(32) Die Psalms van Christus
Psalm 6 (7): ’n vloeistofgebed, maar nie krokkediltrane nie
In Psalm 6 word daar gehuil. Ek is moeg van my gesug, huil Dawid. Elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane. My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders.
Daar word so gehuil, dat Spurgeon praat van ’n vloeistofgebed, ’n gebed van trane.
Meermale in die Bybel gaan die twee saam: gebed en trane.
Oor verskillende sake word daar in die gebed gehuil. Dawid huil oor die toorn van God; die digter van Psalm 42 (v 4) stort trane, omdat sy vyande spottend vir hom vra waar sy God nou is; en Hannah ween in haar gebed, omdat sy geen kind het nie (1 Samuel 1:10).
Gebed en trane sien ons ook by ons Here Jesus Christus. Hebreërs 5:7 skryf dat Christus in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs.
Die HERE is nie doof en blind vir ons trane nie. Inteendeel, in Psalm 56:9 sê Dawid: U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?
Nou moet ons nie dink dat ons trane’n vloeistofoffer is, waardeur ons gered word nie. Wel word ons gered deur die gebed en trane en bloed van ons Middelaar.
Vanselfsprekend mag ons trane in ons gebed nie krokkediltrane wees nie. Dit moet opkom uit ’n gelowige hart. So moet daar ook ’n hartlike droefheid oor ons sonde en oor die toorn van God wees.
Onlangse Kommentaar