(61) Psalms van Christus
Psalm 15 (3): nie deur eie werke nie, maar deur genade alleen
In vers 1 het ons die vraag: Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?
In vers 2 tot 5 het ons die antwoord, wat die HERE Self gee. Immers, Hy word gevra in vers 1 en daarom is die antwoord in 2 tot 5 van Hom afkomstig.
Nou kan ons maklik ‘n groot fout maak met die eise van vers 2 tot 5. Ons kan naamlik dink dat ons in hierdie gebooie voorwaardes het waaraan ons moet voldoen, waardeur ons dit verdien om ingelaat te word in die teenwoordigheid van die Here. So bly daar dan natuurlik heeltemal niks oor van die leer van genade alleen en Christus alleen nie. Dan hang dit van ons goeie werke af of ons mag inkom en mag lewe.
Ek kan talle argumente noem waarmee ek klinkklaar kan bewys dat dit nie oor goeie werke gaan waardeur ons dit self verdien om in te gaan nie. Ek gaan vandag net enkele argumente noem.
- In die eerste plek moet ons Psalm 15 nie losmaak van Psalm 14 nie. En daar in Psalm 14 word ‘n dik streep getrek deur ons vermoeë om self, deur ons goeie werke, die deur na God se paleis oop te beur. Want daar staan die verdoemende woorde: Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie. (14:2,3) As ons daarom uiteindelik die werke van Psalm 15:2-5 doen, sal daar ‘n wonder van God moet gebeur. Dan sal die werke nie ons werke wees nie, maar syne.
- Tweedens moet u sien hoe wonderlik dit gaan met hierdie man van Psalm 15: Nog voordat hy die antwoord het, gaan hy reeds deur die gebed by God in en dan ontvang hy die antwoord, nog voordat hy aan enige eise kon voldoen. Dit is genade.
- Derdens en veral wil ek u wys op die Naam HERE (Jahwe), waarmee die Psalmdigter begin. Dit is die verbondsnaam. Dit is die Naam wat spreek van die HERE se genadeverbond. Dit is ‘n Naam tot oorlopens toe vol van evangelie. Daarom alreeds kan ons weet dat dit in Psalm 15 nie gaan oor ‘n hoop wettisisme nie, maar oor werke danksy God se genade.
Onlangse Kommentaar