader altyd die heel beste met ons op die oog: Hy bring ons by sy Christus en sy genade in Christus. Die Vader gee sy kinders ’n salige pakslae.
Onlangse Kommentaar