(63-64) Psalms van Christus
63. Psalm 15 (5): Danksy die HERE ‘n lewe wat ons nooit verloor nie
In vers 15 lees ons: Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie.
Dit gaan nie daaroor dat wie hierdie werke van vers 2 tot 5 doen, daardeur sal verdien en sal sorg dat hy nie wankel nie. Nee, die regte verklaring is: As iemand ‘n ware geloof het, dit wil sê ‘n geloof wat deur God se ganade goeie werke voortbring – so iemand sal nie wankel in ewigheid nie.
Ek wil dit nog helderder verklaar en bewys dat die gelowige nie deur en danksy die doen van goeie werke sal wankel in ewigheid nie.
O nee, dit is deur en danksy die HERE alleen, dit is is slegs omdat die ware gelowige hom vasklem aan die HERE dat hy nie sal wankel in ewigheid nie.
As ons byvoorbeeld net in die Psalms na die woord wankel gaan kyk, sal ons sien dat dit net deur die HERE is dat die ware gelowige nie wankel nie:
- Psalm 16:8 Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.
- Psalm 21:8 Want die koning vertrou op die HERE, en deur die goedertierenheid van die Allerhoogste sal hy nie wankel nie.
- Psalm 37:31 Die wet van sy God is in sy hart; sy gange sal nie wankel nie.
- Psalm 62:3 Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie.
- Psalm 62:7 Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie.
- Psalm 121:3 Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie.
In vers 1 is die vraag gestel: HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag nou en vir altyd in u teenwoordigheid lewe? In vers 2 tot 5 word die antwoord gegee: die wat ‘n ware, vrugdraende geloof het. Vers 5 eindig met die woord: Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie. Op die vraag van vers 1 eindig die HERE sy antwoord op die vraag in vers 2 tot 5 met die belofte: Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie. Die HERE eindig met ‘n belofte!
Omdat Hý sal sorg dat ons nie wankel nie, sal ons nie wankel nie.
64. Psalm 15 (6): weer ‘n keer die verband
Dit is altyd belangrik om ‘n Skrifgedeelte te lees in die verband waarin dit staan. Dit help met die regte verstaan van ‘n teks of ‘n Psalm, soos hier.
Nou is dit interessant dat Psalm 15 baie ooreenstem met Psalm 24. Gaan lees dit asseblief.
Daar is daarom Skrifverklaarders wat Psalm 15 tot 24 as ‘n eenheid, ‘n bundeltjie, sien.
Psalm 24 is baie duidelik ‘n hemelvaartspsalm. Ons Here Jesus Christus is die Erekoning van Psalm 24 en Hy word wel roegelaat in die HERE se paleis: Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd. Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare—Hy is die Erekoning! Sela.
En uit die Nuwe Testament weet ons dat Hy nie alleen ingelaat is nie, maar dat ons as gelowiges, wat eers dood was in die sonde (Efesiërs 2:5; vgl Psalm 14:3), saam met Hom ingegaan het: (Ons is) saam (met Christus) opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus. (Efesiërs 2:6).
In hierdie bundel kry ons ook Psalm 23 en daar lees ons van Dawid – hy wat hom skuldig gemaak het aan doodslag en egbreuk – , daar staan van Dawid: Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae. (Psalm 23:6)
Die sondige Dawid mag in die huis van die HERE bly in lengte van dae! Hoe op aarde is dit moontlik. Hier leer die verband ons weer ‘n les. Psalm 23 volg op Psalms 22. Hulle is deur die groot Bybelskrywer doelbewus langs mekaar geplaas. In die verband wil ek u wys op twee opvallende verse. Eers Psalm 22:2: My God, my God, waarom het U my verlaat. En tweedens Psalm 23:4: Want U is met my. Psalm 23:4 is die vrug van Psalm 22:2. Psalm 22 sing van Christus se Godverlatenheid aan die kruis en die vrug daarvan is dat ons nimmermeer deur God verlaat sal word nie, dat Hy met ons is (Psalm 23:4). Juis daarom, omdat Christus van God verlate was en Dawid se straf gedra het, mag Dawid aan die einde van Psalm 23 jubel: en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Psalm 23 eindig met die sondaar Dawid se toelating tot die huis van die HERE in lente van dae. En is dit nou nie opvallend nie: Psalm 24:3 vra: Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? En dan die antwoord in lyn met Psalm 15:2 tot 5: Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. (Psalm 24:4) Hoe kan die sondige Dawid in die huis van die HERE bly (Psalm 23:6)? Aan die hand van die Erekoning van Psal 24 en omdat die Erekoning in sy plek van God verlate was (Ps 22:2).
Onlangse Kommentaar