My eerste kindergebedjie
My eerste kindergebedjie
Ek was nog maar baie klein, toe my ma my my eerste gebedjie geleer het. Ek sal die gebed en die heerlike betekenis daarvan nooit vergeet nie. Dit maal ook die afgelope tyd in my gedagtes.
Ons moes op ons knieë gaan by ons bedjie. Dan het ons gebid:
Ek gaan slaap nou,
Ek is moeg.
Here, laat U vriendlik oog
Op my neerstraal van omhoog.
Amen
Dit is ’n kindergebed. Maar ook kinder-lik: so vol van kinder-like rus en kinder-like vertrou. Dit is ook wat gebed immers is: om na ons hemelse Vader te gaan en om ons met kinderlik vertroue aan ons liewe, vriendelike Vader toe te vertrou.
Ten diepste bly ons altyd kindertjies – met die volmaakte Vader, wat altyd en volmaak goed is vir ons. Daarom mag die kinderlike gebed ook nooit by ons ontbreek nie. Onse Vader, wat in die hemel is – so begin ons kindergebed tot ons hemelse Vader. So beveel Jesus ons om altyd te bid.
Wat my soveel aangespreek het in my kindergebed, was die vriendelike oë van my Vader, wat op my neerkyk. Dit het my my lewe lank bygebly. Hý kyk na my ook wanneer ek slaap, Hy kyk so vriendelik, so vol liefde. By ’n kind is daar geen twyfel daaraan dat sy vriendelike vader en hemelse Vader nie na hom sal om-sien nie. En dan ook daadwerklik, met dade van liefde en sorg, sal omsien na my nie.
In hierdie gebedjie is daar ook ’n tweede paar oë, wat kyk: kinderogies! Nee, dit staan nie letterlik daar nie en tog staan dit daar. Immers, wat is gebed anders as om jou kinderoë in diep afhanklikheid na Vader op te slaan. Hoor, nie sien dit maar in die gebed van Psalm 121: Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
In Psalm 10 hoor ons van die kyk, ons kan maar gerus sê van die oë van die Here.
In die Psalm hoor ons hoe die goddelose, die ongelowige, die kind van God geweld wil aandoen. Wat die goddelose dan sê, is verskriklik (vers 11): Hy sê in sy hart: God vergeet dit; Hy verberg sy aangesig (= maak sy gesig en oë toe); vir ewig sien Hy dit nie.
Die goddelose sê: Die Here sien dit nie. Maar onder inspirasie en leiding van die Heilige Gees stel die digter teenoor die goddelose se sien-ing: die Here sien wel en terdeë. Luister maar na vers 14: U het dit gesien; want U aanskou die moeite en verdriet, sodat ‘n mens dit in u hand sal gee. Aan U gee die ongelukkige dit oor; U was ‘n helper van die wees.
Mooi: Hy sien, sodat … sodat ons dit deur die gebed in sy hand sal lê. Nou hoor ons ook van die hand van die Here. Die Psalm praat van die hande en die oë van die Here. Ons noem dit ’n mensvormige manier van God praat. God gebruik dinge, beelde uit die menselewe, sodat ons iets van Hom kan verstaan.
Totius druk alles so oneindig mooi uit onder andere in Psalm 33:
33:8
Die HEER skou (kyk) uit die hoë hemel
en sien die mensekinders aan;
Hy ken hul hart, oor hul gewemel
laat Hy sy heil’ge oë gaan.
Magtige=oorlogsvolke, / boë, skilde, dolke,
blinkende=oorlog-staal –
duisende=uitgetelde / manne, stryders, helde
bring geen seëpraal.
33:9
……….
Maar die HEER se oë / straal met mededoë (liefdevolle meegevoel)
op wie, klein van krag,
voor Hom stilverslae / in hul donker dae
op sy goedheid wag.
33:11
…….
Goedertieren (liefdevolle, trou) Vader, ….
slaan ons gunstig gade (= kyk genadiglik na ons), / skenk ons u genade
……..
As U die Here se oë deur die gebed op u moeite en verdriet vestig, mag u weet dat God daadwerklik – met dade – daarna kyk. Maar sy sien beteken ook: Hy sien, sodat … daardie bevrydende sodat: sodat u dit in sy hand sal gee. Gebed is: weggee, oorgee. My hande kan dit my dra nie, maar my Vader se hande is almagtig.
En nou wil ek u wys waar ons God se oë op die heerlikste manier sien: op Golgota. En daar sien ons sy sien is dade: die daad van die oorgawe van sy Seun.
Kyk gerus deur die Evangelie in sy vriendelike oë. Dit skep kinderlike vertroue en kinderlike gebedsvrymoedigheid. Om sy ander Kind ontwil sal Hy verseker na my, sy klein mensekindjie, kyk.
… Here, laat U vriendlik oog
Op my neerstraal van omhoog.
Amen
Al is u 80 jaar – dan nog is u ’n kindjie van ons Vader. En nog steeds bid ek om die vriendelike oë van God.
Onlangse Kommentaar