(43) Die Psalms van Christus
Psalm 11 (4): Sekerheid in die krisis
Dit is so heerlik om te weet: die HERE is by my in die krisis is, Hy, my Vader, die Almagtige. Dit is ook so ontsaglik troosryk om weet: Hy regeer en Hy staan bokant die krisis .
Maar ag, soms twyfel ons so daaraan en en is ons geloof so vreeslik klein.
In ons swak geloof kom die HERE ons nou te hulp met die woorde van vers 7: Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief. Jy kan seker wees dat die HERE daar is, want …. Want – en dan volg die grond van ons sekerheid van God se woord in vers 4-6: … Want die HERE is regverdig. Dat die HERE regverdig is, kan ons ook so vertaal: … die HERE is getrou. Regverdig spreek van sy verbondstrou, Hy is getrou aan al die woorde van sy verbond, ook die verbondswoorde van vers 4 tot 6. Ons hoef nooit te twyfel daaraan of die almagtige, getroue Verbondsgod by ons is in die krisis nie en dat Hy die vyande van sy uitverkorenes sal tref met sy gerig nie.
Hoor hoe mooi verwoord Psalm 97 vers 1 en 6 (Totius-beryming) dit:
God heers as hoogste HEER
……
Hy is sy volk geneë
en sal in doodsgevaar
sy gunsgenoot bewaar;
Hy red hom van die hand
wat dreig van alle kant,
van die geweldenaar.
In ons Heidelbergse Kategismus 10:28 bely ons: Ons moet … ‘n vaste vertroue stel op ons getroue God en Vader, dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie. Die krisismakertjies, skepseltjies, is in sy hand.
En dan vervolg Dawid die want, die rede vir ons sekerheid dat die HERE daar is, met die woorde: Hy het geregtighede lief. Hierdie geregtigheid kan ons weer vertaal met verbondstrou en hier gaan dit oor die verbondstrou, die werke van sy kinders.
Maar ons moet die woord geregtighede nader verklaar,. Want op onsself is ons vol ongeregtighede. Daarom: dit gaan nie oor ons geregtighede nie, maar oor Christus se geregtighede in ons. Die Vader sien die werke (geregtigheid) van sy Seun in ons en Hy het die werke van sy Seun lief. Ja, Christus en sy werke gee ons sekerheid in die krisis: dat die HERE by ons is en ons lief het. Sy geregtighede word ons toegereken; sy geregtighede bedek al ons ongeregtighede. Van Christus word in Jeremia 23:6 gesê: dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.
Van die goddelose sê vers 5: die HERE haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Van die gelowige daarenteen kan ons op grond van vers 7 sê: die HERE het die regverdiges lief. In Psalm 146:8 staan dit letterlik: die HERE het die regverdiges lief.
Onlangse Kommentaar