(47) Die Psalms van Christus
Psalm 13 (1): Klaaglied by die skynbare uitbly van die HERE se beloftes
Die klaaglied strek van vers 2 tot 3.
Maar eers iets oor Psalm 13 se agtergrond. Dan sal u weet hoekom Dawid so klaag. U weet dat Dawid deur die HERE gesalf is. Daarmee het die HERE hom belowe: Hy sal koning word oor Israel in die plek van Saul. Saul het te wete gekom en Dawid moes vlug vir sy lewe. Saul het hom agtervolg soos ‘n man ‘n patrys in die berge jag ( 1 Sam.26:20). En hoe lank het dit nie geduur nie! Jaar in en jaar uit. Dit het gelyk asof daar nooit ‘n einde aan sou kom nie. Dit het gelyk asof God se belofte aan Dawid dat hy koning sou word, nooit bewaarheid sou word nie.
Teen hierdie agtergond moet ons Dawid se klag verstaan: hoe lank?
Viermaal weerklink die klag: hoe lank? Viermaal – om die intensiteit, die swaar van Dawid se smart uit te druk. Wanneer, sê Dawid daarmee, wanneer, HERE, sal daar ‘n einde aan kom aan hierdie skynbaar nimmer eindigende beproewing? Dit hoor ons ook in Dawid se altyddeur: Hoe lank, HERE, sal U my altyddeur vergeet?
Wanneer ‘n beproewing lank duur, dan word dit des te swaarder. Dit het u sekerlik ook al ervaar.
Die vergeet moet ons sien in verband met die HERE se beloftes aan Dawid. Op die oog af het dit gelyk asof die HERE sy beloftes aan hom vergeet het. Hy moes al maar deur vlug, vlug, vlug.
Vir Dawid het dit gevoel asof die HERE nie aan hom dink nie. Daaroor kla hy: Hoe lank, HERE, sal U my altyddeur vergeet? Vergeet is die teenoorgestelde van dink aan. As daar in die Bybel staan dat die HERE aan sy volk dink, beteken dit: Die HERE dink aan sy beloftes en Hy laat dit in vervulling gaan. Maar Dawid het gevoel: die HERE het vergeet van sy beloftes aan hom.
Dit was vir hom asof die HERE sy aangesig vir Hom verberg het, dit wil sê: asof die HERE nie na hom kyk en nie na hom omsien nie.
Ons moet hierdie klaaglied van vers 2 tot 3 reg verstaan. Dit het niks te make met ‘n ongelowige, opstandige gemor nie. Dit sien ons juis in die feit dat hy daarmee na die HERE gaan. Hy lê sy nood en sy vrae aan die HERE voor. Calvyn sê: Selfs in Dawid se smartkreet is sy geloof nog aanwesig.
Dit hou vir ons ‘n groot, ‘n troosryke les in: Ons mág na die Here toe gaan met daardie beproewing wat so lank duur. Ons mág dit aan die Here voorlê. Ons mág roep: Here, hoe lank nog? Ons mág vra: Waar bly tog u beloftes ?
Ja, ons mág so roep. Want ons hoor dieselfde hoe-lank-Here tot selfs in die hemel weerklink. Want in Openbaring sien Johannes onder die altaar die siele van die gelowiges wat gedood is ter wille van die woord van God. En dan hoor Johannes hoe hulle het met ‘n groot stem uitgeroep: Hoe lank – hoe lank – , o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?
Dawid roep: Hoe lank? Maar by die klag bly dit nie. In vers 4 tot 6a gaan die klag oor in ‘n gebed. Daaroor ‘n volgende keer.
Onlangse Kommentaar