Onder swaar beproewing, Covid-19 en die troos van jou doop. ‘n Brief aan my mede-gelowiges
My liewe broeders en susters in die Here Jesus Christus.
Ek dink so baie aan julle in hierdie so oneindige swaar tyd van Covid-19, dood, werkverlies, angs, onsekerheid en swaarmoedigheid.
Maar in hierdie tsunami wil ek julle graag wys op Jesaja 43:1: Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!
Daardie woorde van Jesaja slaan ook op ons doop.
Daardie dag toe die Hére – let wel: die Hére, nie ’n mens nie maar ’n dominee nie – jou gedoop het in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, het Hy JOU PERSOONLIK aangespreek. Met die doop het die Here nie sommer so in die bondel vir die mense in die kerk gesê: Ek wil JULLE Vader wees en my Seun en my Heilige Gees aan julle skenk, nie. Nee, Hy het heel, heel persoonlik gesê: Broeder X/suster Y, Piet, Sannie, ek wil JOU Vader wees. Met jou doop het die Here met die vinger na JOU gewys en sou op die man af, so op die vrou af, so intiem persoonlik, so gelaai met sekerheid, vir JOU gesê: Broeder X/suster Y, Piet, Sannie, Ek wil JOU Vader wees.
By die doop het Hy JOU jou by JOU naam geroep. Toe het Hy vir JOU gesê: JY, ja JY, is myne! Ek is JOU Vader op grond van die kosbare bloed van my Seun.
By die doop het Hy sy hand op jou persoonlik gelê, om dit danksy Christus nooit meer los te laat nie.
En wat ’n Vaderhand is dit nie! Dit is ’n Hand wat in onbeskryflike groot liefde, Goddelike liefde, ewigheidsliefde, sy eie Seun op die altaar van Golgota, die altaar van die kruis gelê het.
Só lyk die hand wat ons vashou en die hand wat ons gedoop het.
Daarom kan jy ook in die nood van nou met blye sekerheid, op grond van die volmaakte kruisoffer van Christus, saam met Paulus jubel: Want ek is versekerd (op grond van Rom 8:31-34 = op grond van die werk van Christus) dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God (die Vader) wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. (Rom 8:38,39). Ook nie hierdie vreeslike siekte en alles wat daarmee saamgaan nie.
Toe Martin Luther in die storm van die Reformasie was, het hy een aand in sy kloosterkamer gesit. En die duiwel het aan hom geruk en hom tot twyfel en angs probeer bring – soos Hy ook aan ons ruk in groot bedreiging en doodsgevaar en onsekerheid. Hy het dit so oneindig swaar en moeilik gehad. Maar toe het Martin Luther ’n stuk kryt gevat en op sy tafel geskryf: Ek is gedoop. En toe het Luther heerlike heerlik rus gevind.
Op grond van ons doop kan ons saam met Asaf (Psalm 73, in die beryming van Totius) juig:
73:10
Nogtans sal ‘k altyd by U bly;
niks sal my van u liefde skei –
U wat my regterhand gevat het,
vir wie ‘k van harte liefgehad het.
U sal my voortlei deur u raad,
O God, my Hulp, my Toeverlaat,
en ná die dag van aardse stryd,
my opneem in u heerlikheid.
73:11
Wie het ek in die hemel, HEER –
wie kan ek newens U begeer?
Wat het ek waar my hart, onrustig,
hom op die aarde=in kan verlustig?
Beswyk dan ooit in bitter smart
of bange nood my vlees en hart,
dan sal U wees vir my gemoed
my rots, my deel, my eewge goed.
Saam met Asaf (Ps 73:1) sê ons: Waarlik (Waaragtig), die Here is altyd goed vir ons, kom wat wil. Hy is ook goed vir ons as daar swaar nood op ons lewenspad kom.
Hy is ALTYD GOED vir sy kinders. Ook in die storm van Covid-19 of wat ook al. Dit is VERSEKER (voorwaar) deur en danksy die kruis.
DINK AAN JOU DOOP! Dit is bedoel ook vir donker oomblikke en storms soos nou. Met die oog op tye soos hierdie onder andere het die Here sy doop gegee.
Dink dan aan jou doop, dat God daar so persoonlik vir JOU gesê het: JY, ja JY, is myne!
Die doop is Sy spreke, sy brief, aan jou persoonlik in die nood … die doop is nie ‘n brief van my nie.
Onlangse Kommentaar