(44) Die Psalms van Christus
Psalm 11 (5): Om God se aangesig te sien in die krisis
God se gesig straal ons toe in die krisis: Die opregtes sal sy aangesig sien, sê vers 7.
Wat word bedoel met die HERE se aangesig? Ons ken die uitdrukking ook in Afrikaans. Ons sê: Jy kan dit op sy gesig sien; dit staan op sy gesig geskryf; sy gesig is bewolk, ens. Ons kan maar sê: ’n Mens se gesig sê wat in jou hart omgaan; dit openbaar wat in jou omgaan.
God se aangesig is God se openbaring: In sy aangesig openbaar Hy Hom aan ons. As Hy sy aangesig vir ons verberg, is Hy toornig op ons; as Hy sy aangesig oor ons laat skyn, beteken dit vrede, die heerlike vrede van die Evangelie.
Die hoëpriesterlike seën van Numeri 6:23-27 is ‘n kommentaar op die openbaring van God se aangesig: Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën deur vir hulle te sê: Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën.
Die Bybel is die HERE se aangesig. In Christus sien ons die aangesig van die Vader. Lees maar 2 Korintiërs 4:6: Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.
In Johannes 14:9 sê Jesus vir Filippus: Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. In die werk van Christus, in sy kruis en opstanding en koningsheerskappy, straal God se aangesig ons toe.
Ons hoef nie ver te soek in Psalm 11 om ‘n verklaring vir die woorde die opregtes sal sy aangesig sien te kry nie. Vers 4 tot 7 laat ons die aangesig van die HERE sien: sy almagtige heerskappy, sy liefde vir sy volk, sy haat van die goddelose.
Psalm 97:7 (beryming) beskryf die wonder van God se heerskappy en aangesig so heerlik mooi:
Gods vriend’like=aangesig
straal vrolikheid en lig
deur duisternis en smarte
vir alle=opregte harte.
Regverdiges, wees bly!
En sing ‘n lied daarby!
Verheug u in die HEER!
Lofsing sy Naam tot eer,
Hy’s hoog en heilig, Hy!
In Psalm 27 (4, 8, 9) skryf Dawid: Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel. …. Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o HERE! Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil!
Die HERE se aangesig bring bevryding en vrede in die krisis – sy openbaring verlig ons. Dit is duidelik uit die priesterlike seën van Numeri 6: 22-27.
Van die gelowiges word verskillende dinge in die Nuwe Testament geskryf oor die vervulling van die sien van die HERE se aangesig. So spreek Jesus die gelowiges salig, geseënd: Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Hulle sal God se volle, heerlike openbaring sien. Nou is daar nog beperkings in die openbaring wat ons aanskou: Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. (1 Kor 13:12) In die vervulde paradys-tempel-stad sal hulle die Lam voluit sien, dit wil sê sy volle openbaring: En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees (Opb 22:4). En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid. (Opb 22:5)
Die Vader openbaar Homself, onthul Homself deur die Lam wat Hy om ons ontwil geslag het. Groter lig en heerliker kennis van die heerlikheid van God is daar nie.
Onlangse Kommentaar