(42) Die Psalms van Christus
Psalm 11 (3): Godskennis in die krisis
In vers 1 het Dawid bely: By die HERE skuil ek.
Vanaf vers 4 kry ons ‘n nadere uitwerking van Dawid se geloofsbelydenis: hy vertel meer oor die HERE, wat Hy is en doen vir sy volk in die krisis.
Reeds voorop in Psalm 11:1 hoor ons die Naam HERE. In vers 4 en verder kry ons vier maal die Naam HERE. Telkens is Hy die onderwerp, die handelende. Anders as met die raad van sy vriende (vv 1-3) kom by Dawid net die Naam van die HERE en sy handelinge aan die orde en nie die mens nie. Drie maal staan die Naam HERE met nadruk voorop.
Dawid spel dit in vers 4 tot 7 uit wat dit beteken om by die HERE te skuil: wat Hy doen vir die gelowiges in die krisis. Ons leer God ken.
Die HERE is in sy heilige paleis. Dit wil sê: Hy is in Jerusalem in sy tempel, Dit beteken: Hy is midde-in die krisis en by sy volk in die krisis.
Maar nie alleen is Hy bý ons in die krisis nie. Hy staan ook bó die krisis: Die troon van die HERE is in die hemel. Dit hou in: Hy staan bo alles, ook bokant die krisis, en Hy heers oor alles.
Dat Hy in sy tempel is en in die hemel troon, beteken nie dat Hy niks doen nie. Inteendeel: sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. By die woorde ooglede kan ons dink aan die trek van die oë op skrefies om skerper te sien. Die HERE neem regverdiges en goddelose noukeurig waar en Hy sien wat in elkeen is: opregtheid of goddeloosheid.
En sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Die haat sal nie sonder daad bly nie, maar Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën. Dit is ‘n sinspeling op God se gerig oor Sodom en Gomorra. Die krisisstigters en revolusionêres, die fondamentomgooiers, die haters van die evangelie, moet weet dat hulle met vuur speel.
Ons moet Psalm 11 lees in die lig van Psalm 2. Die konings en volke bedink revolusie teen die HERE en sy Gesalfde (vv 2-3), maar dit is nietige dinge, dinge of planne wat op niks uitloop nie (v 1). Die HERE lag vir hulle en sy toorn ontbrand teen hulle (vv 3-4). In Psalm 11 gaan dit om dieselfde krisis as die in Psalm 2: opstand teen God en Christus en sy evangelie.
By hierdie Psalm moet ons dink aan Matteus 28: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. … En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. Hy is met ons in die krisis – met al sy mag. Weet dit daarom: By Hom kan jy gaan skuil; dis die moeite werd. Op Pinksterdag het Hy in ons kom woon deur sy Gees, so naby, so midde-in die krisis.
Nooit gaan gelowiges ‘n landskrisis en kerkkrisis en samelewingskrisis alleen binne nie.
Onlangse Kommentaar