(29) Die Psalms van Christus
Psalm 6 (4): Monumente van die HERE ter nagedagtenis
Dit gaan vandag oor drie woorde: goedertierenheid, gedagtenis en loof. Die drie hoor ons in vers 5 en 6: … verlos my om u goedertierenheid ontwil. Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?
Ons as mense is gewoond daaraan om monumente vir ons volkshelde op te rig. Die doel van die monumente is: nagedagtenis. Ons rig die monumente op, sodat ons en ons nageslag sal dink aan die groot dade van ons helde.
Die HERE het ook sulke monumente opgerig. Ons kan sê: sy dade, sy verlossingswerk in Christus, is monumente van die HERE. Die Woord is een groot monument van God se dade. Sy werke in Christus is vir ons opgeteken in die Bybel ter nagedagtenis. Ons moet daaraan dink.
Die woordjies nagedagtenis, gedagtenis en dink in die Bybel is ryk woorde. Gedink is meer as om maar net in jou gedagtes of in jou binnekamer daaroor te dink. Dit gaan in die gedagtenis oor ’n in die publiek dink aan die dade van die HERE. In die woordjies dink en gedagtenis lê ook die gedagte van lofprysing opgesluit: om God in die openbaar in die samekoms van die gelowiges te prys vir sy dade.
In die woord goedertierenheid het ons ’n samevatting van die monument van die HERE. Dít is waaraan ons moet dink en waarvoor ons die HERE moet loof: vir sy goedertierenheid. Sy goedertierenheid is eenvoudiger vertaal: sy genadige verbondsliefde en lojaliteit in Christus.
In Christus aanskou ons God se goedertierenheid. In Johannes 3:16 word God se goedertierenheid of genade kort en kragtig saamgevat: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Daarin sien u die HERE se monument. Daaraan moet u altyd dink. Daarvoor moet u die HERE loof.
Onlangse Kommentaar