(34) Die Psalms van Christus
Psalm 9 (2): Die Naam, die Onse Vader en ons Kategismus
Dit is wonderlik hoe die Here ’n mens se pad lei ook in die verklaring van die Heilige Skrif.
Tans is ons mos besig met die Naam van die Here in die Psalms en die betekenis daarvan en ons het gesien: God openbaar sy Naam in sy werke of dade. Wie met die Here se dade besig is, is besig met sy Naam en wie sy dade verkondig, is besig met lofprysing van die Naam van die Here.
En die afgelope Sondag was ek juis met my katkisante besig met die Onse Vader en spesifiek die eerste bede: Laat U Naam geheilig word (HK 47:122). Die bede het ek behandel aan die hand van ons Heidelbergse Kategismus. En daar, in ons eeue oue geloofsbelydenis, kry ek toe presies die verklaring van God se Naam soos die Psalms dit verklaar. Die Kategismus verklaar naamlik die bede Laat u Naam geheilig word so: Gee ons eerstelik, dat ons U reg ken en U in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid helder skyn, mag heilig, roem en prys; dan ook dat ons ons hele lewe, ons gedagtes, woorde en werke so skik en rig dat u Naam om ons ontwil nie gelaster word nie, maar geëer en geprys word.
Het julle dit goed gehoor? As ons God reg ken en Hom in al sy werke (dade) heilig, roem en prys, dan is ons besig met die heiliging van God se Naam. In al sy werke (dade) skitter en straal sy almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid ons toe.
Ek wil graag twee dinge in verband met ons belydenis uitlig:
- In die eerste plek is dit duidelik dat ons Heildelbergse Kategismus die Skrif geken en nagespreek het.
- Tweedens leer ons hoe belangrik die belydenis is: Ek glo aan die gemeenskap van die heiliges. Die manne van Heidelberg is deel van daardie gemeenskap van die heiliges en gemeenskap van die heiliges beteken: Ons het deel aan en ons moet gebruik maak van die Geestesgawes, wat God aan hulle gegee het. Die Heilige Gees het hulle deel van die liggaam van Christus gemaak, ’n deel van die liggaam, wat ons nie kan mis nie. Wie by hulle verbyloop, stap by die Heilige Gees self verby. Die Heilige Gees het hulle onmisbare gawes gegee.
Wat ’n mooi verklaring het ons nie van die Naam van die Here in hierdie uitleg van ons belydenis nie!
In al die werke van die Here sien ons u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid helder skyn. Dit is kennis van die Naam: kennis van sy almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid.
Onlangse Kommentaar