(41) Die Psalms van Christus
Psalm 11 (2): Geloof in die krisis
Dawid se vriende se raad is gerig op die aksie wat die mens moet neem in die krisis: vlug, red jouself, help jouself. Die mens is van nature lid van die klub “Help jouself”.
Daarteenoor is Dawid se reaksie ‘n geloofsbelydenis: By die HERE skuil ek (v 1). Dit is ook vlug, maar dan vlug na die HERE toe, na die enigste Helper in die nood. Dit is wat ware geloof inderdaad is: heeltemal afsien van jouself en opsien na die HERE alleen. In teenstelling met sy vriende het Dawid geglo: Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou. (Ps. 118:8)
Let op dat die Naam HERE voorop staan: By die HÉRE skuil ek (v 1). Die Naam HERE kry die nadruk. Dit gaan oor Hom in Psalm 11.
In die woordjie skuil lê die gedagte van eie onvermoë en van die HERE se alvermoë. Skuil by Hom hou ook in: om op Hom te vertrou. Vertrou is ook toe-vertrou, om jou aan Hom toe te vertrou.
Ek gee my gees oor in u hande,
my Redder, wat my trou
in veil’ge hoede hou. (Ps 31:3 – Totius-beryming)
Die woordjie skuil is ‘n sentrale woord in die Psalms. Dit is een van die groot temas in die Psalmboek. Dit word reeds aangekondig in die inleidende Psalm, Psalm 2: Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil! (v 12) Die Hom is Christus. Wie by Hom skuil, is welgeluksalig of geseënd.
Skuil word vier-en – twintig maal in die Psalms gebruik ( Pss 2:12; 5:12; 7:2; 11:1; 16:1; 17:7; 18:3, 31; 25:20; 31:2,20; 34:9, 23; 36:8; 37:40; 57:2; 64:11; 71:1; 91:4; 118:8, 9; 141:8; 143:9; 144:2). Daarby kom nog ander woorde soos skuilplek. Skuil word ook dikwels saam met woorde soos skild, rots en bergvesting gebruik: die HERE is ons skild, ons rots, ons bergvesting.
Om by die HERE te skuil, beteken om op Hom alleen te vertrou vir verlossing en beskerming. HERE, my God, by U skuil ek; verlos my van al my vervolgers en red my (Ps. 7:2). Hy is ’n skild vir almal wat by Hom skuil. (Ps 18:31)
O neig u oor en red ‘n lyder,
wees my by stormgerug
‘n rots om in te vlug!
Wees my ‘n vesting, o Bevryder,
wat op ‘n berg verhewe,
my veiligheid kan gewe!(Ps 31:2 – Totius-beryming)
In die ware geloof gaan dit nie oor menslike aksies nie, maar vertroue op die aksies van God, sy wonders, sy dade.
Ons hoor Dawid se diepe afkeur van die raad van sy vriend in die woorde: Hoe (hoe op aarde) kan julle dan vir my sê: Vlug … (v 1) Hoe op aarde kan julle dit vir mý sê, vir mý wat die volmaakte, almagtige, algenoegsame Skuilplek het.
Onlangse Kommentaar