(33) Die Psalms van Christus
Psalm 9 (1): Die Naam is die inhoud van Psalm 9 en van die hele Bybel
In Psalm 9 hoor ons tweemaal die woord Naam: ek wil psalmsing tot eer van u Naam, o Allerhoogste, (Ps 9:3); hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE! (Ps 9:11)
Die woordjie Naam vat die kern van Psalm 9 saam. Dit gaan in hierdie Psalm oor die Naam.Trouens die inhoud van die hele Bybel is die Naam van God. Die Bybel is die boek oor die Naam van God. Daarmee is gesê hoe belangrik die woord Naam is en dat u beslis moet weet wat die Bybel met Naam bedoel.
Juis in verband met die woord Naam en die verklaring van Psalm 9 wil ek julle in hierdie dagstuk wys hoe belangrik dit is om ’n woord en ’n Psalm in hulle verband te sien. Daar is ’n besondere samehang, ’n besonder verband tussen die Psalms. Die Psalms is nie sommer net so op een hoop, ongeordend, bymekaar gegooi nie. Die een Psalm hang met die volgende en die vorige saam en en elke Psalm is deel van die groter geheel van die Psalms.
Om daarom ’n woord en ’n Psalm reg te verstaan en te kan verklaar, is dit absoluut nodig om met hierdie verband rekening te hou.
Wie ’n konkordansie raadpleeg, sal sien dat daar verskeie kere in diePsalms van die Naam gepraat word. Ek gaan my egter beperk tot drie Psalms: Psalm 7, 8 en 9. Aan die hand van hierdie drie Psalms wil ek wys hoe belangrik die samehang van die Psalms is vir die uitleg van die Psalms en hoe ’n woord soos Naam duidelik word as jy die samehang in ag neem.
Psalm 7 eindig met die woorde: Ek wil die HERE loof na sy geregtigheid en die Naam van die HERE, die Allerhoogste, psalmsing. (v 18) Dit wíl hy doen en dit doen hy dan ook inderdaad in die volgende twee Psalms: lofprysing van die Naam van die HERE. Sowel Psalm 8 as Psalm 9 gaan oor die lofsing van die Naam van die HERE. Hoor maar:
- Psalm 8:2: o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!
- Psalm 9:3: ek wil psalmsing tot eer van u Naam, o Allerhoogste.
Hoe lofsing hy die Naam van die HERE? Deur te sing oor die HERE se dade:
- Psalm 8 lofsing oor die daad van HERE se skepping. As klimaks lofsing hy in 5 tot 9 oor die skepping van die mens.
- Psalm 9 is ’n lofsang oor ’n daad van die HERE se verlossing. Die HERE het opgestaan as Regter-Redder en sy volk van die vyand verlos.
Hierdie twee Psalms spel die HERE se Naam vir ons uit. Ons sien sy Naam in sy dade. In sy daad van Skepping en in sy daad van Verlossing leer ons sy Naam ken.
Kom ek stel dit so: As jy sing oor die HERE se Skeppingsdade en Verlossingsdade, dan is jy besig met die lofsing van sy Naam.
Dit is die hart van Christus se Psalms: lofprysing van God se dade. Ons sien sy Naam in sy dade. Dit moet die inhoud van al ons lofliedere wees: die daad van die skepping, die daad van die kruis, die daad van die opstanding, ensovoorts.
Onlangse Kommentaar