Die Een en heel Enigste Vaksine.
Die Vaksine van die kruis, ingeënt in Christus
Dr AH Bogaards
26 Julie 2021
1. Radelose hande, wat angstig gryp na vaksines
Ek kry ons mense so oneindige jammer.
1. Ek kry ons mense in die eerste plek so oneindig jammer, omdat hulle so bang is. Ons is so vreeslik beangs vir Covid-19.
Inderdaad is dit ’n vreeslike siekte.
Maar die media maak dit – die siekte en die angs – nog erger. Ons word daagliks en voortdurend gebombardeer met syfers. Ja, ek durf selfs sê: Ons word doelbewus die angs op die lyf gejaag, sodat ons tog die vaksine sal vat.
’n Mediese dokter sê ’n ruk terug vir my: Watter deel van die mense word vandag die meeste gewas? Daarop wil ’n mens dadelik antwoord: die hande, die hande wat kort-kort gesaniteer word. Nee, verkeerd sê hy vir my. Die brein. Ons mense word gebreinspoel met al die angsaanjaende berigte oor Korona.
Ek is bang dat dit nog erger is: dat ons van ons geloof gebreinspoel word; dat ons van ons rus by God beroof word.
En daarmee is ek by die tweede rede, hoekom ek ons mense so jammer kry.
2. Ek kry ons mense tweedens so jammer, want ons word so gebreinspoel om te glo dat die vaksine die groot verlosser is, die messias, die christus, wat ons sal red van en sal beveilig teen hierdie wreedaardige siekte.
Intussen weet ons almal uit berigte en ervaring: Ondanks die vaksine kan jy nog siek word en ondanks die entstof kan jy nog doodgaan – en dit kan nie ontken word nie. Dit word boonop uitdruklik gesê: Die vaksine is maar net soveel en soveel persent veilig. Jy kan die siekte nog kry en – boonop kan jy nog steeds ander aansteek. En les bes kan niemand vir jou sê watter gevolge die vaksine vorentoe op jou sal hê nie.
Wat ’n messias! Wat ’n redder!
2. Omdat ons die eintlike Hand daar agter nie sien nie
Die grootste fout wat vandag gemaak word, is dat ons dié Hand agter Covid nie meer sien nie: die Hand van God!
Nogtans is die Bybel so duidelik daaroor: In die laaste dae sal daar hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke (Matteus 24:7).
In die tyd van die Spaanse griep (1918-1922) het jy die kerk nog hoor sê: dit is die arm van die Here, hierdie siekte is die hand van God! Vandag het die kerk in so ’n groot mate so stil geword daaroor. Vandag weet so weinig, selfs kerkmense, selfs predikers, nog van die oordeel en van tugtiging van die Here.
3. Die heel enigste Vaksine teen die Hand van God
Teen hierdie Hand help geen vaksine nie. Geen vaksine wat dit kan keer en ons daarvan kan red nie. Geen vaksine wat bestand is teen die oordeel van God nie.
Immers, hoe kan ’n mens, hoe kan menslike middele ons van die toorn van God verlos?
Is daar dan geen redder, geen medisyne, geen kuur teen die gerig van God nie?
Ja, tóg, daar is: die Vaksine van Golgota, die entstof van die kruis.
4. Dié Hand in en deur die Vaksine van die kruis ‘n Vader-hand
Deur die Vaksine van Golgota word die Hand vir elkeen wat glo in die entstof van die kruis ’n Vader-hand.
En van daardie Vader-hand getuig ons en bely ons in Sondag 10 van ons Heidelbergse Kategismus: Daardie almagtige en alomteenwoordige Vader-hand regeer so, op so ’n manier, dat gesondheid en siekte, ja ook Covid-19-siekte, en alle dinge nie by toeval nie, maar uit sy vaderlike hand ons toekom.
Hierdie wete, hierdie geloof, bring in ons ’n heerlike, rusgewende, vaste vertroue op ons getroue God en Vader, dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels, ook Covid, sódanig in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie. Dan daal daar ’n ongekende en heerlike vrede op ons neer.
Dit is ’n vrede en rus wat bly ook al sou die Here dit ook vir my goed en ten goede ag om die Covid oor my te bring en miskien ook die dood. Want op grond van die Vaksine van die kruis, op grond van die bloed van Golgota, weet ek met die heerlikste en grootste sekerheid: Dit is ’n liefdevolle Vader-hand wat dit oor my bring en niks en heeltemal niks kan my van sy liefde skei nie. Dwarsdeur alles heen, ook deur die Covid en die dood heen, sal sy Liefdeshand, my vashou en dra na die ander kant toe.
Al verstaan ek nie alles nie, tog en nogtans weet en vertrou ek: My Vader weet wat Hy doen en waarom Hy dit goed ag vir my. Nou sien ons nog deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag sal ek hierdie liefde ten volle verstaan – in sy oorweldigende, goddelike volmaaktheid en soetheid en heerlikheid. Nou weet ek net wat Asaf in Psalm 73 ook so verseker en waaragtig geweet het: Waarlik, dit sweer ek, God is goed vir Israel, altyd en altyd goed vir sy kinders. My Vader is in alles en altyd goed vir my.
Saam met die digter van Psalm 31:5 jubel ek dit uit: In u hand – in u mag, in u bewaring – gee ek my gees oor. En saam met Dawid bely ek: Maar ék – ja, ék – vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God.
My lewe is nie aan ’n wilde noodlot of ’n wrede toeval oorgegee nie, maar inteendeel: My tye is in u hand (Psalm 31:14,15).
My lewe hang nie aan ’n draadjie nie, maar my lewe is in u almagsgreep, in die liefdesgreep van U Seun.
5. Die Hand bring rus by die altaar
Vader, toe U in die uur van my doop u Hand op my gelê het, het U u Hand op my gelê om my nooit, nooit weer los te laat nie. Dit is gewaarborg deur die volmaakte Vaksine van die bloed van die Lam.
Aan die kruis mag ek die liefde van daardie liefdeshand van U in volle glorie en heerlikheid aanskou. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16).
Die mossie vind ‘n huis, o HEER,
die swaeltjies lê in nessies neer;
en ek vind rus by u altare (by U kruis),
waar U vir my ‘n woning maak
en U, my Koning, my bewaak. (Psalm 84:2 – Totius)
Onlangse Kommentaar