(31) Die Psalms van Christus
Psalm 6 (6): die gebed van ’n regverdige het groot krag
Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag, skryf Jakobus (5:16).
Waarom dit so is dat die gebed van ’n gelowige soveel krag het, verduidelik Jakobus aan die hand van die voorbeeld van Elia (5:17): Elía was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Wat was so besonders aan die gebed van Elia? Hoekom het dit soveel krag gehad? Die antwoord is: Omdat Elia hom in sy gebed op God se eie Woord beroep het (vgl Deut:28:23-24).
In Psalm 6 vers 9 kry ons ’n ommekeer in die Psalm. Driemaal sê Dawid dat die HERE sy gebed verhoor het: … die HERE het die stem van my geween gehoor. Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan.
Hoe het Dawid geweet dat die HERE sy gebed verhoor het? Hoe kon hy so seker wees daarvan? Het ’n profeet dit vir hom gesê?
Ons sal die antwoord moet gaan soek in die Psalm self, in vers 1 tot 8. Dawid se gebed was naamlik soos die gebed van Elia ’n steun op die HERE se eie Beloftewoord. Ook Dawid het hom op die HERE se eie Woord beroep. In vers 5 byvoorbeeld beroep hy hom op die HERE se goedertierenheid, sy genadige verbondsliefde en trou. So het God Hom immers aan Moses en aan Dawid self geopenbaar: as HERE wat goedertieren, vol van genadige verbondsliefde en trou is (Eks 34:6-7. Sien ook 2 Samuel 7:15 en 22:51).
Omdat Dawid hom met ’n opregte hart beroep het op God se eie Beloftewoord van genade en goedertierenheid, was hy seker van verhoring. Die sekerheid lê in die seun op die Woord alleen. Dit maak Dawid se gebed ’n vurige, ernstige gebed, soos Jakobus die gebed van Elia beskryf.
Onlangse Kommentaar