(35) Die Psalms van Christus
Psalm 9 (3): Lofprysing is om te vertel van die HERE se wonderdade
Psalm 9 se eerste gedeelte (vv 1-13) is ’n lofprysing. Dit is is ’n loflied, ‘n lofprysing van die HERE se Naam, sy dade.
In vers 4 gee Dawid die rede (omdat) vir sy lofprysing: omdat my vyande agteruitwyk, struikel en omkom van voor u aangesig.
Die woorde van voor u aangesig is baie belangrik. Dit beteken: Hy het in sy heerlikheid verskyn. In vers 5 en verder word presies gesê wat hierdie verskyning beteken: Die HERE het op die troon gaan sit as Regter; Hy het die vyand laat omkom; Hy hulle naam uitgedelg vir ewig en altyd.
- Vir gelowiges beteken die verskyning van die HERE (die voor u aangesig) verlossing, vreugde.
- Vir die vyande van God en sy volk daarenteen beteken die voor u aangesig oordeel en straf.
In antwoord op die heerlike uitredding deur die HERE dig Dawid hierdie loflied.
Nou weet u sekerlik: Dawid was ‘n groot generaal. Hy was ‘n krygsman by uitnemendheid. Wat egter opval in hierdie Psalm, is dat wat Dawid in die oorlog gedoen het, nie eens genoem word nie. Menslike krygsvernuf kom nie ter sprake nie. Vir die Psalmdigter is die oorwinning van die HERE alleen. Dit is Hy alleen wat sy volk verlos het. Daarom prys Dawid Hom alleen.
In die Psalm kan ons presies sien wat lofprysing is: om te vertel van die dade van God. In vers 2 spel Dawid dit vir ons uit: Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel. Die betekenis van die woord wonders is: dade, werke, wat net die HERE alleen kan doen. Wonders is dade wat bo die normale, bo die menslik moontlike uitgaan. Met wonders word bedoel die HERE se magtige dade in die skepping en in die heilsgeskiedenis. Hy alleen doen wonders (Ps 72:18).
Uit Psalm 9 is dit duidelik dat dit die wil van die HERE is dat ons sal vertel van sy dade. Hy eis van ons lofprysing vir sy wonders.
In U wil ek bly wees en juig, sê Dawid (v 3). Die HERE en sy dade maak ons bly en laat ons juig. Lofprysing gaan gepaard met blydskap en gejuig. Daarvan weet die Nuwe Testament ook: Verbly julle altyd in die Here … Die Here is naby. (Fil 4:4-5) Die woord evangelie beteken blye boodskap. Dit is ook nie ’n wonder nie. Die dade van God in sy Seun is die grootste blydskap denkbaar. Daarop kan daar net een reaksie wees: lofprysing – oorvertel, uitbasuin.
In die lofprysing gaan dit oor die eer van die HERE: Ek wil psalmsing tot eer van u Naam. (v 3)
In vers 12 kom Dawid weer terug op die lofprysing, die eer van die HERE en die verkondiging van sy dade: Psalmsing tot eer van die Here wat op Sion woon; verkondig onder die volke sy dade. Die woord verkondig het te make met die vertel van iets wat nog nie bekend was nie. Die dade van die Here moet onder al die nasies bekendgemaak word; die woord dade van vers 12 beteken dade wat gedug en ontsagwekkend is (Ps 66:5; Psa 105:1).
In vers 15 beskryf Dawid die dade van die HERE met ’n woord wat beteken: roemryke dade. God word in sy dade geroem en grootgemaak. Sy dade loof Hom.
God se grootste werk, sy genadige verlossing van sy volk en die regverdigmaking deur die geloof alleen (Ps 40:6), moet bekendgemaak word aan al die nasies (Ps 22:31; Jes 48:20; Jes 66:19; vgl Mt 28:18 ev).
Onlangse Kommentaar