(55) Psalms van Christus
Psalm 16 (2): Wat hierdie allerheerlikste erfenis is
Toe Israel op die punt was om die beloofde land Kanaän binne te gaan, het die HERE self opdrag gegee hoe die land verdeel moes word: elke Israeliet moes ‘n erfdeel of erfenis daarin ontvang. Dit het egter nie sommer willekeurig daaraan toe gegaan nie. Elkeen kon nie maar self kies watter stuk grond hy as erfenis wil hê nie. O nee, die HERE self het elke Israeliet se erfdeel vir hom aangewys. Dit het gebeur deur die lot: die lot is gewerp en so is bepaal watter stuk grond joune is” (Num.33:54-56). Agter die lot het die gelowige Israeliet die hand van die HERE gesien. In Spreuke 16:33 verklaar Salomo dan ook: “In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE”. So het elke Israeliet dus uit die hand van die HERE self sy erfdeel ontvang.
Maar daar was een stam wat in Kanaän geen grond as erfenis ontvang het nie. Dit was die Leviete, die mense wat in die tempel diens moes doen. Vir hulle het God ‘n heel besondere erfdeel gehad. Daarvan lees ons in Deuteronomium 10:9: “die HERE is sy erfdeel, soos die HERE jou God hom beloof het”.
Dit is teen hierdie agtergrond dat u die woorde van Dawid in vers 5 moet lees: “Die HERE is die deel van my erfenis”. Natuurlik was dit heel in die besonder vir die Leviete gesê dat die HERE hulle erfenis is. Dit beteken egter nie dat elke gelowige Israeliet dit nie ook kon sê nie.
En wat ‘n besondere erfenis is dit nie, die HERE self. Dawid kan nie daaroor uitgepraat raak in hierdie Psalm nie. In die tweede vers jubel hy dit uit: “Ek het tot die HERE gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie”. Daarmee verklaar Dawid: watter ander goed hy ook al mag hê, geld, grond, ‘n hoë posisie, of wat ook al, hier is die een ding wat bo alle ander dinge uitgaan: die HERE self, om Hom te mag hê, om te mag weet: Hy is my God. Daar is niks wat kosbaarder of mooier is as dit nie.
Dit is daarom ook geen wonder nie dat Dawid in vers 6 verklaar: “Die meetsnoere – die tou waarmee die erfdeel afgemeet is – dit het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi”.
Inderdaad, wie die HERE het, die is die rykste en die gelukkigste van alle mense. Wie die HERE het, is skatryk, alle is hy miskien in die oë van die mense brandarm. Ja, dan kan dit wees dat ons vele dinge hier moet ontbeer soos gesondheid en geld, maar as ons die HERE maar het, dan het ons alles. Alles wat werklik saakmaak. Alles wat werklik gelukkig maak.
In die res van die Psalm brei Dawid hierop uit. Ons kan ook gerus maar sê: die res van Psalm 16 leer ons wat dit inhou om die HERE self as erfenis te hê. Kom ons kyk daarom oorsigtelik daarna:
- In vers 1 bid hy: “Bewaar my, o God, want by u skuil ek”. Ja, dit was die HERE vir Dawid en vir elke gelowige Israeliet: ‘n Bewaarder. Daarvan was hulle oortuig: nêrens anders was hulle veilig nie as net by God. Maar nêrens anders was hulle ook so veilig as juis by Hom nie. Hier is nou ‘n Bewaarder wat ons kan beskerm teen die grootste mag denkbaar. Geen vyand wat sy kerk bedreig, is te sterk vir Hom nie. Geen duiwel, geen sondemag nie. “Omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie”, verklaar Dawid. O, daardie wete, die HERE aan sy regterhand, dit het Dawid so sielsgelukkig gemaak. ” Daarom is my hart bly en my eer juig”.
- Met so ‘n almagtige Bewaarder was hy selfs nie bang vir die mag van die dood nie. “Want”, bely Dawid, “u sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie. Natuurlik slaan hierdie woorde in die eerste plek op Jesus wat uit die graf uit opgestaan het. Maar dit is tweedens ook van toepassing op elkeen wat glo in Jesus. Christus het immers vir ons die dood oorwin en die verskrikking van die dood weggeneem. Sy dood was die sterfbed van ons dood.
- Ja, selfs die dood kan hom nie ontroof van die kosbaarste wat hy het nie. Dit bely Dawid hier. Dit het ook Asaf, so heerlik onder woorde gebring in Psalm 73 waar hy sê: “Al beswyk my vlees en my hart (al moet ek ook sterf) – God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid (ja, tot in ewigheid, dus ook dwarsdeur die dood heen)”. Daarvan is hy versekerd, sê Paulus ook soveel eeue later, “dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Rom.8:38-39).
Onlangse Kommentaar