(36) Die Psalms van Christus
Psalm 9 (4): die evangelie die wonder van alle wonders van die HERE
Psalm 9 se eerste gedeelte (vv 1-13) is ’n lofprysing. Lofprysing is om te vertel van God se wonders, sy dade.
Vandag gaan dit oor die grootste wonder, die heerlikste daad van die HERE: die wonder van die evangelie. Die evangelie is die wonder van alle wonders van die HERE.
In Psalm 118:21-23 kry ons ook die woord wonder of wonderbaar van Psalm 9. In Psalm 118:21-23 lees ons naamlik: Ek wil U loof, omdat U my verhoor het en my tot heil geword het. Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword. Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë.
Dit (die hoeksteen) is wonderbaar in ons oë. Die toeskouers beskou die hoeksteen as wonderbaar. Met wonderbaar bedoel hulle: Hulle sien die hoeksteen as God se werk. Die Psalmdigter sê dit baie uitdruklik: Dit (die hoeksteen) het van die HERE gekom. Dit wil sê: Die hoeksteen is sy daad; dit is iets wat net Hy kan doen; dit is dus ’n wonder. Juis daarom sê die Psalmdigter ook: die heil, die verlossing wat geopenbaar word in die hoeksteen, is wonderbaar in ons oë. Die hoeksteen-daad is uitsluitlik en alleen Gods-daad, Gods-wonder.
Die hoeksteen is alles bepalend en alles beslissend vir ‘n gebou: Dit bepaal die stewigheid van fondament en gebou. As die hoeksteen nie daar is nie of nie goed is nie, sal die hele gebou ’n mislukking wees.
Op die hoeksteen verrys die tempel. Sonder God se wonderdaad van die gee en die lê van die hoeksteen sou daar geen Nuwe Testamentiese tempel (kerk), geen geredde volk van God wees nie.
In die Nuwe Testament word Psalm 118 op ons Here Jesus Christus en sy verlossing toegepas. Gaan lees maar Matteus 21:42, Markus 12:10-11, Lukas 20:17, Handelinge 4:11, Efesiërs 2:20-22 en 1Petrus 2:4-8. Ons Here Jesus Christus is die hoeksteen van God en deur God gegee.
Uit Handelinge 4:10 is dit duidelik dar Christus deur sy kruis en opstanding ons hoeksteen is.
Oor hierdie daad, hierdie hoeksteen-wonder, lofprys die Psalmdigter die HERE: Ek wil U loof, omdat U my verhoor het en my tot heil (verlossing) geword het. (Ps 118:21).
Onlangse Kommentaar