(48) Psalms van Christus
Psalm 13 (2): Gebed en beproewing
In vers 4 tot 6a gaan die klag oor in ‘n gebed. Dawid bid: 2.2. Dawid bid:Aanskou tog, verhoor my, HERE, my God.
Aanskou tog, sien tog, kyk tog – Dit is die teenoorgestelde daarvan dat die HERE sy aangesig vir ons verberg. As die HERE sy aangesig verberg, beteken dit: Die HERE kyk nie na ons nie, Hy sien nie om na ons nie. Vandaar die gebedsroep van Dawid: Aanskou tog, verhoor my, HERE, my God. Wil u tog na my omsien, wil U U beloftes aan my vervul.
Dit is ‘n baie besondere gebed. Dit is ‘n gebed tot oorlopens toe vol van geloofsvertroue. Dit hoor ons al in die manier waarop hy God aanspreek: HERE, my God! Die Naam HERE met vier hoofletters geskryf, is God se verbondsnaam. Die Naam spreek van sy verbond en verbondstrou. Die Naam sê: Ek is getrou om my verbondsbeloftes aan jou waar te maak.
En nou spreek Dawid Hom nie maar net aan as HERE nie, maar as HERE mý God.
So mag ons God ook met soveel vertroue aanspreek as óns Vader. Met soveel kinderlike vertroue. En dan moet ons dink aan die uur van ons doop: Toe het God sy Vader-Naam op ons gelê het. Toe het Hy met sy daad van die doop aan ons gesê: As ons in die Naam van die Vader gedoop word, betuig en verseël die Vader aan ons dat Hy ‘n ewige genadeverbond met ons oprig, ons tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik. Daarom mag u Hom met soveel kinderlike sekerheid in die nood van u lewe aanspreek as: óns Vader, mý Vader. Mý Vader, wat na my sal kyk, want Hy het dit tog beloof.
Hoor ook maar die gebedssekerheid van Dawid in vers 6: Maar ék – … my hart sál juig oor u heil. Oor u verlossing sál ek jubel. Dit is geloof, dit is vertroue dwarsdeur die harde werklikheid heen. Treffend die verandering wat ons kry tussen die klag en die gebed. Eers het Dawid in vers 3 oor sy hart gesê: My hart is vol kommer. Nou verklaar hy: my hart sál juig oor u heil. Ja, die vyand sal nie juig oor sy val nie (v 5), want hy wat Dawid is, sal juig oor die HERE se verlossing (v 6).
Wat maak Dawid dan so vol vertroue dat die HERE hom wel sal verhoor en uiteindelik tog sy beloftes aan hom sal bewaarheid? Die grond vir sy gebedsvertroue kry u in vers 6a: Maar ék, ék – op u goedertierenheid vertrou ek…
Die ék, maar ék staan met nadruk voorop. Die sigbare werklikheid skreeu hom toe: God het jou vergeet. Maar dwars teen die harde werlikheid bid Dawid: Ja, die sigbare werklikheid sê dit, maar ék, ék (wat my betref) – (dwars teen die harde werklikheid in sê ek) op u goedertierenheid vertrou ek…
En daarmee sê Dawid wat die grond van sy vertroue is: u goedertierenheid. Ook dit staan met klem voorop: u goedertierenheid. Daarop steun hy. Die goedertierenheid van die HERE is die onwankelbare fondament van sy gebedsvertroue.
Onlangse Kommentaar