Psalm 32. ‘n Boetelied
1. Psalm 32: ’n Boetelied (skuldbelydenis) wat uitloop op en omring word deur Lofpsalms
Vooraf net hierdie baie ernstige versoek: vergeet by die lees van hierdie verklarings van my van inentings en watter medikasie ook al.
Dit gaan nie vir my in hierdie oordenkings en in die oor Psalm 90 en 91 en Die Vaksine van die Kruis oor watter medikasie ookal nie.
Waaroor dit vir my wél gaan is dit:
U moet die hand van die HERE in die pandemie raaksien en u sondeskuld, die rede waarom die hand van die HERE in die Covid op ons druk.
As u dit nie raaksien nie, sal die dag van verootmoediging vir u van nul en gener waarde wees nie. Dan sal u ook die Evangelie in hierdie Psalm en die Blye Boodskap van Psalm 32 midde-in die nag van Covid mis.
1.1. Oproep tot ’n dag van verootmoediging
Die kerke is opgeroep tot ’n dag van verootmoediging en gebed in die lig van die vreeslike Covid-pandemie en die onluste.
Dit is daarom baie gepas dat ons sal nadink oor Psalm 32. Dit is immers ’n Psalm waarin ons, in die woorde van Totius in sy beryming in vers 1, voor God ootmoedig al die skuld bely.
Volgens die tweede vers van Totius se beryming was daar ’n tyd dat daar geen boetgebed oor die lippe van die digter gekom het nie en gevolglik is hy ook liggaamlik aangetas onder die slaanende hand van die Vader.
In die Boek van die Psalms is daar sewe Psalms wat al vir eeue bekendstaan as Boetpsalms. Die sewe is Psalms 6, 32, 38, 51, 102, 130 en 143. Psalm 32 is dus die tweede Boetpsalm.
1.2. Skuldbelydenis
’n Boetpsalm is ’n Psalm waarin ’n bekeerde sondaar met sy hemelhoë skuld na God toe gaan: My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely. (vers 5a en b).
1.3. Vergiffenis
Maar ’n Boetpsalm is ook meer as ’n Skuldbelydenis. Want Dawid leer ons al singende waarop egte, Bybelse skuldbelydenis uitloop: U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. (vers 5c).
Die twee is nooit los van mekaar nie: vergifnis word voorafgegaan deur skuldbelydenis; sonder opregte skuldbelydenis kan daar geen vergifnis wees nie. Dit sal ons ook op die dag van verootmoediging moet besef.
1.3. Omring deur liefde en vrolike gesange van bevryding
Skuldbelydenis en vergifnis – die twee moet u in hierdie Psalm raaksien. Maar daar is ook ’n derde gedagte waarop ek u aandag wil vestig: die vrolike gesange van bevryding.
Dit is so mooi om te sien in hierdie Psalm hoe die boetgesang uitloop op vrolike gesange van bevryding. Lees maar die woorde van vers 7: U omring my met vrolike gesange van bevryding.
Dit is diep treffend om te hoor hoe die gedagte van omring tweemaal, nee, eintlik driemaal gebruik word:
- U omring my met vrolike gesange van bevryding (vers 7);
- hy wat op die HERE vertrou—met goedertierenheid (met sy troue, genadige verbondsliefde) sal Hy hom omring (vers 10);
- en derdens sien ons dat ons dat die Psalm omring word met lofliedere. Dit begin naamlik met die dubbele. juigende welgeluksalig (geseënd) van vers 1 en 2 en die ring word voltooi met die lofwoorde van vers 12: Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!
2. Psalm 32: Augustinus se lieflingspsalm
In die jaar 354 nC is êrens in die noorde van Afrika ‘n seuntjie gebore. Sy naam was Aurelius Augustinus. Augustinus was deur die Here bestem om ‘n groot man in sy kerk te word.
Maar – as dit van Augustinus self sou afgehang het, sou dit nooit gebeur het nie. Inteendeel, hy het vir sy moeder, Monica, groot en bitter verdriet gebring. Van kleins af aan het sy moeder hom die verhale uit die Skrif vertel. Maar – dit het gelyk asof dit pure verniet was. Want namate Augustinus ouer geword het, het hy ontaard in ‘n onverskillige, goddelose losbol.
Na sy skoolopleiding het hy in Cartago gaan studeer vir advokaat en redenaar. Daar het dit met Augustinus gegaan van kwaad tot erger. Hy het aan die wildste feespartye deelgeneem. Uiteindelik het hy hom by ‘n sekte aangesluit, wat ‘n meer heidense as Christelike sekte was. Aan sy ma se trane het hy hom nie gesteur nie. Dit het ook nie gelyk asof die Here Monica se hartstogtelike gebede nie verhoor het nie.
Tog was Augustinus nie gelukkig nie. Die sonde maak ons nie gelukkig nie, want die Woord van God sê in Ps.32:10: Die goddelose het baie smarte.
Uiteindelik het hy in die stad Milaan beland. In daardie dae was daar in Milaan ‘n bekende prediker met die naam Ambrosius. Hy was ‘n boeiende spreker. Ook Augustinus het van hom te hore gekom en het gegaan om na hom te luister. Ag, waarskynlik was Augustinus nie so geïnteresseerd in die grys ou dominee se preke nie, maar omdat hy self ‘n redenaar was, wou hy iets by hierdie man oor die kuns van welsprekendheid leer.
Intussen het Augustinus se moeder ook na Milaan toe gegaan. Sy kon haar kind nie loslaat nie. Op ‘n dag het sy besluit om dominee Ambrosius te besoek. Sy het haar hart voor hom uitgestort en vir Ambrosius vertel hoe hard sy vir haar kind gebid het. En toe het die ou dominee vir haar gesê: “Moedertjie, wees maar gerus. ‘n Kind van soveel gebede kan nie verlore gaan nie!”
En die wonder, die Godswonder, het gebeur: Ambrosius se preke en moeder Monica se gebede het nie sonder vrug gebly nie. Sy sonde, sy berg van skuld voor God, het hom al meer en meer gepla. Op ‘n dag het Augustinus onder ‘n vyeboom neergekniel en gebid: “o God, hoe lank nog? Verlos my van die sonde. Vergeef tog my baie misdade”. Juis op daardie oomblik het ‘n kind in ‘n naburige huis ‘n liedjie begin sing: “Neem en lees! Neem en lees!” Wie die kind was, weet ons nie. Dit is ook nie belangrik nie. Maar vir Augustinus was dit meer as net ‘n kinderstem. Hy het gevoel: God spreek hom aan. So vinnig as wat hy kon, het hy hom huis toe gehaas. Daar het hy sy Bybel oopgeslaan en Romeine 13:13-14 gelees, waar daar staan: Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie. Dit het vir Augustinus gevoel asof hierdie woorde vir hom persoonlik geskryf is. Want hy het in die grootste sonde geleef.
In die dae wat gevolg het, het Augustinus steeds meer en meer sy sonde en skuld ontdek. Maar hy het ook geleer dat Christus gekom het om sondaars te red. Die wonder van skuldvergiffenis is aan hom geopenbaar.
Veral Psalm 32 het ‘n besondere indruk op hom gemaak. Dit was Augustinus se llieflingspsalm. Daarom het Augustinus ook op sy sterfbed versoek dat die woorde van Psalm 32 op die mure van die kamer geskryf moes word: Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie.
Psalm 32 is ‘n Psalm wat Dawid gedig, gesing het, toe hy die wonder van skuldvergiffenis ervaar het.
Maar dit is nie net bedoel as ‘n lied wat sing van Dawid se ondervinding nie. Nee, bo-aan hierdie Psalm staan: ‘n onderwysing. By monde van sy profeet Dawid, wil ons groot Profeet, Jesus, ons in hierdie Psalm onderrig gee. Hy wil ons leer hoe gelukkig, hoe heerlik geseënd elkeen is, wat sy berg van skuld nie vir God wegsteek nie, maar dit openlik vir Hom bely. Elkeen wat dit doen, sal die vrede en vreugde wat skuldvergifnis bring, ervaar.
Kom ons kyk vervolgens na hierdie Psalm aan die hand van die volgende drie gedagtes:
- ‘n Drukkende Vaderhand
- ‘n Vergewende Vaderhand
- ‘n Seënende Vaderhand
3. Psalm 32: ‘n drukkende Vaderhand
Met Psalm 32 is ons aan die einde van seker die donkerste hoofstuk van koning Dawid se lewensboek.
Kom ek vat in kort hierdie hartseer hoofstuk uit Dawid se lewe vir u saam: Koning Dawid het eers owerspel gepleeg met Batseba, die vrou van Uria. Toe het Dawid die toutjies getrek het, sodat Batseba se man, Uria, in die oorlog teen die Arameërs gesneuwel het. Dawid was ‘n owerspeler en ‘n moordenaar.
Maar dit is nie al nie. Uit ons Psalm leer ons ook dat Dawid stilgebly het oor sy sonde. Hy het dit nie vir die HERE bely nie.
Dawid het God se hand losgelaat, maar die HERE se hand het hom nie losgelaat nie. Inteendeel, die hand, die Vaderhand was nog daar. Want in vers 4 lees ons: U hand was dag en nag swaar op my. Ja, die Vaderhand was nog daar. Maar dit was ‘n drukkende Vaderhand. Ons kan ook maar sê: ‘n tugtende Vaderhand.
Of Dawid deur ‘n siekte getref is, weet ons nie. Wat ons wel weet, is dat hy swaar, bitter swaar gely het onder die slaanende Vaderhand van die HERE. U moet sien hoe treffend Dawid dit stel: Aan die eenkant staan daar dat Dawid geswyg het – geswyg het oor sy sonde. Maar aan die anderkant staan daar (in dieselfde vers, vers 3): Dawid het gebrul die hele dag. Dawid het geswyg, maar ook gebrul. En in vers 4 staan ook waarom hy so gebrul het: Want u hand was dag en nag swaar op my.
Waarom doen die HERE dit? Uit genade. Omdat Hy sy kind tot inkeer, tot skuldbelydenis wil bring. Die HERE slaan nie maar net om te slaan nie, maar Hy slaan ons na Hom toe, na Hom toe terug. Die hand wat ons slaan is die hand wat ons dryf en dring tot skuldbelydenis, omdat juis daarin ons saligheid, ons waaragtige geluk, lê. Dawid kry ‘n salige pakslae van sy Vader.
Ons moet die genade, die genadewonder in hierdie geskiedenis raaksien. Dawid kom nie na die HERE toe nie, maar die HERE kom na Hom toe.
En met sy slaanende hand pers die HERE Dawid se lippe oop in skuldbelydenis. En dan ervaar Dawid dat die hand van die HERE nie alleen ‘n slaanende hand is nie, maar ook
4. Psalm 32: ‘n vergewende Vaderhand
In drie woorde beskryf, bely, Dawid in vers 1 en 2 die erns van die sonde. Hy noem dit oortreding, sonde, ongeregtigheid. Die eerste woord, oortreding, dui die sonde aan as ‘n losruk van God. Die tweede woord, sonde, beteken om af te dwaal. Die derde kan ons vertaal met misdaad. Daar is ‘n duidelike verband tussen die woorde. Dit vorm ‘n duidelike stygende lyn; dit gaan van kwaad tot erger. Deur die sonde het Dawid hom losgeruk van God en weggedwaal van sy Vader en dit het uit geloop op die dubbele misdaad van owerspel en moord.
Maar wanneer Dawid tot skuldbelydenis kom, stel die HERE teenoor hierdie drieheid in drie woorde die ontsaglike groot rykdom van skuldvergifnis:
- Eerstens sê Dawid: Welgeluksalig is die mens wie se oortreding vergewe is. Die woord wat hier vir vergewe gebruik word, beteken eintlik: opneem en wegdra. Daarvan lees ons in Johannes 1 vers 29, waar Johannes die Doper na Jesus wys en sê: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld optel en wegdra”. Die Vaderhand neem ons sonde en – Hy lê dit op sy eie Seun. Om weg te dra deur die kruis.
- Tweedens sê Dawid: Welgeluksalig is hy wie se sonde bedek is. Om hierdie woord bedek goed te verstaan, moet ons dit lees teen die agtergrond van die Groot Versoendag. Op daardie dag, eenmaal in ‘n jaar, het die hoëpriester die derde vertrek van die tempel, allerheiligste, binnegegaan. Daar het God gewoon. Daar het ook die ark van die HERE gestaan en binne-in die ark was die twee tafels van die wet. En ons kan maar sê: Uit daardie ark het opgestyg voor die aangesig van die HERE Israel se sondes. Maar nou die wonder: Bo-op die ark het die versoendeksel gelê. Daarop moes die hoëpriester die bloed van die sondoffer sprinkel en – so is Israel se sondes voor God bedek. Eers het Dawid self probeer om sy sondes te bedek – deur dit te verswyg. Maar wanneer Dawid sy sondes nie meer bedek nie, maar dit deur skuldbelydenis oopdek voor sy Vader – dan doen die Vader wat ons nie kan doen nie: Sy Vaderhand bedek ons sondes – met die bloed van sy eie Seun.
- Derdens gebruik Dawid die woord toereken. Hy sê: Welgeluksalig is hy wie se ongeregtigheid nie toegereken is. Toereken – dit is ook weer ‘n woord uit die offerpraktyk van die Israeliete. Voordat ‘n dier geoffer is, moes die priester sy hande op die offerdier lê. Met dié gebaar het hy die sondes van die volk op die dier gelê. Dit is die dier toegereken. Hy moes sterf vir die sondes van sy volk. En daarin mag ons ‘n skildery sien van ons Here Jesus Christus. Die hand van ons Vader het ons sondes op Hom gelê – op sy eie Seun. Ons sondes is op sy rekening gesit en aan die kruis het Hy vir ons betaal.
Ons kom by die laaste:
Wie sy skuld raaksien en voor God bely, sal ervaar dat die hand van ons Vader nie alleen ‘n slaanende en ‘n vergewende hand is nie, maar ook
5. Psalm 32: ‘n seënende Vaderhand
Ons Psalm begin met ‘n dubbele welgeluksalig: Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie ….
Welgeluksalig – dit beteken meer as maar net gelukkig. Ons kan dit liewer vertaal met: geseënd. Of om dit nou maar so te sê: As u hierdie welgeluksalig lees, moet u dadelik voor u die hande van u Vader sien: sy hande wat seënend oor u uitgestrek word.
Welgeluksalig – dit hou in dat God se Vaderhand in my lewe is – beskermend, bewarend. Hoor maar hoe sing Dawid daarvan: (HERE), U is ‘n skuilplek vir my; U bewaar my vir benoudheid (v.7).
Welgeluksalig – dit hou in dat God se Vaderhand vol liefde rondom my is. Want hoor maar wat sê Dawid in vers 10: Hy wat op die HERE vertrou – met goedertierenheid (met liefde) sal Hy hom omring.
Welgeluksalig – dit beteken dat daardie Vaderhande altyd daar is: bo my, onder my, voor my, agter my. U sluit my in van agter en van voor en u lê u hand op my (Ps.139).
Onlangse Kommentaar