Covid-19-genade
Covid-19-genade – ek sal vir julle sê wat ek daarmee bedoel: Dit is die genade van die Here, wat Hy aan ons skenk om Covid-19 te kan dra.
Of dit nou angs vir die virus is of as die virus ons tref, daarvoor het ons die Here se genade nodig. Met sy genade verdwyn die vrees en kan ons ook as ons siek word, ons lewe rustig in God se Vaderhande lê.
Dit is heerlik, o so oneindig troosryk, om onder die genade-heerskappy van die Here te mag leef. Dit is so heerlik om te weet: Nie Covid-19 regeer nie, maar my genadige, almagtige God en Vader. Niks kan en sal my tref nie, as Hy dit in sy genadige wysheid, in sy liefdevolle heerskappy, nie toelaat nie.
Die Here gee krag na kruis en kruis na krag, het die gelowiges vroeër gesê. Dit wil sê: Hy gee ons nie ’n kruis wat te swaar is om te dra nie, maar saam met die kruis gee Hy die genade, die krag, wat ons nodig het om dit te kan dra.
Op keer het die prins van die predikers, Charles Spurgeon, voordat hy nog predikant was, by ’n kerk ingeloop. Die dominee het die genade van God behandel, verskillende soorte genade: genade om jou werk te kan doen, genade om ’n goeie ouer te kan wees, ens.
Telkens as hy ’n soort genade klaar behandel het, het hy geëindig met die woorde: Maar daar is een genade wat julle nie ontvang nie …
En aan die einde van sy preek het hy gesê: Daar is een genade wat julle nie (nou) ontvang nie … dit is sterwens-genade. Dit sal julle ontvang, wanneer julle dit nodig het, as jy op jou sterfbed lê.
Paulus het dit ook geken: die kruis-dra. In 2 Korintiërs 12:7 praat hy van die doring in die vlees. Hy vertel ook dat Hy die Here drie maal daaroor gebid het. Daarmee bedoel Paulus nie dat hy ’n eerste maal, ’n tweede en ’n derde keer daaroor gebid het nie. Met die drie maal bedoel hy dat hy lank en voortdurend daarom gebid het. Hy het voortdurend en langdurig by God se genadetroon geworstel om van daardie doring verlos te word.
En die Here het sy gebed verhoor. Maar Hy het dit anders verhoor as wat Paulus gevra het. Hy het die doring nié weggeneem nie, maar Hy het Paulus iets ander gegee: sy genade. Hy het vir hom gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. (2 Kor 12:9) Genoeg – God se genade is meer as genoeg. Ons Vader is nie ’n suinige Gewer nie. Hy is nie suinig met sy genade nie. Hy gee oorvloedig.
Paulus moes leer om van genade alleen te leef en om deur genade alleen sy roeping as apostel te vervul. Die doring was nodig vir Paulus om hom te laat besef dat hy alleen deur die genade van God kon leef en werk.
Dit geld ook van ons. Ons moet eers ons afhanklikheid van God, ons uiterste swakheid leer ken, want dan kom daar ruimte vir die krag van Christus. Dan steun ons nie meer op ons krag om ons werk te doen, om ons roeping te vervul, om Covid-19 te hanteer en te verwerk nie, maar dan steun ons op God se krag alleen. Dít is genade.
Hy slaan alle krag en alle gesteun op menslike krag uit ons hande. Dan is daar in ons hande plek vir Christus. Solank ons nog steun op mense, op leiers, op medici, is daar nie plek vir die Here en sy genade en krag nie.
Ware gebed is ook inderdaad om jou leë hande na God toe uit te steek. Gebed is om te sê: Ek het dit nie, ek het geen krag nie en geen mens het die krag om my te help … MAAR aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid. Amen.
Dan jubel Paulus in vers 10: Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is (my eie kragteloosheid ken), dan is ek sterk (in Christus).
As ons in die pandemie by hierdie punt gekom het, dan sien ons Covid-19 nie meer so negatief nie. Dan besef ons dat daar iets so oneindig mooi is in hierdie virus-gebeure: God is naamlik daarin met my aan die werk. Nie Korona slaan die kitaar nie, maar God is in sy oneindige groot liefde daarin met my besig. Hy is besig daarin om ons daardeur te lei om van sy genade en sy krag alleen te lewe. Daar is niks wat mooier en heerliker en meer bevrydend en rusgewend is as dit nie.
Daar is ook niks waardeur God meer verheerlik word nie: as ek van genade, van sy Seun alleen, leer leef.
Onlangse Kommentaar