(37) Die Psalms van Christus
Psalm 9 (5): Kennis van die Naam en vertroue
In die middel van hierdie loflied verklaar Dawid: Hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE! (9:11)
Wat bedoel Dawid met die ken van die Naam van die HERE? Beteken dit dat ons moet weet hoe om daardie Naam te spel? Nee, dit gaan om veel meer. Om sy Naam te ken, beteken: om te weet Wie en Wat die HERE vir sy kerkvolk is. Ons leer sy Naam ken in sy werke, in sy dade, in dit wat Hy doen vir sy kinders om hulle te verlos en te bewaar.
Uit die geskiedenis wat Dawid in vv.4-7 beskrywe het die koning-digter en sy volksgenote die Naam van die HERE leer ken. Hulle het sy Naam hierin , in hierdie historiese daad, leer ken dat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE! Hulle het die HERE in hulle nood gesoek in die gebed. Die geskiedenis toe die HERE hulle bevry het van die vyand – dit was vir Dawid en sy mense ‘n leerskool dat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!. Uit daardie gebeure in die geskiedenis het hulle die Naam van die HERE leer spel: sy Naam is Verlosser van sy kerk, Redder van sy volk, Hoorder van hulle gebede. So het die HERE sy Naam kenbaar gemaak aan sy kerk.
Maar daar eindig die boek van die geskiedenis, die boek van God se dade, nie. Nog heerliker het God sy Naam bekendgemaak in die geskiedenis van Christus.
In Johannes 17:6 sê Jesus: (Vader) Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. (vgl Joh 17:26). In die dade van Jesus is die Naam van die Vader aan ons bekendgemaak. In die dade Christus se kruis en opstanding leer ons die Vader-Naam ken en leer ons wat ’n Vader ons het. In die geskiedenis van Christus word aan ons aangaande ons Vader geopenbaar: Want so lief het God (die Vader) die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Joh 3:16)
- Die wat in die Naam van Jesus glo ………..
- vertrou
Interessant dat ook ons Kategismus die woord ken gebruik: Gee ons eerstelik, dat ons U reg ken en U in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid helder skyn, mag heilig, roem en prys (HK 47:122).
Wat sien ons van die HERE in sy werke: In sy werke, in sy dade, skyn sy almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid helder.
Onlangse Kommentaar