(45) Die Psalms van Christus
Psalm 11 (6): Die onomgooibare fondament in die krisis
Ek wil hierdie oordenkings oor Psalm 11 afsluit deur weer stil te staan by vers 3, daardie ongeloofswoorde van Dawid se raadgewers: As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?
In die rewolusie van Absalom het Dawid se vriende dit ervaar as sou die fondamente van die koninkryk van Dawid omvergegooi word. En ons het gehoor: Dawid, die gesalfde koning van die HERE, beeld die groot Gesalfde, ons Here Jesus Christus, af. Dit beteken: die Evangelie, die Woord, is in gedrang.
Maar kan die Woord, die Evangelie, die heerskappy van Christus onderstebo gekeer word?Vers 4 tot 7 leer ons die teendeel: Die HERE staan bo die krisis, bo-kant die fondamentbestormers. Hulle kan die fondamente nie omgooi nie. Immers, die HERE se koningsheerskappy, die fondament van sy Woord, die fondasie van sy Evangelie, staan onwrikbaar vas.
Reeds in Psalm 2 is verklaar dat hierdie revolusionêres, hierdie fondamentbestormers, se opstand op niks (= nietige dinge) uitloop nie: Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg …
… die opstandelinge sien ook ‘n aangesig, maar ‘n aangesig wat toornig is, wat hulle uitlag.
Die fondamente kán níe omgegooi word nie! Hoekom is ons as gelowiges dan so bang dat die Woord, dat die kerk omgegooi en vernietig sal word. Christus het tog in Matteus 16:18 gesê sy kerk is op hierdie rotsfondament gebou: U is die Christus, die Seun van die lewende God …en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Onlangse Kommentaar