Psalm 90 en 91: Gebed, skuilplek, lewe
Christus alleen ons skuilplek en Geneesheer en Raadgewer in hierdie moeilike tyd van Covid en onluste
Dr AH Bogaards
16 Julie 2021
Ter inleiding en twv helderheid en duidelikheid
Christus is die geheim en skuilplek van Psalm 90 en 91
Ek wil hierdie punt voorop plaas. EK KAN DIT NIE STERK GENOEG BENADRUK NIE. Christus alleen is die skuilplek en die geheim van hierdie Psalm.
Ek kan dit nie sterk genoeg benadruk en beklemtoon nie.
Dit is vir my so ontsaglik belangrik dat julle dit moet sien, dat ek dit hier heel aan die begin, voorop plaas.
As U Hom nie sien in hierdie Psalms nie, sal u geen troos hê en kry uit die Psalms nie.
Daarenteen: As U Christus sien in hierdie Psalms, kan u getroos lewe en ook sterwe – ja selfs ook as u of gelowige geliefdes van u Covid kry en dalk selfs sterf daaraan.
Psalm 2:12 laat ons sien dat dit gaan oor skuil by die Seun. Geseënd is elkeen wat by Hom skuil.
’n Tweede punt twv helderheid en duidelikheid: dit gaan oor die oordeel en verlossing van die oordeel van God
Ek kom in my verklaring van die Psalms daarby uit. Maar ter wille van helderheid en duidelikheid en dat u dit sal verstaan, noem ek dit hier reeds.
Elke gelowige weet: dit gaan in hierdie Covid-pestilensie oor die oordeel van God.
In Matteus 24:6-7 lees ons immers: En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
Pessiektes soos Covid, die geweld van ons tyd – dit is die gerig, die oordeel van God.
Tog sê Matteus 24 VIR GELOWIGES, VIR HULLE WAT BY CHRISTUS EN SY KRUIS SKUIL:dat as ons hierdie dinge sien: Pas op, moenie verskrik word nie
… En Psalm 90 en 91 openbaar die pad wat ons moet gaan en hoe ons nie verskrik sal word nie: SKUIL BY CHRISTUS
Wat julle nie van my moet verwag nie
Ek is nie ’n dokter nie. Ook vir my as ds geld die spreekwoord: skoenmaker hou jou by jou lees. In Bybelse taal: die kerk is ‘n liggaam en in daardie liggaam is ek net die pinkie. Ek het die oog en oor (= gelowige dokters, prokureurs, ens ) so absoluut nodig.
Ek gaan DAAROM NIE vir u sê gebruik hierdie of daardie medisyne nie. Daarvan weet ek as dominee NIKS NIE.
Wat julle wel van my kan verwag
Ek weet nie wat om vir u tov medikasie te sê nie. Ek as mens is net so verward as so baie van julle.
Ek kan julle daarin nie help nie, MAAR ek kan julle wel verwys na die volmaakte Raadgewer: ons Here Jesus Christus alleen.
Hierdie stuk wil een groot wysvinger wees na Christus alleen, nie net wat u gees betref nie, maar ook u liggaam.
Wat ek ook van julle vra, is dat julle in diep afhanklikheid van die Here ons gelowige dokters en prokureurs en ingenieurs of wat ook al, biddend sal opdra aan die Here. Ook hulle kan sonder Hom niks doen nie. Ook hulle moet al hulle kennis van Hom kry ….
Wat julle beslis nie moet doen nie
Die Bybel is baie duidelik daaroor: moet nie skuiling gaan soek in mense, in medikasies of wat ook al nie.
Gaan skuil by Christus. Hy is meer as genoeg.
(1) Psalm 90 en 91: Psalm 91 ’n Psalm wat dikwels misverstaan word
Ons sit nou al meer as ’n jaar met Covid-19. Verskeie van julle het al Covid gekry. Dierbares en bekendes het gesterf. Ook diep gelowige mense het hulle lewens verloor deur Covid.
En – ons is so bang. Wanneer gaan ek dit kry en sal ek dit oorleef?
Hoe moet ons hierdie Korona sien? Is dit die oordeel van die HERE en as dit die oordeel van God is, hoekom word selfs gelowiges siek en hoekom sterf ook kinders van God as gevolg van Covid? Het Christus dan nie die oordeel van God gedra nie? Hoekom moet ek nou ook nog die oordeel van hierdie pessiekte dra.
Hierdie vrae roep om ’n antwoord, ’ntroosryke, Skriftuurlike antwoord.
Ek wil die verklaring van Psalm 90 en 91 begin deur julle te wys op ’n paar misverstande rondom Psalm 91:
Voorbeeld 1
Toe die grendeltyd vir die Korona-virus begin, het ek ‘n video ontvang. In die video haal die dominee of pastoor sy Bybel uit en maak dit oop by Psalm 91. Mense, sê hy, julle hoef nie bang te wees vir die Korona-plaag nie. Hier in Psalm 91, sê die dominee, is God se antwoord vir gelowiges: Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie.
Die antwoord daarop is: dit is glad nie waar dat gelowiges nie Covid kan kry nie. Trouens die harde werklikheid van ons lewens het ons al iets anders geleer: heidene word siek, maar kinders van die Here eweneens; goddelose sterf van Covid, maar gelowiges ook.
Die antwoord van hierdie dominee dompel egte kinders van die Here, wat Covid kry in die diepste geloofsvertwyfeling: is ek dan nie ’n kind van God nie? Was my gestorwe dierbare dan nie gelowig nie? Is dit die oordeel van die Here, wat my diep gelowige dierbare laat sterf het?
Voorbeeld 2
Nog ‘n voorbeeld: Baie jare gelede het ‘n ouerige suster vir haar predikant gesê: Dominee, Psalm 91 is so ‘n mooi Psalm, maar ek verstaan dit nie. Vers 5 en 6 leer my: Jy hoef nie te vrees vir … die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! In vers 10 staan ook nog: Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie. Dominee, dis so troosryk, maar … nou het daardie vreeslike siekte tog my man getref; nou het ek kanker of wat ook al. Hoe moet ek nou hierdie Psalm verstaan?
Ek voel dat dit hier aan die begin reeds noodsaaklik is om julle baie kortliks ’n antwoord te gee op al bogenoemde vrae. Dit sal nie herderlik wees om julle ’n paar weke lank in geloofsvertwyfeling laat sit nie.
Daarom nou al voorlopig twee ophelderende opmerkings:
- Ja, dit gaan in hierdie Covid-plaag om die HERE se oordeel. Maar – dit gaan oor sy oordeel oor ongelowiges, ongelowige heidene, maar ook ongelowige kerkmense. Tog is God se oordele daarop gemik om ongelowiges tot bekering te bring: die Here wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom(2 Petrus 3:9).
- Gelowiges daarenteen hoef egter nie daarin die oordeel van die Here te sien nie. Daar kan verskillende redes wees hoekom die Here die Covid oor my pad gebring het. Vir ware Godskinders kan dit doodeenvoudig liefdevolle Vaderlike tugtiging, beproewing of geloofssuiwering wees. Dit kan wees dat God ons geloof daardeur wil suiwer en ons wil leer om weer nader aan God te leef. Want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem (Hebreërs 12:6).
(2) Die donker agtergrond van Psalm 90 en 91: die oordeel van die HERE
Om Psalm 90 en 91 te verstaan, moet ons die donker agtergrond daarvan ken.
Hierdie twee mooi Psalms het nie ’n mooi agtergrond nie. Dit het as dekor Israel se veertig jare lange omswerwinge deur die woestyn op weg na Kanaän. Daardie 40 jaar van swerf in die woestyn was die oordeel van God vanweë hulle ongeloof en ongehoorsaamheid.
Dit het begin in Numeri 13- 14. Dit is noodsaaklik vir u verstaan van Psalm 90 en 91 dat u Numeri 13-14 met aandag en biddend sal lees.
U weet dat Moses in opdrag van die HERE twaalf spioene uitgestuur het om Kanaän te verken. Die volk was dus op die drumpel van die beloofde land.
Maar wat toe gebeur het, toe die 12 spioene teruggekom het van hulle verkenningstog, is so oneindig hartseer en diep skokkend. Daar het naamlik twee uiteenlopende, teenoor mekaar staande rapporte of verslae van die spioene op die tafel gekom:
- Die eerste was die meerderheidsrapport, die verslag van tien van die spioene. Dit was ten diepste ’n ongeloofsrapport. Luister maar wat hulle sê. Hulle erken dat dit ’n wonderlike mooi land is, maar: Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien… Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons (Numeri 13:28,31). Eintlik kom die rapport daarop neer: Die HERE kan ons nie help nie.
- Die minderheidsrapport was ’n geloofsrapport van die twee ander verspieders, Josua en Kaleb. Dit loop oor van geloofssekerheid. Luister maar wat Kaleb sê:Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig (Num. 13:30. En: As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. … die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie! (Numeri 14:8,9). Hierdie rapport kom daarop neer: Die HERE kan en sal ons help.
Daarop het die vreeslike gebeur. Die volk het die minderheidsverslag verwerp en die meerderheidsverslag geglo en toe het die HERE sy oordeel oor hulle uitgespreek: Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal word, al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie, hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie. (Numeri 14:21-23) Hulle sal die beloofde land Kanaän nie ingaan nie.
Terloops, ons moet mooi luister na hierdie woorde van die HERE in Numeri 14:21-23. Die HERE verwyt hulle naamlik, omdat hulle sy dade in die verlede, sy verlossingsdade van Egipte af tot nou toe, ja, sy evangelie van redding nie geglo het nie. Hulle het my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het. Ons kan maar sê: Hulle het die evangelie van verlossing uit die slawehuis van Egipte en die wondertog deur die Skelfsee en die evangelie-tekens in die woestyn persoonlik, aan eie lyf meegemaak. Dit was, kan ons gerus maar sê, hulle Bybel. Maar nou leef hulle nie daaruit nie en dink nie daaraan nie en glo nie daaraan nie en juis daarom daarom kies hulle die ongeloofsrapport.
Daarenteen het die evangelie-dade van God in Egipte en by die Skelfsee en in die woestyn Josua en Kaleb gebring by hulle geloofsrapport.
Daarin is vir ons ’n groot les opgesluit: Hoe kyk ons na die harde werklikheid en moeilikhede van ons tyd? Kyk ons daarna in die geloof, in die lig van die HERE se almagsdade en reddingswonders in die Bybel of nie. Dit is lewensbelangrik, van ewigheidsbelang, want dit bepaal of ons deur die toorn van God getref word of nie. Vind ons rus en sekerheid in die Woord?
Van hierdie strawwe en plae van die veertig jare in die woestyn praat Moses in Psalm 90:7-9: Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik. U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig. Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ‘n gedagte.
Psalm 91 meld eweneens die plae van die veertig jaar lange oordeelsreis in die woestyn. Lees maar Psalm91:6: die pes wat in die donker wandel, die siekte wat op die middag verwoes. In vers 7 is daar ook sprake van duisend en tienduisend wat val (91:7). Ja, hoeveel Israeliete het nie in die woestyn onder die toornende hand van die HERE geval nie!
Samevattend: Dit gaan in hierdie twee Psalms nie sommer, om dit nou maar so te sê, gewone siekte nie. Dit gaan oor die toorn van God in hierdie plae en dan sy toorn oor die ongeloof en ongehoorsaamheid van sy volk.
Daarby hierdie belangrike opmerking: Dit was Israeliete, kerkmense dus, wat die plae van die HERE nie vrygespring het nie. Kerkmense het vanweë hulle ongeloof te gronde gegaan onder die toorn van God.
(3) Psalm 90 en 91: terugblik en troosryke vooruitblik.
Dagstukke Psalme 91-92 in een lêer
Vooraf net dit:
Ek gaan my oordenking/dagstukke in een PDF-lêer op my tuisblad sit. Ek sal daardie samevattende PDF aanpas soos wat ek met my studie oor Psalm 90 en 91 vorder.
Dit is vir my baie belangrik om dit so te doen. Dit gaan dit vir julle makliker makliker maak om vorige dagstukke weer op te slaan en om die verskillende dagstukke in die regte verband te sien en om dit goed te verstaan.
Julle sal die lêer op my tuisblad by www.enigstetroos.co.za kry onder die hoof Psalmstudies.
Inleidend: Hierdie twee Psalms is brandend aktueel en heerlik troosryk in hierdie Covid-vloedgolf
Inleidend wil ek iets oor die aktualiteit en die belangrikheid van hierdie twee heerlike Psalms sê.
Almal sal met my saamstem: die boodskap en troos van Psalm 90 en 91 is so baie, baie nodig vir God se kinders, vir sy kerk.
Immers, ons bevind ons midde-in die derde Covid-golf, die Korona-pessiekte.
Sommer hier by ons, hier in ons eie gemeente, in ander gemeentes, in ons eie gesin, in ons eie familie word mense siek van die Covid en baie sterf daaraan.
Om dit nou maar so te sê: Ons ervaar die pestilensie aan eie lyf. Die spoel oor ons almal.
En – wie is nie bang nie? Wie is nie besorgd nie? Ons is bekommerd oor onsself, oor ons mede-gelowiges en so kan ek maar aangaan.
Ek wil ook baie spesiaal die lig laat val op ons kinders, ons jongmense en hulle ouers. Ons kinders kry regtig baie swaar. Hulle ervaar nie soos ons ouer garde ’n rustige jeugtyd en speeltyd nie. Dan is die skole oop, dan is dit weer toe. Dan is daar skolesport en dan word dit weer gestop. Kinders kry nie meer kans om regtig kind te wees nie. Hulle moet omtrent toegesluit, afgesluit, op ’n afstand van mekaar leef. Ouers, julle kinders kry regtig baie swaar.
Maar dan moet ek in een asem sê: Ook pa en ma kry so swaar. Ons wil ons kinders so sielsgraag help en dra en beskerm en verstandig leiding gee. Maar ons sit met ons hande in ons hare.
Ook ons ouer mense, ons bejaardes, gaan deur ’n krisis en veral ok die wat onderliggende kwale het. Om net enkele voorbeelde uit die talle uit die baie te noem: kort gelede nog het ek van ’n aftree-oord gehoor, waar die tsunami van Covid toegeslaan het en – 4 of 5 het gesterf en omtrent 25 in die een aftree-oord het Covid gekry. Die tehuise vir bejaardes is vir lang rukke omtrent tronke, waarin bejaardes toegegrendel is. Hulle vereensaam, hulle kan hulle kinders nie sien nie ensovoorts.
Ja, almal van ons hunker na troos en bemoediging. Ons verlang na beskerming en veiligheid teen hierdie golwe van Covid.
Ons gryp na verskillende oplossings en antwoorde. Dan gryp ons hier en gryp ons daar. Ons probeer rus vind in vitamines en inentings.
Maar … so dikwels, so baie, ja, meestal, soek ons skuiling en sekuriteit op die verkeerde plekke. Ons soek dit by mense, by dokters, by entstowwe, by maskers en so kan ons maar aangaan.
Maar, maar by die regte adres kom ons nie uit nie.
Ons moet by God uitkom.
En juis hierin is Psalm 90 en 91 so uitermate troosryk en so brandend aktueel in die Covid-tyd. WANT Psalm 90 en 91 leer ons: Gód is die antwoord, sy Evangelie is die antwoord. In Hom, in sy heerlike Woord – daarin lê die antwoord, die rus, die vrede.
Daarom moet ons hierdie twee besondere Psalms rustig bestudeer en lees en herlees.
Dalk mag julle dink dat ek soms in onnodige herhaling verval, maar dit is nie so nie. Herhaling is ’n leermetode van die Bybel. God Self herhaal en herhaal. En dit doen Hy, omdat ons so gou vergeet. God herhaal met die bedoeling om sy troos so duidelik as moontlik by ons tuis te bring. As klein, swak sondaarmensies is ons maar nie sulke goeie leerlinge nie. Maar die Here ken ons.
Terugblik op wat reeds gesê is
Dit gaan in hierdie twee Psalms nie sommer net oor gewone siektes, oor gewone pestilensies, oor gewone pandemies nie.
In Dagstuk 2 het ek julle die donker agtergrond van hierdie twee Psalms laat sien.
Moses het naamlik hierdie twee Psalms gedig in daardie veertig jaar toe die Israeliete in die woestyn moes rondswerwe. Daardie veertig jaar was die toorn, die straf van die Here oor hulle. Ja, want toe hulle op die drumpel van Kanaän, die beloofde land was, wou hulle nie glo en wou hulle nie gehoorsaam nie. Hulle wou nie glo dat God hulle kan help teen die reuse van Kanaän nie. Daarom het die toorn van die Here teen hulle ontvlam.
Die pestilensies en siektes van die 40 jaar omswerwing was dus die toorn, die straf van God.
So moet ons die Covid-pestilensie van ons dag ook sien: In Covid-19 moet ons eweneens die oordeel van die Here sien.
Maar nou wil ek ter wille van die regte verstaan van Psalm 90 en 91 weer herhaal wat ek al in Dagstuk 2 gesê het: Hierdie Covid-pes is nie vir alle mense oordeel, die toorn, die straf van God nie.
Dit is ontsettend belangrik dat ons hier mooi moet onderskei:
- Enersyds is daar mense wat nie glo nie.Vir hulle is Covid-19 wel die oordeel van God.
- Andersyds is daar baie mense wat wel glo. Vir hulle is Covid-19 nie oordeel of straf nie. Die Here het ander bedoelings, wanneer Hy siektes soos Covid ook oor ware gelowiges bring en as ook ware gelowiges daarvan sterf. Vir die een kan dit Vaderlike tugtiging wees, vir ‘n ander beproewing om ons geloof te toets. Dit kan ook wees dat die Here ons geloofsryper wil maak. Hierdie swaar dinge soos Covid leer ons weer om op ons knieë te leef, om ons toevlug en veiligheid by God en sy Woord te soek.
Nou wil ek baie kortliks vooruitgryp op die dagstukke wat kom.
Dit doen ek om twee redes:
- eerstens om julle nou al te troos en te bemoedig met hierdie Psalms, want julle het dit nou al nodig;
- tweedens wil ek julle ter wille van beter verstaan al iets van die lyn en eenheid van die twee Psalms en dagstukke laat sien.
Laat ek dan begin met die vooruitkyk:
Vir Moses en al die ware gelowiges was daardie veertig jaar in die woestyn beslis net so erg as wat die Covid vir gelowiges vandag is.
Moses het eweneens die duisende en tienduisende in die veertig jaar rondom hom sien val en sien sterf (Psalm 91:7).
Hoe hanteer Moses dan die pandemie? Die oordeel en die pestilensies?
Hy gryp nie hier na menslike oplossings en na nie menslike hulpmiddels nie.
Nee, Moses gaan na reguit na die HERE toe. Moses het gebid. Psalm 90 is ’n Gebedspsalm. Dit staan bo-aan Psalm 90, in die heel eerste vers: ‘n Gebed van Moses, die man van God.
Dit is die eerste wat julle moet raaksien: dat Moses bid.
Die heel eerste vers van Psalm 90 leer ons ook al wat gebed is. Want luister baie aandagtig hoe begin Moses sy gebed: Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.
En in hierdie een klein woordjie toevlug leer die HERE ons wat gebed presies is:
- gebed is om na God toe te gaan, jou toevlug en beskerming;
- gebed is om te gaan skuil by God;
- gebed is om te gaan skuil in die skuilplek van die Evangelie;
- gebed is om te gaan skuil onder die beskermende vlerke van Christus.
Hierdie twee Psalms leer ons nie net wat gebed is nie. Dit leer ons ook wie en wat God is: ’n skuilplek vir ons.
Julle sal in die komende dagstukke nog meer hoor
- van woorde soos skuil en toevlug en
- van die gebedslyn van Psalm 90 en 91.
Dit is so oneindig heerlik, dit is so bevrydend en rusgewend in hierdie swaar Covid-tyd, om jouself en jou kinders en om jou mede-gelowiges biddend oor te gee in die hande van ons Vader en in die sorg van sy Christus.
By Hom is ons so veilig as wat maar kan kom.
(4) Die eenheid van Psalm 90 en 91: gebed en gebedsverhoring
Telkens in my studie van die Psalms kom ek voor die wonder van die eenheid van die Psalms te staan.
Dit geld ook van Psalm 90 en 91: hierdie twee is ‘n wonderlike eenheid.
Dit het ons alreeds in ‘n vorige dagstuk (2) gesien: Die twee Psalms vorm daarin ’n eenheid dat beide dieselfde agtergrond het. Beide praat van die onheil, van die plae van God.
Maar daar is nog ‘n baie besondere ooreenkoms: die eenheid van gebed (Psalm 90) en gebedsverhoring (Psalm 91).
Kom ons kyk biddend na die gebed en gebedsverhoring van Psalm 90 en 91.
Psalm 90:1 sê uitdruklik: Hierdie Psalm is ‘n gebed van Moses, die man van God.
Psalm 91 het geen opskrif wat sê wie die skrywer is nie. Dit is om verskillende redes nie moeilik om af te lei dat Psalm 91 ‘n vervolg van Psalm 90 is nie. Ja, Psalm 91 is die verhoring van die gebed van Psalm 90. Die baie ooreenkomste tussen Psalm 90 en 91 wys dat Moses die skrywer van beide is.
Ek wil u kortliks, aan die hand van enkele tekste, die verband gebed-gebedsverhoring laat sien:
- In Psalm 90:15 bid Moses: Maak ons bly na die dae waarin U ons verdruk het, na die jare waarin ons onheil gesien het. In vers 10 het hy dit in sy gebed ook oor die kortheid van die mens se lewe. Moses het op die woestynreis God se onheil gesien en mense sien sterf.
- In Psalm 91 vers 15 en 16 verhoor die HERE die gebed van Moses: Hy sal My aanroep (in die gebed -AH Bogaards), en Ek sal hom verhoor (sy gebed verhoor); in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.
Hierdie eenheid is ’n eenheid gesmee in die smidswinkel van die Skrywer. Die Here Self lê hierdie eenheid. Met hierdie eenheid leer Hy ons: Hy skep die gebed (Psalm 90) en Hy verhoor die gebed. Dit is so ’n oneindig heerlike lees: Die Here is ’n hoorder en verhoorder van ons gebede. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor.
Hierdie eenheid van Psalm 90 en 91 word gesmee met die bloed van die Skrywer. Die kruis van Golgota skep hierdie eenheid. Wie by die kruis gaan skuil, sal ook verseker die verlossing, die heil van die Here, die heil van Psalm 91sien.
En Moses hét gesien. Hy hét die heil van God gesien. Dit ís so. Dink maar net aan die verheerliking van Jesus op die berg, toe Moses, ja ook Moses, en Elia aan Hom verskyn het. Toe het Moses die Heil, die Heiland van die Vader gesien. (Vgl Matteus 17:1-5).
Die gebed en die gebedsverhoring van Psalm 90 en 91 is so oneindig ryk en mooi, dat ek met ’n mijoen dagstukke nie heeltemal reg daaraan sal kan doen nie.
Ja, Moses het gesterf, maar hy lewe tot in ewigheid. Moses het gesterf, maar eeue later het Jesus gesê: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe (Johannes 11:25). En dit het ook met Moses gebeur: in Matteus 17 sien ons Moses lewendig en hy sien die heerlikste en mooiste wat daar is: die heil, die Heiland van God. En Moses beleef die verhoring van sy gebed: met lengte van dae sal Ek hom versadig.
Ek wil nog net een sinnetjie van Psalm 91 uitlig: in die nood sal Ek by hom wees (vers 15). In die nood daar in die woestyn, midde-in die nood van die pessiektes, was Moses nie alleen nie, maar in antwoord op sy Psalm 90 gebed, beloof die Here aan Hom hierdie verhoring: in die nood is sy Here met hom.
Midde-in die Covid-nood is die Here by sy kinders.
Die wêreld en media bulder dit uit: Covid, Covid, Covid – asof daar net Covid, siekte en dood is.
Maar die gelowiges roep dit uit, ook al is Covid op sy piek: in die nood is die Here by ons.
(5) Die gebedsverhoring van Psalm 91, verlossing van God se oordeel
Nie alle Israeliete het gesterf onder die toornende hand van God nie.
Die wat in die HERE geglo het en tot Hom gebid het, het die plae van God, sy vreeslike toorn, vrygespring.
Hoe het dit gebeur? Moses het gebid, die gebed van Psalm 90!
In die gebed lê daar vir ons ‘n groot les opgesluit. Kom ons luister dan na die gebed (Psalm 90) en die verhoring daarvan (Psalm 91).
Moses begin sy gebed in Psalm 90:1 op ‘n baie besondere manier. Dit is ‘n geloofsbelydenis: HERE, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag. Op sy geloofsbelydenis, sy geloofsgebed, antwoord die HERE hom: Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. (Psalm 91:1,2)
Daarmee openbaar die HERE hoe Moses en ons van die toorn van die HERE ontvlug: deur by die HERE te gaan skuil in die gebed. Gebed is skuil by God, vertrou op die HERE.
Psalm 1 en 2 is die twee inleidende Psalms van die Psalmboek. In hierdie twee Psalms word die groot temas aangekondig, wat in die res van die Psalmboek behandel word.
Een van die temas van Psalm 2, wat ons ook in Psalm 90 en 91 kry, is om te skuil by God. Die woord skuil word ook soms vertaal met vertrou. Wie by God skuil, vertrou op God.
In Psalm 2:12 kry ons die skuil-tema. Daar lees ons: Kus die Seun (gehoorsaam Hom – AH Bogaards), dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil! Welgeluksalig is almal wat by die Seun skuil, op Hom vertrou en na Hom luister. Wie dit doen, sal nie getref word deur die toorn en op die weg vergaan nie.
Christus – om by Hom te skuil, om in Hom te glo – Hý is die geheim van Psalm 91 en die rede waarom die onheil die gelowige nie sal tref nie (vers 10). Aan die gelowige word in vers 5 en 6 die belofte en troos gegee: Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! En die geheim is: Christus het die toorn aan die kruis gedra.
Die gelowige sal danksy Christus nie met die oordeel van God getref word nie.
In vers 8 word vir die gelowige gesê: Net met jou oë sal jy dit (die toornuitstorting) aanskou Maar die gelowige sal nog iets sien: Net met jou oë sal jy dit (die toornuitstorting) aanskou en (met jou oë) sal jy die vergelding van die goddelose sien. Met “die goddelose” word daardie Israeliete bedoel wat ongelowig en ongehoorsaam was en nie by die HERE wou skuil nie. Wanneer die goddelose Israeliete om hulle val, sien die gelowige daarin die vergelding of straf van hierie goddelose Israeliete.
In Psalm 91:14 word ook gewys op die gelowiges se liefde vir die HERE het: Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.
Wie die Naam van Christus ken en lief het, sal gered word van die oordeelsplae.
(6)‘n Geskiedenis waarmee die Nuwe Testament óns waarsku
In twee belangrike Skrifgedeeltes kom die Nuwe Testament terug op die geskiedenis van van Israel in die woestyn: hoe hulle ongelowig en ongehoorsaam was en hoe God hulle in sy toorn met sy plae getref het.
In beide hierdie Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament word die Nuwe Testamentiese kerk aan die hand van hierdie woestyngeskiedenis ernstig gewaarsku, sodat hulle nie ook soos Israel onder die oordeel van God sal kom en die beloofde land nie sal ontvang nie.
- Ek begin by 1 Korintiërs 10 en voorop stel ek vers 11, waar ons lees: Maar al hierdie dinge (die plae in die woestyn) het hulle (Israel, die volk van God, die kerk van die Ou Verbond) oorgekom as voorbeelde (vir ons) en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons … Paulus sien dus in die wedervarings van Israel in die woestyn ‘n waarskuwende voorbeeld vir ons, die Godsvolk, die kerk van die Nuwe Testament.
In vers 1 tot 4 vertel Paulus naamlik dat hierdie Israeliete in die woestyn almal volk van God was. Hulle het almal die genade van die Here gesmaak: Hulle is almal in Moses gedoop in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.
Almal het die genade van God ervaar, gesien … maar, maar sê vers 5 tot 10, maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.
Die meeste is as gevolg van hulle ongeloof en ongehoorsaamheid neergeslaan in die woestyn.
- Die tweede stuk wat ek wil aanhaal, is Hebreërs 3:12-4:2.
Daar skryf die skrywer van die Hebreër-brief (4:2) dat die woord ook tot daardie mense gekom het, wat in die woestyn gesterf het. Hulle het ook die evangelie gehoor net soos ons. Maar dan die verdoemende woord van Hebreërs 4:2: Maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie.
En dan waarsku die skrywer die kerk van die Nuwe Testament: Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou; omdat daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.
(7) Plae en die korona-plaag is tekens van die naderende koms van Christus
In Matteus 24:6-7 lees ons: En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
Ons mag in pessiektes soos die Koronavirus die naderende voetstappe van ons Here Jesus Christus hoor. Al hierdie dinge soos aardbewings en pessiektes is tekens wat ons toeroep: Die Here se wederkoms is naby. Maak julle gereed om Hom te ontmoet.
Nou moet ons wel oppas om nie hierdie pessiektes te misbruik as hulpmiddels wat ons help om uit te werk wanneer ons Here Jesus weer kom nie. Ons kan dit nie bereken nie, want die Here se self: Want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag. (1 Tessalonisense 5:2).
Die bedoeling van pessiektes is dus nie om te help bereken presies wanneer die Here kom nie. Wel is dit bedoel om ons wakker en waaksaam te hou: Die Here is naby.
Daarby kom nog dit dat daar al meermale vreeslike pessiektes was. In die veertiende eeu byvoorbeeld het die Swart Dood Europa getref en omtrent ‘n kwart van Europa uitgewis. In 1918 het die Spaanse Griep uitgebreek en tussen vyftig- en honderdmiljoen mense het gesterf. En tog, dis nou ‘n paar eeue en ‘n eeu in die verlede – het Jesus nog nie gekom nie. Ook daaruit kan ons leer dat plae nie kan dien as manier om die tyd van Christus se wederkoms te bereken nie.
(8) Nie elke siekte het te make met die HERE se toorn nie
Ek is daarvan oortuig dat ons in die koronavirus te make het met die toorn van God, ‘n vervulling van Matteus 24:6-7. Dit is ‘n plaag van God.
Psalm 90 en 91 leer ons egter dat ons van die toorn verlos word deur soos Moses in die gebed by die HERE te gaan skuil en ons toevlug by Christus te soek.
Dit kan dan wees – en dit gebeur ook inderdaad – dat ware gelowiges die virus kry en selfs sterf. Dit is dan egter danksy Christus nie ‘n oordeel van God nie.
- Ek wil dit baie sterk benadruk dat nie alle siektes straf of oordeel van die Here is nie.
Daar kan ook ander redes wees waarom die Here ‘n siekte op ons pad bring. Dit kan bedoel wees as ‘n beproewing, ‘n toets van ons geloof.
‘n Sterbed kan ook ‘n preekstoel wees. As iemand ‘n siekte geduldig, blymoedig en gelowig dra, gaan daar ‘n prediking van so sieke uit: Kyk hoe gelowig dra hierdie man of vrou nie die siekte nie! Hy erken en aanvaar daarin God se liefdevolle Vaderhand en dat die Here ook in die siekte by hom of haar is.
Dit kan ook Vaderlike tugtiging wees. Dit leer onder andere Hebreërs 12:5-8 ons: En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.
As ek as egte kind van God siek word – of dit nou kanker, korona of wat ook al is -, is dit nie die oordeel of straf van God nie, maar my liewe Vader wat in sy oneindige groot en volmaakte liefde en wysheid met my besig is..
Ons moet onsself daarom biddend ondersoek en onsself afvra: Waarom het die Here hierdie siekte oor my gebring? Wil Hy my bekeer of nader aan Hom bring? Of wat sal die rede wees?
(9) Dood of lewe
Psalm 90 begin met dood (3-6): U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders! Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak. Weggespoel het U hulle; hulle word ’n slaap; in die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit: in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny ’n mens dit af, en dit verdor.
Psalm 91 eindig met lewe (16): Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.
Psalm 90 gaan oor die kortstondigheid van die mens se lewe. Psalm 91 gaan oor lewe, lengte van dae, ewige lewe.
(10) Die klimaks: verlossing en lewe
Psalm 91 eindig op ‘n hoogtepunt: Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien (16).
Onlangse Kommentaar