(30) Die Psalms van Christus
Psalm 6 (5): nogeens goedertierenheid en gedagtenis
Die woorde goedertierenheid en gedagtenis is so ryk, dat ek my gedring voel om nog ’n oordenking daaraan te wy. Dit gaan vir my nou veral om die lyne na die Nuwe Testament.
In Johannes 1:14 skryf die apostel: En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Die woord genade is ’n vertaling van goedertierenheid in die Ou Testament. Goedertierenheid het ek in vorige stukke verduidelik, is eenvoudiger vertaal God se genadige verbondsliefde en lojaliteit jeens ons. Ons moet die klem ook lê op die genade: genadige verbondsliefde en lojaliteit. Uit genade, om Christus wil, is die Here lojaal teenoor ons. Ons het dit nie verdien nie. In sy genade in Christus lê ook die sekerheid van sy liefde of goedertierenheid vir ons.
En nou die woord gedink of gedagtenis:
In 1 Korintiërs 11:23-28 sien ons die inhoud van daardie gedagtenis : Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
Die inhoud van die gedagtenis aan die Nagmaaltafel is Christus se liggaam wat vir ons gebreek en sy bloed wat Hy vir ons vergiet het. Nagmaal is ook ’n monument van God waardeur ons herinner word aan sy dade in sy Seun. Ons dink aan wat God gedoen het: Neem, eet, gedenk en glo …
Dit is ook nie ’n stil gedagtenis nie, maar aan die tafel verkondig ons in die gemeente wat Hy ook aan ons gedoen het.
Onlangse Kommentaar