(39) Die Psalms van Christus
Psalm 9 (7) Die groot Naam teenoor die klein naampie
Ek sit my vandag en verwonder oor die skoonheid van die Bybelse digkuns. Om dit meer presies te sê: die Kuns van die groot Psalmkunstenaar, ons Here Jesus Christus.
Want het die groot kontras in Psalm 9 u al opgeval? Ek bedoel: die groot God teenoor die klein mensie?
-
Psalm 9 begin met die groot Naam van die HERE: Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel. In U wil ek bly wees en juig; ek wil psalmsing tot eer van u Naam, o Allerhoogste ….(vv 2-3)
Hoor u dit? Die HERE is die Allerhoogste.
Allerhoogste beteken: Hy staan bo alles, Hy het alles in sy hand, Hy kan sy volk red. Die vyand van sy volk deins voor Hom terug.
-
En kyk nou hoe eindig Psalm 9: met die kleinheid en nietigheid van die mens: Staan op, HERE, laat die mens nie sterk word nie; laat die heidene voor u aangesig geoordeel word! o HERE jaag hulle skrik aan; laat die heidene weet, hulle is mense! Sela. (vv 20-21).
Mens – in die Hebreeus druk dit die nietigheid van die mens uit. Hoor u dit? Die mens is maar net mens, nietigheid, niks teenoor die Allerhoogste.
Psalm 9 begin met ’n jubeling oor die groot Naam van God, die God wat wonders doen, dade wat die mens nie kan doen nie. En die Psalm eindig met die kleinheid van die mens, wat teen God niks vermag nie.
Wat ’n troos lê nie daarin opgesluit vir die gelowiges vandag nie. Ons kan ons so blindstaar teen mensies en menslike magte, maar Psalm 9 leer ons: ons HERE staan bo alles, ook die mensies wat die kerk vandag bedreig.
Ek hoef nie bang te wees nie. My HERE is die Allerhoogste. Dit maak die digter van Psalm 9 so bly. Dit laat hom jubel.
Hoe moet ons Here Jesus Christus se Naam ons nie verbly nie: Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! (Fil.4:4) En: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. (Mt 28:18)
Onlangse Kommentaar