(7) Korona. Die heilsame Vaderhand en die Heilige Nagmaal
‘n Tyd van baie diep beproewing
Die Korona-tyd is vir die volk van die Here ‘n tyd van baie diep beproewing.
Ons kon vir ‘n lang tyd nie na die huis van die Here gaan nie. Ons kon nie geniet van die gemeenskap van die gelowiges in die huis van die Here nie of beperk (net 50).
‘n Ander saak van groot hartseer is die viering van die Heilige Nagmaal. Dit is onder die huidige omstandighede en regulasies nie moontlik nie.
Ons verlang, ons smag so na die Heilige Nagmaal en dit is ook reg. Dit sou baie erg gewees het, as ons nie daarna gehunker het nie.
Die vraagstuk waaroor dit in hierdie artikel gaan
Ek kan die vraagstuk waaroor dit vir my in hierdie artikel gaan, in twee vrae saamvat:
- Hoe moet ons die Korona-pandemie sien?
Is dit ’n blote natuurfrats? Iets toevalligs? Of moet ons die hand van die Here daarin sien?
As ons sê dat dit die hand van die Here is, sal ons onsself baie ernstig moet afvra: Wat wil die Here daarmee vir ons sê ook ten opsigte van die Nagmaal?
- Wat moet ons maak met die Nagmaalviering?
Moet ons dit afstel? Of moet ons dit tog forseer deur byvoorbeeld ‘n virtuele nagmaal te hou of een met kelkies?
Dit is die slanende hand van ons Vader
Hoe moet ons die Korona-pandemie sien?
Ons moet leer uit die geskiedenis, uit die gemeenskap van die heiliges voor ons tyd.
Aan die begin van die vorige eeu was daar naamlik ook ’n vreeslike pandemie: die Spaanse Griep van ongeveer 1918 tot 1920. Tussen vyftig- en honderdmiljoen mense het gesterf.
Tydens die Spaanse Griep het kerke met dieselfde vrae geworstel as ons. Ook in daardie tyd is kerke gesluit en Nagmaal afgestel.
Wat besonder treffend was, was dat hulle Gód in die pandemie sien werk het. Telkens duik die uitspraak op: Dit is die hand van God.
Dit is die hand van ons Vader. Dit is inderdaad so. Ons belydenis leer ons dit ook in Sondag 10:27: Ons Vader regeer en onderhou alle dinge op so ’n manier deur met dy almagtige oralteenwoordige hand … dat … spys en drank, gesondheid en siekte ( óók Korona) … nie toevallig nie, maar uit sy vaderlike hand ons toekom.
Dit is enorm troosryk om te weet dat alle skepsels (óók Korona) só in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie. Wat gebeur en wat toegelaat word, gebeur volgens sy wil (HK 10:28) en tot ons beswil.
Die man van Psalm 42 en 43
Ons en die mense van die Spaanse Griep was en is nie die eerstes om al hierdie beproewings te ervaar nie.
Ook die man van Psalm 42 en 43 het dit ondervind: hy kon nie na die huis van die HERE gaan nie. Dit beteken dat hy nie daar die Pasga en die Vrede-offermaaltyd saam met die feesvierende menigte voor die aangesig van God uit uit die hand van die HERE kon geniet nie.
Wat doen die man van Psalm 42 en 43
Wat doen die man van God dan?
Hy roep, hy skreeu tot God – soos ’n hert in dorre streke skreeuend dors na die genot van die helder waterbeke, skreeu my siel na U, o God.
Dit wil sê: hy bid.
En hy hoop en hy spreek homself aan om te hoop. Die Bybelse woord hoop is gelaai met sekerheid. Ons kan dit so omskryf: om met alle sekerheid, op grond van God se onwankelbare beloftes, op grond van die bloed van die kruis, uit te sien na die verlossing.
Hoop en bid -Totius vat gebed en hoopvolle sekerheid so mooi saam in sy beryming van Psalm 42:
Maar die HEER sal in my lewe
weer oordag sy guns gebied.
Ook deur donker nag omgewe,
sing ek nog my pelgrimslied.
Ja, ek lofsing in die nag,
want ek bly die HEER verwag;
my gebed sal opwaarts strewe
na die bronwel van my lewe. (42:5)
Eiewillige godsdiens laat ons iets moois mis
Ook ons moet gelowig hoop op en bid om Gód de verlossing en op sy tyd.
Ons moet die Hand wat met ons besig is, nie omseil met eie uitvindsels soos kelkies en virtuele nagmaal nie.
Dit is nie goed vir ons om die Vaderhand te omseil en om op eiewillige maniere vooruit te gryp na sy heil, sy Heilige Nagmaal nie.
Ons moet onthou: Die Vaderhand is ’n heilsame hand. Nie nét die Nagmaal is heilsaam nie. Ook wat die Vaderhand doen is so heilsaam, so onmisbaar. Daar kom tye dat die Vader dit beter ag om ons met sy hand te tugtig, omdat Hy dit goed ag vir ons. Wie dit ontduik, ontduik die goeie uit sy hand.
Hy laat alles ten goede meewerk – ja,ook dat ons nie nagmaal kan vier nie.
Die heilsame tugtende Vaderhand
Die Bybel laat op verskillende plekke die heilsame van die HERE se tug en tugtende Vaderhand sien.
Luister maar mooi na Totius se beryming van Psalm 119:
Voordat ek verdruk was, HERE,
het ek dwaalsiek, al maar voort
op verkeerde pad gewandel;
maar nou (as heilsame vrug van die verdrukking – AHB) let ek op u woord. (119:23)
Dat U my verdruk het, HERE,
dit was enkel goed vir my,
want daardeur (deur die verdrukking) het U my dieper
in u kennis ingelei.
Daarom is dit (die verdrukking) my veel beter
as die allerrykste skat,
meer as al die goud en silwer
wat die wêreld kan bevat. (119:25)
Ook die Nuwe Testament weet van die heilsame van God se Vadertug, van sy slaanende Vaderhand.
Ek dink aan: Hebreërs 12:5-8:
En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie … Hy tot ons beswil, sodat ons (as vrug) sy heiligheid kan deelagtig word. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.
Dink daaraan as u nou nie Nagmaal kan vier nie: Daarin behandel die Vader my as kind; daarin smaak ek sy liefde; dit is nie ’n saak van droefheid nie, maar van vreugde; die eiende daarvan is die vredevolle vrug van geregtigheid.
Deur sy terughou van die Nagmaal, oefen die Vader ons. Ons het die oefening nodig om geestelik ryp te word.
Ook die Nuwe Testament weet van wag op God se tyd, die regte tyd:
1 Petrus 5:6:
Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.
Skoongebrand, gelouter, gesuiwer haal die Vaderhand ons uit sy Vaderlike Korona-vuuroond op sy goeie tyd
…. ten minste: as ons daarin bly tot op op sy tyd dat Hy ons daar laat uitkom.
Hoe lank, HERE? Dit weet ons nie. Maar dit weet ons wel: op die Vader se tyd.
Onlangse Kommentaar