(65) Psalms van Christus
Psalm 22 en 23: Skape in die Golgota-greep van die Goeie Herder
Ons sien die Bybel in sy skoonheid, die Psalms in hulle ewigheidsdiep rykdom, as ons die Skrif in sy samehang sien.
Nooit sal ons die rykdom van die Psalms kan peil, as ons die Bybel nie in sy eenheid, as ons nie die eenheid van die Psalms met mekaar en die eenheid van die Psalms met die hele Heilige Skrif sien nie.
Wie die Psalms in hulle eenheid sien, aanskou die Skrif in sy onmeetlike diep weelde. Wie daarteenoor die eenheid nie sien nie, bly stokblind vir die betekenis daarvan. Die Psalms bly vir ons ‘n verborge boek, as Christus ons nie by die hand neem en ons aan die hand van die Psalms in sy samehang les gee nie.
Ek wil julle aandag veral op twee verse vestig:
· Psalm 22:2: My God, my God, waarom het U my verlaat …? en
· Psalm 23:4: … U is met my …
Dit is twee Psalms wat skynbaar presies die teenoorgestelde sê: verlaat enersyds en met myandersyds.
Tog is dit deur die Christus en sy Gees langs mekaar gesit en dit met ‘n heerlike bedoeling, want die twee hoort onlosmaaklik by mekaar.
· In Psalm 22 hoor ons van die sterwende Herder en
· in Psalm 23 van die lewende Herder
· In Psalm 22 hoor ons van die Herder wat vir ewig van God verlate was en
· in Psalm 23 gaan dit oor die Herder wat vir ewig met sy skape is.
Ons sal hierdie twee liedere eers dan begryp en daardeur versterk en verkwik wod, as ons die twee in hulle eenheid en verband met mekaar aanskou.
Ons sal die verband tussen die twee Psalms eers dan goed verstaan as ons weet wat die woordjie waarom – waarom het U My verlaat – beteken.
Ons weet: Dit is een van die kruiswoorde van Christus. In Matteus 27:46 roep Hy: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?
Met die woord waarom vra Jesus nie aan sy Vader: wat is die rede hoekom U my verlaat het, nie? Die Goeie Herder weet immers baie goed wat die rede vir sy Godverlatenheid was. Hy weet dit baie goed uit sy eie Woord deur Jesaja. Daar in Jesaja staan die rede en die oorsaak van sy lyding opgeskrywe so helder as wat maar kan kom: Jý is die man, óns: Hy is ter wille van óns oortredinge deurboor (Jesaja 53:5), ter wille van óns, sy dwalende skape (Jesaja 53:6) Hy was afgesny uit die land van die lewendes (Jesaja 53:8). Vir ons dwalende skape het die Herder ’n lam en ’n skaap geword: soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders (Jesajs 53:7). Die skape se sondes het die lewe van die Herder gekos.
Die Herder weet dus baie goed wat die rede van sy Godverlatenheid is.
Wat beteken die waarom dan wel, as dit dan nie die rede aangee nie? Ons kan dit eerder vertaal met: waartoe. Dit wil sê die Herder vra na die bedoeling, na die doel van sy Godverlatenheid. Dit gaan om wat God daardeur om ons ontwil wou bewerk en bereik.
Natuurlik, ook dit het Hy Self goed geweet. Ons moet egter verstaan: Hy vra dit nie ter wille van Homself nie. Nee, Hy vra dit ter wille van sy skape, om my en jou ontwil. Hy vra aan sy Vader dat die skape die vrug, die doel van sy verlatenheid sal sien.
En dan, dan laat Hy ons Psalm 23 sien: Hier is die doel! Psalm 23 is die salige gevolg van sy Godverlatenheid. Hy was van God verlate (Psalm 22), sodat ons nooit meer van God verlaat sal word nie(Psalm 23). Die Herder was van God verlate, sodat ons nooit meer sonder herder sal wees nie. Ps 23 is die heerlike gevolg van Psalm 22. Danksy Psalm 22 is Psalm 23 daar. Danksy Psalm 22 het ons weer ’n Herder: Die HERE is my herder (Psalm 23:1).
Danksy en opgrond van Psalm 22 staan die werklikheid van Psalm 23 in ons midde. Dwarsdeur alles heen is die Herder daar: Hy lei ons na groen weiveld; en, ja, ook in die dal van doodskaduwee is Hy met ons.
In Johannes 10:11 verklaar Jesus: Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. En dan laat die Goeie Herder die vrug sien van sy sterwe: En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie (Johannes 10:28,28).
Nou is ons vir ewig in die hand van die Goeie Herder en in die hand van sy Vader en die Herder gee die versekering: Niemand sal hulle uit my hand en uit my Vader se hand ruk nie.
Psalm 22 is die geheim van Psalm 23. Danksy Psalm 22 mag ons met volkome sekerheid weet: U ís met my: u stok en u staf dié vertroos my. Daarom: Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie. Die Herder se nabyheid is ’n gewaarborgde nabyheid, ’n deur die bloed van die kruis versekerde nabyheid, ’n alles oorwinnende nabyheid
Golgota is God se almagsgreep. Uit daardie almagshand kan geen duiwel of mag ons losruk nie. Die evangelie van die kruis is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo (Romeine 1:16). Daarteen is geen mag of krag bestande nie. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. (Romeine 8:38,39)
Onlangse Kommentaar