(57) Psalms van Christus
Psalm 16 (4): Ons het die erfenis nie self uitgekies nie
Wanneer ons ‘n ryk eggenoot of eggenote kies, kan ons in ‘n sekere sin sê: ons het dit self gekies. Deur eie keuse het ons ‘n ryk erfenis bekom.
Maar met die geloof is dit totaal anders. Ons kies nooit uit onsself vir God en sy Seun nie. Inteendeel! Van nature kies ons altyd teen God.
Dit is daarom nie ons wat vir God kies nie, maar God wat vir ons kies. En dit sien ons in hierdie lied: Psalm 16 word deur een van die Bybelverklaarders die Psalm van die regte keuse genoem. Daarin vertel Dawid van mense wat gekies het vir die afgode. Hyself daarenteen het gekies vir die HERE. Maar dit was nie uit sy eie dat hy so ver gekom het om die goeie keuse te maak nie. Inteendeel, agter sy goeie keuse sien hy die HERE staan:
- Dit lê opgesluit in die woordjie erfenis. “Die HERE is die deel van my erfenis”. En ‘n erfenis , so het ek aan die begin verduidelik, het ‘n gelowige Israeliet nie self gekies nie. Inteendeel, deur die lot, dit wil sê deur die beskikking van die HERE, het hulle die erfdeel uit die hand van God ontvang. En dit bely Dawid nou ook: dat die HERE sy Here is, sy erfdeel, is deur die genadige beskikking van God.
- Maar nou moet ons ook sien hoe God Dawid hierdie aller heerlikste erfdeel laat kry het. Dit sê Dawid in vers 7: “Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het”:
Konings het in daardie dae hulle raadgewers gehad: slim manne wat hulle van raad bedien het en gehelp het om die regte beslissings te neem. Net so het Dawid ook as gelowige ‘n Raadgewer gehad: die HERE self. Ons kan maar sê: die HERE het Dawid die raad gegee om vir God te kies en om hierdie erfenis vir homself toe te eien.
Dit doen die HERE vandag nog. In die Bybel vind ons die raad van God. Dit maak Woord en prediking so dierbaar en kosbaar. Deur die Woord oortuig Hy ons hoe heerlik dit is om God te mag hê, om sy kind te mag wees en om altyd digby Hom te mag leef. Deur die evangelie, die raad van God, spreek die Heilige Gees met ons en deur die Blye Boodskap oortuig Hy ons hoe ryk en gelukkig ‘n mens is as God jou God is. Deur die Woord bring Hy ons tot geloof en dan word ons erfgename.
Daarvoor moet ons die HERE nou ook loof. Die HERE wil gedank en geprys word vir die gawe van die geloof. Doen ons dit nog? Ag, geloof kan so maklik vir ons ‘n vanselfsprekende saak word. Veral as jy in ‘n Christelike huis opgegroei het. Ons beskou dit so gou as iets waarop ons reg en aanspraak het. Maar as ons weer onder die indruk kom daarvan dat die geloof ‘n gawe is van bo, ‘n onverdiende genadegeskenk, iets waartoe jy uit jouself nooit kan kom nie, dan word die geloof ook vir jou iets waaroor jy jou verwonder en jou met dankbaarheid verbly.
Ons het ryk geërf deur die geloof in Christus Jesus: ons het danksy die kruis God weer terugontvang. Nou moet ons ook uit die evangelie leer hoe gelukkig ons daarom is. Hierdie erfenis moet ons net soos Dawid laat jubel en bly wees. Dit kan nooit reg wees om bedruk, morbied, swartgallig as gelowiges deur die lewe te gaan nie.
Onlangse Kommentaar