(59) Psalms van Christus
Psalm 15 (1): die lewens-vraag
Psalm 15:1 begin met die vraag: Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?
Dit is ‘n lewens-vraag. Dit gaan oor lewe.
Weet julle wat is lewe, werlik lewe, ewige lewe, lewe in die ware en volle sin van die woord? Dit is om te mag kom in die teenwoordigheid van die HERE en te mag verkeer in die teenwoordigheid van die HERE.
In Eksodus 40:34 lees ons hoe die HERE onder sy volk kom woon het. Die wolk het die tent van samekoms oordek het, en die heerlikheid van die HERE het die tabernakel vervul. Dit was die teken dat die HERE daar sy intrek geneem het in die midde van die volk. Dieselfde hoor ons ook van die tempel van Salomo (1 Konings 8:10,11).
Daar in die tabernakel en tempel, op sy heilige berg, het die HERE dus gewoon. Dit was die besondere van tabernakel en tempel. Tabernakel en tempel was ‘n stukkie van die paradys wat was (Genesis 2&3) en ‘n voorsmaak van die paradys ( die nuwe aarde) wat kom. Daar het die gelowiges van die Ou Verbond God ontmoet en sy stem gehoor soos eens in die paradys. ‘n Mens kan dit daarom so goed verstaan dat elke gelowige Israeliet daarna verlang het om na die tabernakel of later na die tempel te gaan. Hulle wou so sielsgraag by die HERE, voor sy aangesig wees. Dit was immers lewe. Daar in die tabernakel en tempel het die HERE sy heerlike evangelie in al die offers en seremonies aan hulle geopenbaar. Hulle kon Christus aanskou, Christus, wat ons lewe is (Kol.3:4)
In Psalm 27:4 hoor ons die Psalmdigter sê wat sy grootste begeerte. Hy sê daar: een ding het ek begeer. Daardie een ding het ek begeer, kan ons letterlik vertaal: dit was my grootste begeerte. En dan spel hy sy grootste begeerte uit: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.
Daar was vir hulle niks mooier en iets waarna hulle meer verlang het as na die huis van God en die HERE se teenwoordigheid daar en die altare, wat spreek van die evangelie nie: Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare! My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God. Selfs vind die mossie ‘n huis en die swaweltjie ‘n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, (en ek vind rus in u huis, by) u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God! Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. (Psalm 84:1-4)
Hoe wonderlik-mooi vat Totius dit nie saam in sy beryming van Psalm 43 nie:
Dan gaan ek in na Gods altare,
tot God, my God, my vreugde=en lied;
dan speel ek met die harpenare,
dan ruis vir U my blye snare –
vir U wat my, ná kort verdriet,
‘n eewge vreugde bied.
Vandag het ons nie meer ‘n tempel van steen nie. Die kérk is die tempel van die Here. Daar is Hy teenwoordig kragtes sy belofte (Matteus 18:20: waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde). Dit maak elke erediens tot iets heel, heel besonders en iets waarna ons net soos die Ou Testamentiese gelowiges hunker: Ons gaan daarheen om die Heere te ontmoet en om sy evangelie, sy lieflikhede, sy Christus te geniet.
Uiteindelik het tabernakel, tempel en kerk heengewys na die ewige lewe in sy vervulling, die lewe in sy volheid in die hiernamaals. Dit het vir Paulus die sterwe wins gemaak: dat hy dan met Christus sal wees en dit was vir hom verreweg die beste (Filippense 1:23).
Ons kan ook nog die gebed noem: Gebed is om aan die hand van Christus in te gaan in God se troonsaal, in sy salige teenwoordigheid.
Maar nou weer die groot vraag van vers 1: Wie mag nou en in die ewigheid in die HERE se teenwoordigheid kom en altyd by Hom bly? Is dit almal? Is dit alle kerkmense? Of is dit net sommige lidmate?
Die vraag wil ek DV in die volgende paar oordenkings oor Psalm 15 behandel.
Onlangse Kommentaar