(38) Die Psalms van Christus
Psalm 9 (6): Kennis van die Naam en gebedsvertroue
Psalm 9 bestaan uit twee dele: ’n loflied (vv 1-13) en ’n gebed (vv 14-21).
Die twee dele hang egter ten nouste saam: deel een is ’n loflied op God se dade en God se dade in deel een gee Dawid gebedsvertroue. Hy ken die HERE uit die geskiedenis, uit sy dade en dit gee hom vertroue om in die huidige nood tot die HERE te bid.
In deel een prys hy die HERE se dade en in deel twee bid Dawid met ’n beroep op God se dade in die verlede om die HERE se verlossing in die hede.
In vers 14 en 15 weerklink die dade deur in die gebed: Wees my genadig, Here, aanskou my ellende vanweë my haters, U wat my verhef uit die poorte van die dood; sodat ek al u roemryke dade kan vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil.
In vers 15 laat hy hoor wat die bedoeling van sy gebed is, waarop dit gemik is: lofprysing. Hy bid om verlosssing van die dood, sodat ek al u roemryke dade kan vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil.
Dawid se gebed is een groot lofprysing. Daarom is ook deel twee van die Psalm ‘n loflied tot eer van God. Om te erken dat alleen die dade van die HERE ons red en om te roep om daardie dade – dit is lofprysing, dit is waaragtige gebed.
In die eerste deel van Psalm 9 sien ons dat God sy Naam bekendmaak deur sy verlossingsdade. In deel twee bid Dawid: Laat u Naam gesien word in u verlossingsdade in antwoord op my gebed.
Onlangse Kommentaar