Ons as gelowiges ontvang van die HERE die mooiste beloftes denkbaar. In sy verbond beloof Hy aan ons: Hy wil ons as Vader versorg, Hy sal met ons wees, Hy sal ons verlos deur sy Seun en Hy wil in ons werk deur sy Heilige Gees. Dit is inderdaad ‘n rykdom wat die HERE aan ons beloof!
En tog, en tog – dikwels voel kinders van God: ja, daar is wel baie aan ons beloof, maar ons sien niks daarvan nie. Soms voel dit asof die Here glad nie daar is nie; soms dink ons dat Hy ons vergeet het. So voel ‘n mens maklik, veral as ‘n beproewing lank duur, ‘n siekte wat maar nie wil opklaar nie, of swaar probleme waaraan daar skynbaar geen einde kom nie. So voel vele ook ten opsigte van die agteruitgang in die kerk: dit lyk asof die duiwel maar sy gang kan gaan en die kerk tot in sy fondamente kan afbreek … en van die Here se belofte dat Hy sy kerk sal red en bewaar, sien ons op die oog af niks nie.
Onder sulke druk en nood lyk dit asof die vervulling van God se beloftes agterweë bly, sodat ons dit dikwels uit wil roep: hoe lank? Hoe lank, Here, moet dit nog duur? Wanneer sal u dan ingryp, HERE? Of … of het U ons miskien vergeet?
Ons klag het ‘n baie definitiewe adres: ons lê ons klagtes gelowig aan God voor.
In hierdie verband kan ons baie leer uit ons voorgelese Psalm.
Ons hoor in Psalm 13:
- ‘n Klaaglied (vv 2-3); dan
- ‘n gebed (vv4-6a); en daarop
- ‘n lofsang (v 6b).
Dit wil ek graag met julle in die volgende dagstukke behandel.
By voorbaat wil ek wel sê wat ‘n belangrike rol gebed in hierdie Psalm speel. Die gebed bring die digter van klaaglied tot lofsang sélfs midde-in die nag, sélfs al het die dag nog nie gebreek nie.
Die beweging van klag tot lof kry ons in al die klaagpsalms. Die Psalmboek in die geheel met sy talle klaagpsalms loop uit op lofsang in Psalm 146 tot 150.
Onlangse Kommentaar