(60) Psalms van Christus
Psalm 15 (2): Wie mag in u teenwoordigheid kom? Vra dit vir die HÉRE!
Wie mag nou en in die ewigheid in die HERE se teenwoordigheid kom? Wie ontvang die lewe – die lewe nou alreeds in die Here se teenwoordigheid en die lewe tot in ewigheid by Hom?
Wie kan ons daarop antwoord?
Die Psalmdigter wys ons die pad. Hy begin naamlik met die Naam HERE: Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy bid. Hy stel dus die vraag biddend aan die HERE.
Ons lees so sonder om na te dink. Wie het daaraan gedink dat ons hier in Psalm 15 met ‘n gebed te make het?
Van nature weet ons nie wat die weg na God toe is nie. Net Een kan dit aan ons openbaar: die HERE alleen. Daarom bid die digter: HERE …!
Die gebed is onmisbaar.
Ons belydenis, dieHeidelbergse Kategismus 45:116, laat ons sien waarom die gebed so absoluut noodsaaklik is: omdat God sy genade (die genade van sy openbaring) en Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.
Die gebed en die Woord gaan altyd saam. Ware gebed is gryp na Christus.
Ons het die Bybel, waarin die HERE ons wys hoe ons kan inkom by Hom: deur Christus alleen; Hy is die Weg na die Vader toe.
Maar die Bybel bly vir ons ‘n geslote Boek as die die HERE nie ons blinde oë oopmaak nie. Daarvoor moet ons bid.
Daarom bid Dawid: HERE … Wys Ú my die Weg. Want op daardie Weg, Christus, kan ek leef in U heerlike teenwoordigheid – nou en tot in ewigheid.
Onlangse Kommentaar