Stad Internet
Stad Internet
Die rykdom van hierdie stad, maar ook die gevare en hoe om jou en jou kinders te beveilig.
AH Bogaards
2021
Inhoud
Artikel 1: Die aarde en dus ook die Internet en Facebook behoort aan die HERE. 3
Ook die rekenaar en die Internet 3
Die Internet is soos ‘n groot stad. 3
Artikel 2: ‘n Vaste burg is onse God. 4
Beskerming dringend noodsaaklik. 4
Enkele tekortkominge van Hedgebuilders. 5
Nog baie ander Hedgebuilder. 5
Dié groot en die enigste Hedgebuilder en sy Hedge. 5
Voorwoord
Jare gelede het ek in ’n blad artikels oor die Internet geskryf.
Ek gebruik hier twee daarvan, met ’n bietjie aanpassings
Artikel 1: Die aarde en dus ook die Internet en Facebook behoort aan die HERE
Ook die rekenaar en die Internet
“Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan” (Ps.24:1). Dit geld vanselfsprekend ook van die rekenaar en die Internet: Dit is die eiendom van die HERE. God het dit aan ons gegee, sodat ons dit sal gebruik tot sy eer.
Tog is daar vele Christene wat uiters negatief teenoor die rekenaar en veral teenoor die Internet staan. Daar is gelowiges wat die gebruik daarvan selfs radikaal afwys. Dit is ook nie sonder rede nie. Wie die Internet ken, sal weet dat dit vir groot dele ‘n Sodom is. Dit wemel van dinge soos pornografie, propagering van dwelms en ander ongeregtighede.
Die Internet is soos ‘n groot stad
In die lig van al die verkeerde is dit ‘n wettige vraag of ons as gelowiges op die Internet mag gaan en dit mag gebruik.
Ek wil die vraagstuk beantwoord deur die Internet te vergelyk met ‘n groot stad.
As ons na ‘n stad gaan, kan ons baie verskillende plekke besoek: Ons kan na ‘n bordeel gaan, ‘n dobbeloord besoek of by ‘n kroeg inloop. Ons kan by ‘n kafee pornografiese leesstof koop of ‘n bloufilm by die videowinkel uitneem. In ‘n stad kan ons slegte vriende opsoek en goddelose gesprekke voer. So besien, is die stad nie ‘n plek vir ‘n Christen nie.
Ons kan egter ook, wanneer ons in die stad woon of kom, na die kerk toe gaan. By ‘n Christelike boekwinkel kan ons Bybels koop en ons kan by geloofsgenote besoek aflê en die gemeenskap van die heiliges uitleef.
Met die Internet is dit presies dieselfde: Sondige plekke is daar meer as genoeg. Die teendeel is egter ook waar: U kan Christelike boeke daar kry – en heel dikwels gratis. Ja, in hierdie vuil stad kan u verniet Bybelprogramme bekom en Calvyn se kommentare. Op verskillende plekke is daar ruim die geleentheid vir opbouende gesprekke met geloofsgenote.
God se stad
Die belangrikste rede waarom ons wel die Internet moet gebruik en benut, is omdat dit aan God behoort. Dit is nie die duiwel se besit nie, alhoewel hy dit vir sy doel misbruik.
‘n Gids in die stad
Die bedoeling van hierdie rubriek is om u in die stad genaamd Internet en Rekenaar te lei na die regte plekke. Met die hulp van die HERE wil ek u God se mooi skepping laat sien en leer waardeer en u wys hoe u hierdie mooi handewerk van Hom kan en ook moet gebruik tot sy eer en tot uitbreiding van sy heerlike evangelie.
Artikel 2: ‘n Vaste burg is onse God
Beskerming dringend noodsaaklik
Laat ons eerlik wees: Die lewe in stad Internet is dodelik gevaarlik. Die geestelike lewe van onsself en ons kinders is op die spel.
Hoe kan ons onsself en ons kinders beskerm teen die bedreigings wat daar is en tog nog die mooi dinge in hierdie stad van God geniet?
Hedgebuilders
Op die Internet is programme bekend as Hedgebuilders beskikbaar, wat die pad na verderflike plekke blokkeer. As so ‘n program op jou rekenaar geïnstalleer is, weier die program om jou toegang te gee tot webbladsye wat geweld, pornografie, haatspraak en dobbelary en dwelms bevat. Die program bevat ook ‘n hele lys van aanstootlike woorde, waarby jy ook nog ander kan voeg en as ‘n webbladsy een van hierdie woorde bevat, word jou toegang daartoe versper.
Die vreemde naam Hedgebuilders het waarskynlik sy oorsprong uit Job 1 vers 10. In die King James Version lui die teks: “Hast not thou made a hedge about him, and about his house, and about all that he hath on every side?”
Dit is al ’n stukou program, maar dit bestaan nog steeds. Hier is die skakels:
https://hedgebuilders-internet-filtering.software.informer.com/
Hulle het nou ook ’n medewerker: https://www.covenanteyes.com/
Enkele tekortkominge van Hedgebuilders
Hedgebuilders is baie nuttig. U kan blootstelling van uself en u kinders aan ongewenste sake verhoed.
Tog moet ons besef dat hierdie programme nie alles is nie.
Dit kan vergelyk word met ‘n aan-af-skakelaar aan die Internet. Jy kan self besluit of jy dit aan of af wil skakel, net soos wat jy met jou TV kan doen, as daar iets vertoon wat on-Christelik is. Daarmee is egter ook ‘n swakheid van die Hedgebuilders aangetoon. Die program is so sterk soos jyself – en sonder God is dit ‘n ronde nul.
U kind se maat het miskien nie ‘n Hedgebuilder op sy rekenaar nie en die Internetkafee nog minder.
Daar is nog tekortkomings. Die Hedgebuilders se beskerming is beperk. Ek noem een voorbeeld: Dit beskerm jou nie teen dwaalleer nie.
Ons het dus ‘n beter Hedgebuilder nodig.
Nog baie ander Hedgebuilder
Daar is nog baie ander programme en maniere – hedgebuilders _ om te probeer om jou kind te beveilig teen pornografie ensovoorts.
Ek kan u egter waarborg dat daar baie kinders is, wat 1000 maal meer as ons van die rekenaar en die Internet weet. Hulle weet presies hoe om al hierdie hedges uit te skakel. Dit is eintlik nie ’n kuns nie. Buitendien is die duiwel maar al te gewillig om hulle daarin te help en hy is ’n groot kenner van Stad Internet. Die Satan leer ook op Internet hoe die hedges uitgeskakel kan word.
Dié groot en die enigste Hedgebuilder en sy Hedge
Die Here is nie alleen die Hedgebuilder van sy volk nie. Hy is ook self die Hedge. Die Bybel noem die Here self ons skild (Gen.15:1), ons Bewaarder (Ps.121) en ’n vurige muur rondom ons (Sag.2:5). Dit is deel van ons enigste troos dat Christus ons so bewaar dat sonder die wil van ons hemelse Vader geen haar van ons hoof kan val nie (HK, v/a 1). Ons moet bid om sy bewaring en ons kinders lei na hierdie Bewaarder. Die Here is ons krag en ons sterkte. As ons weet hoe swak ons self is, dan is ons sterk – sterk in God.
Alleen in sy gemeenskap is ons en ons kinders werklik veilig. God is ‘n toevlug in die nood, ‘n rots wat altyd vas bly staan (Ps.46:1, Totius-beryming).
Net deur die Evangelie kan ons en ons kinders in gewone stede en in Stad Internet beveilig word.
Daarom: wapen u self en u kinders met die Woord. Hou huisgodsdiens en gaan kerk toe.
Want ook in Stad Internet geld die slagspreuke: deur die Woord alleen, deur Christus alleen … Nét dit, maar dit is ook meer as genoeg om u te beveilig.
Onlangse Kommentaar