Ons dood en die Evangelie
Dr AH Bogaards
2021
Inleidend
Met die Covid-pandemie word ons daagliks met die dood gekonfronteer. Daar is baie mense, wat een en meer dierbares aan die dood moes afstaan. En eendag sal elkeen van ons voor die poort van die dood lê.
In hierdie tyd is ons so pynlik bewus van die verganklikheid van die mens. Psalm 103:15-16 laat ons ons tydelikheid sien.
Dit is alles so baie pynlik en so bitter hartseer. Daar is mense wat soveel angs oor die dood het, soveel mense word groothartsee het oor ‘n geliefde wat gesterf het.
Ek wil so paar stukkies plaas oor die dood en ek wil spesifiek troosryke uitsprake van bekende dominees met julle deel. Ons het die troos van die Evangelie so nodig en dit is al wat ons nuwe uitsig en bemoediging gee, as ons ook op verskillende maniere met die dood in aanraking kom.
(1) Ons dood – die heerlike uitsig van elkeen wat in Christus sterf (Kohlbrugge)
Ons moés sterf. Immers, die loon op die sonde is die dood (Rom 6:23). Maar Christus het ons dood gesterf (Romeine 8:34).
Daarom is ons dood is nie ‘n betaling vir ons sonde nie, maar slegs ‘n deurgang tot die ewige lewe. Die dood is nie meer ‘n poort na die doderyk nie, maar dit is die deur na God se paradys. Ons dood is nie meer ‘n straf op ons sonde nie, maar daardeur word die deur van die Vaderhuis vir ons geopen en gaan ons in in die vreugde van ons Here.
Die getuienis wat Kohlbrugge afgelê het van die sterwe van sy eerste vrou, is diep aangrypend: “Ek het saam met haar geworstel, ek was saam met haar in die duisternisse van die doodskaduwee, ek kon saam met haar juig. Ek was saam met haar tot aan die poort van die hemel gewees. En toe sy ingegaan het, het ek die Here geprys vir sy trou en vir sy genade.”
En toe Kohlbrugge self sterwend was, het iemand vir hom gevra: Dominee, is jy nie bang om te sterf nie? Daarop het hy geantwoord: Nee, ek het klaar gesterf – op Golgota.
(2) Ons dood – die heerlike uitsig van elkeen wat in Christus sterf (Luther)
Christus moes sterf. Hy moes Hom tot in die dood toe verneder. Immers – die straf op die sonde is die dood (Gen 2:17; Rom 6:23).
En – Hy hét gesterf. Hy hét die straf gedra, wat ons verdien het.
Maar daarmee, met die skuldbetalende sterwe van ons Heiland kry ons dood ’n totaal ander karakter: Ons dood is geen betaling vir ons sondes nie, maar alleen ‘n afsterwing van die sondes en ‘n deurgang tot die ewige lewe (Heidelbergse Kategismus Sondag 16, vraag en antwoord 42).
Deur die geloof in Christus het ’n gelowige ’n heerlik uitsig. Om die dood in te gaan, is eintlik nie meer sterwe nie, maar dit is veel eerder net soos wanneer ’n moeder haar kind in die wiegie neerlê om die kind aan die slaap te wieg (Luther). “Ons sal slaap totdat Hy kom en aan ons grafsteen klop en sê: ‘Doktor Martin, staan op’ en dan sal ek oombliklik opstaan en ewig met Hom bly wees”.
Christus moes sterf. Hy moes Hom tot in die dood toe verneder. Immers – die straf op die sonde is die dood (Gen 2:17; Rom 6:23).
En – Hy hét gesterf. Hy hét die straf gedra, wat ons verdien het.
Maar daarmee, met die skuldbetalende sterwe van ons Heiland kry ons dood ’n totaal ander karakter: Ons dood is geen betaling vir ons sondes nie, maar alleen ‘n afsterwing van die sondes en ‘n deurgang tot die ewige lewe (Heidelbergse Kategismus Sondag 16, vraag en antwoord 42).
Deur die geloof in Christus het ’n gelowige ’n heerlik uitsig. Om die dood in te gaan, is eintlik nie meer sterwe nie, maar dit is veel eerder net soos wanneer ’n moeder haar kind in die wiegie neerlê om die kind aan die slaap te wieg (Luther). “Ons sal slaap totdat Hy kom en aan ons grafsteen klop en sê: ‘Doktor Martin, staan op’ en dan sal ek oombliklik opstaan en ewig met Hom bly wees”.
(3) Ons dood – die heerlike uitsig van elkeen wat in Christus sterf (Perkins)
William Perkins skryf: Ons liggame in die graf is soos bome in die wintertyd. Deur die verborge vereniging met Christus sal ons liggame herleef. Die sangtyd kom nader! En, sê dieselfde Perkins , as die duiwel u aanval op u sterfbed en u sien geen uitweg nie, sluit dan u oë en sê niks nie. Sê dan: Here Jesus, in u hande gee ek my gees oor ! (Handelinge 7:59)
Here Jesus, in u hande gee ek my gees oor ! (Handelinge 7:59. Vgl ook Ps 31:6 en Lukas 23:46) – ’n ryk, betekenisvolle sterfbedgebed. Dit was die gebed van die sterwende Stefanus. Sterwende gee hy sy gees oor in die hande van die Here Jesus – om vir ewig te lewe, al het hy ook gesterwe. Hy sterf, maar hy lewe; hy sterf, maar hy is by Jesus. Immers, niks – ook nie die dood nie – kan ons skei van die liefde van God, wat in Christus Jesus, ons Here, is nie (Rom 8:39). Hierdie feit lê vas, gewaarborg in die dood van Christus (Rom 8:34). Daarom kan ons in die gesig van die duiwel sê: Here Jesus, in u hande gee ek my gees oor ! (Handelinge 7:59) As die duiwel sy hande uitsteek na my lewe, lê ek my lewe in die hande van Jesus. En dan sing ek:
U is my eewge rots, o HERE!
Diep in u veil’ge sy
sal ek genestel bly.
….
Ek gee my gees oor in u hande,
my Redder, wat my trou
in veil’ge hoede hou. (Psalm 31:3,4 – Totius)
(4) Ons dood – dit is die poort van Isr’els Here … waardeur sy gunsvolk in mag gaan (HK, Ps)
Vandag plaas ek die vierde oordenking oor ons dood. Dit is so nodig in alle tye en ook in ons tyd van Covid-dood om as gelowiges die regte siening, die Evangeliese siening, op ons dood te hê. Covid-sterwe en -lyding is so erg vir ons as mense. Deur die Woord kry ons egter so ‘n troosryke kyk op die dood.
Almal van ons kom een of ander tyd voor die dood te staan: die dood van ’n man of vrou, die dood van ’n kind of van ’n familielid, of die dood van ’n bekende.
En uiteindelik sal ons ook self voor die poort van die dood staan – ten minste: as Christus nie dan al gekom het nie.
Die doopsformulier noem hierdie lewe ’n geleidelike sterwe – ja, die dood is in alle lewendes reeds ’n werkende mag, in jonk en oud. Ons lê nie eers aan die einde van ons lewe op ’n sterfbed nie, maar die werklikheid is: Ons hele lewe van ons geboorte af is een groot sterfbed.
Dit is alles so oneindig droewig, so somber.
Maar – die troosboek, die Heidelbergse Kategismus, wil ons in Sondag 16:42 troos met die enigste troos óók in ons sterwe: met Christus, met sy skuldbetalende dood in ons plek. Deur die skuldbetalende dood van Christus in ons plek kry die dood van God se kinders ’n totaal ander karakter: Ons dood is nie ‘n betaling vir ons sonde nie, maar slegs ‘n deurgang tot die ewige lewe.
Die dood is nie meer ‘n poort na die doderyk nie, maar dit is die deur na God se paradys.
Ons lewe by God lê vas in die borgtogtelike, plaasvervangende sterwe én lewe van Christus. Daarom: Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die HERE vertel. (Psalm 118:17) Ek sal nie sterwe nie, maar lewe, lewe, lewe. Lewe in en deur Gods regterhand – deur Christus. Here Jesus, ontvang my gees! (Psalm 31:6; Handelinge 7:59) Hy hou my vas in sy reddende regterhand om my nooit meer los te laat nie. Niks – ook die dood nie – kan my skei van die liefde van God, wat daar in Christus Jesus, ons Here is nie. (Romeine 8:38-39)
Daarom: voor die poort van die dood, nee, voor die poort van die ewige lewe, kan ek daarom in en deur en danksy die sterwe en lewe van Christus jubel:
die dood …
DIT is die poort van Isr’els HERE,
wat voor sy huis as wagter staan;
die poort wat meld van heil en ere,
waardeur sy gunsvolk in mag gaan.
Daar sal ek, HEER, met dankgebede
U groot maak op die dag van fees,
want U was in my angsverlede
vir my tot hulp en heil gewees. (Totius. Psalm 118:10)
Ja, as ek hier op aarde my oë sluit, dan , ja dan gaan ek deur die poort, want …
Dan gaan ek in na Gods altare,
tot God, my God, my vreugde=en lied;
dan speel ek met die harpenare,
dan ruis vir U my blye snare –
vir U wat my, ná kort verdriet,
‘n eewge vreugde bied. (Totius. Psalm 43:4)
Ja, dan gaan ek nie deur die wrede hand van ‘n Covid of ‘n kanker of wat ook al die dood in nie. Nee, maar deur die liewe hand van my Vader en sy Christus gaan ek juigend die poort van die ewige lewe in.
Dan juig ek saam met Paulus: Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. (1 Korintiërs 15:55-57). Deur Christus word ons sterwe ‘n triomftog.
Onlangse Kommentaar