Die Woord is die hoogste en enigste Gesag
Onderskrif: God alleen beslis deur sy Woord alleen wat in sy Woord moet staan
Weergawe 1
Dr AH Bogaards
4 Junie 2022
© Fritz Uitgewers
Inhoud
1. Die aanleiding tot hierdie skrywe: die Woord is in gedrang. 4
2. Die bewering dat ons nie weet of ons die hele Bybel het nie. 5
3. God se Verbond gee ons heerlike sekerheid oor die volle Woord. 7
4. God se verbond ook met ons persoonlik: ons doop. 9
5. My geloofsstandpunt en vertrekpunt 9
6. Die Skrywer van die Bybel is steeds by ons. 10
7. My besorgdheid oor die vak tekskritiek kort en kragtig. 10
8. Mense kan ons die Woord nie gee nie, maar net God. 11
9.1 Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 3. 12
Artikel 3 – Die geskrewe Woord van God. 12
Artikel 5 – Die gesag van die Heilige Skrif 13
Artikel 7 – Die Volkomenheid van die Heilige Skrif 13
9.2 Heidelbergse Kategismus. 14
10. Gelowig en biddend luister 15
11. Die gemeenskap van die heiliges en Textus Receptus. 16
Bylaag vir diegene wat meer wil lees. 16
Vooraf
Daar is ’n baie ernstige saak, waarmee ek al jare worstel:
· Dit gaan oor die Woord van die Here,
· dat die Here alleen – en nié mense nie! – die Woord deur die eeue heen vir ons bewaar het en nog steeds bewaar,
· dat ons alleen en net deur die Here se bewaring en sorg verseker kan en moet en mag wees, dat ons sy hele Woord in sy volheid het,
· dat ons deur God se verbondstrou seker mag wees oor sy hele Woord vir ons,
· dat die hele Woord in Christus vas en seker is.
· Hierdie Woord is egter deur die eeue heen in gedrang en die Satan sit alles op alles om ons van hierdie Woord te beroof. Teen hom is ons nie opgewasse nie, maar ons het ’n troue Bewaarder tot Wie ons in diep afhanklikheid moet bid.
Na baie gebed en studie het ek besluit om ’n artikel daaroor te skryf.
Ek is sekerlik nie oorspronklik nie, maar ek staan op die skouers van vele gelowiges voor my en ook in hierdie tyd. Die gemeenskap van die heiliges deur die lange eeue heen is ’n Godsgawe waarvan ek dankbaar gebruikgemaak het.
Wat ek wel beslis met hierdie artikel wil doen, is om in groot eenvoud my diepste geloofsoortuiging oor die Woord en oor die Here se troue bewaring van sy Woord vir julle deur te gee. Ek wil julle laat sien wat Hy alleen en sonder ons gedoen het om te sorg dat ons ook nou ’n betroubare Bybel kan hê.
Hierdie artikel raak nie net geleerdes nie, maar ook gelowiges in hulle geloofslewe. Daarom het ek hierdie artikel so eenvoudig as moontlik gestel, sodat ook nie-teoloë, lidmate, kan verstaan wat ek sê en gewaarsku kan word.
Dit gaan oor die twee nuutste Bybelvertalings in Afrikaans: die 1983-1992-vertaling en die 2020-vertaling.
Julle weet sekerlik dat die Ou Testament in Hebreeus en Aramees geskryf is en die Nuwe Testament in Grieks. Ons noem hierdie Griekse en Hebreeuse en Aramese tekste die brontekste. Deur die Here se getroue bewaring het ons altyd betroubare brontekste gehad. Niemand het gewonder wat wel en wat nie in die Bybel moet staan nie.
Inteendeel, ons het altyd geglo dat die Here beloof het en gesorg het dat ons die Woord van God in die oorspronklike tale het.
Ja, ons was (was – verlede tyd) seker dat ons die Woord het.
MAAR – met die nuwe vertalings het daar ’n baie groot en vreeslike verandering gekom. Die vertalers van die 1992- en 2020-vertaling het heeltemal afgestap van die Griekse grondteks wat altyd gebruik is. In die plek daarvan het ’n ander, nuwe grondteks en slegter bronteks gekom, wat baie verskil van die een wat in die 1953-vertaling gebruik is.
Hierdie verandering het drastiese, radikale gevolge. Skielik is daar in plaas van heerlike sekerheid groot onsekerheid of hierdie of daardie woorde en tekste ooit in die Woord hoort. Talle tekste en woorde is weggelaat. Daarby sê geleerdes, wat die nuwe teks steun, openlik: Ons kan nie seker wees of ons die Woord het nie.
Ter inleiding wil ek dit baie duidelik sê: Ek wil baie beslis nie met hierdie artikel kwetsend of haatdraend of kras wees nie. Ek wil daarvan uitgaan dat die vertalers goeie bedoelings gehad het. MAAR TOG – maar tog moet ek dit ten sterkste beklemtoon: Daar is baie, baie groot en ernstige foute met die twee nuwe vertalings. Ek wil mense in liefde van daardie foute oortuig. Ek hoop en bid met my hele hart dat almal baie ernstig en biddend oor hierdie sake in die artikel sal nadink.
Bo alles: Die Here eis dit van my dat ek die probleme, wat die Woord in sy kern raak, in groot liefde moet stel.
Maar laat ek meer uitvoerig op alles ingaan.
1. Die aanleiding tot hierdie skrywe: die Woord is in gedrang
Sedert 1983 het ons twee nuwe Bybelvertalings in Afrikaans gekry: die 1983-1992-vertaling en die 2020-vertaling.
In beide hierdie vertalings is in bekende Skrifgedeeltes, woorde en sinne weggelaat of verander.
Ek noem net enkele voorbeelde:
1. Eerstens is daar die baie bekende 1 Johannes 5:7-8, wat handel oor die drie Getuies in die hemel, die Vader, die Woord en die Gees en dat hierdie drie een is. As ons net biddend na daardie teks en sy verband, na die hele Woord en die woord alleen luister, is daar geen enkele grond om dit weg te laat nie.
2. ’n Tweede bekende voorbeeld is Matteus 6:13. Dit is die laaste gedeelte van die Onse Vader: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matteus 6:1) In die 1992-vertaling is dit weggelaat, maar in die 2020-vertaling is dit terug.
3. Derdens noem ek 1 Timoteus 3:16: En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid. In die nuwe vertalings word die woord God weggelaat. Daarmee wil ek glad nie sê dat die vertalers die Godheid van Christus loën nie. Tog het die weglating ernstige konsekwensies. Ons kan nie sê (soos iemand noem) dat die woord God uit die verband afgelei kan word nie. As die Heilige Gees dit nadruklik daar wou hê, is dit nie vir ons om te besluit dat dit nie saak maak nie.
4. Op die vertalers rus daar ’n duur verpligting en verantwoordelikheid om in ’n eenvoudige, helder artikel vir geleerdes en ongeleerdes te sê wat hulle weggelaat of verander het, sodat hulle werk behoorlik aan die Woord getoets kan word. Vertalers mag dit nie aan kerkrade en sinodes oorlaat om maar self te kyk nie. Ek is self ’n teoloog en ook vir my is dit ’n onmoontlike taak.
2. Die bewering dat ons nie weet of ons die hele Bybel het nie
Waar het alles begin?
Dit het begin in die negentiende eeu, toe twee geleerdes, Westcott en Hort, met ’n nuwe Griekse grondteks gekom het. Kom ons noem dit die Moderne Kritiese Teks.
Maar laat ek by die begin begin: Sedert ongeveer die tyd van die Reformasie is ʼn Griekse grondteks gebruik, wat bekendgestaan het as die Textus Receptus. Die moeilike naam Textus Receptus beteken: die teks wat ontvang is. Daarmee word bedoel: die teks wat uit die hand van die Here ontvang is. Dit is dus ’n baie mooi naam. Die naam is ten diepste ’n geloofsbelydenis oor die oorsprong van die Textus Receptus. Hierdie teks is gebruik deur Luther, Calvyn, die King James Version, die Statenvertaling en ons eie 1953-vertaling, om maar net enkele name te noem. Hierdie Textus Receptus se wortels lê terug in die geskiedenis. Deur die eeue heen het die Here immers in sy verbondstrou gesorg dat sy kerk die Woord het. By daardie eeue lange sorg van die Here het die mense van die Textus Receptus aangesluit en dit voortgesit. Die Textus Receptus was nie iets wat uit die bloute en splinternuut na vore gekom het nie.
Met die Textus Receptus was daar groot sekerheid oor die grondteks, oor wat die Woord is.
MAAR met die koms van die Moderne Kritiese Teks het daar ’n drastiese verandering gekom. Sedertdien is niks meer seker nie. Inteendeel, nog steeds word aan die Moderne Kritiese Teks verander en verander en verander tot op die dag van vandag. Kort-kort moet daar nuwe vertalings kom, wat sogenaamd volgens die beste grondtekste of brontekste is.
Ek noem een implikasie van hierdie onsekerheid en voortgaande veranderings, iets wat alle gebruikers van die nuwe Afrikaanse vertalings raak: Die 2020-en die 1992-vertaling is naamlik alreeds nie meer volgens nuutste Moderne Kritiese Teks, die 1992-vertaling nog meer as die 2020-vertaling, want dit is amper 30 jaar ouer. Daar het intussen ’n nuwe Moderne Kritiese Teks verskyn.
Volgens die groot eksegeet en eweneens kenner van die manuskripte, J van Bruggen, word die Moderne Kritiese Teks gekenmerk deur groot onsekerheid.
Onsekerheid oor die Bybel, of ons dit het, is die standpunt van verskillende van die groot ondersteuners van die Moderne Kritiese Teks.
Ek gee net die standpunt van een van hulle, Dan Wallace, in my eie woorde weer: Hy sê ons het nie tans in ons Griekse tekste of enige vertalings presies dit wat die Nuwe Testamentiese skrywers geskryf het nie. Selfs al sou ons dit hê, sal ons dit nie weet nie. Daar is talle en talle plekke waarin die teks van die Nuwe Testament onseker is.[1] Aldus hierdie standpunt kan ons nie seker wees of ons die geïnspireerde Woorde van die Heilige Gees het nie. Daar is meer teoloë wat hierdie standpunt huldig ook onder ons vertalers van die 1992- en 2020-vertaling.
As dit waar is, beteken die Woord van 2 Timotheüs 3:16 net iets vir daardie eerste kopie van die Bybel, wat deur die Heilige Gees geskryf is. Dan is hierdie heerlike en belangrike Woorde niksseggend vir ons kopie of afskrif van die Bybel in die oorspronklike tale: Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid. (2 Timotheüs 3:16)
Maar is dit werklik wat die Bybel ons leer: dat ons nie kan weet of seker kan wees of ons die volle Woord het nie? Dit is verseker nie waar nie. Ons moet nie luister na wat mense soos Wallace sê nie, maar ons moet gaan hoor wat God Self in sy Woord sê. Dit gaan ek nou saam met julle doen.
3. God se Verbond gee ons heerlike sekerheid oor die volle Woord
Dit is glad nie waar dat ons nie kan weet of ons die hele Woord het en wat daardie Woord is nie.
In die Bybel hoor ons dat die Here sy verbond met ons opgerig het.
In sy verbond het die Here sy Woord aan sy kerk gegee en belowe.
Ek gaan net enkele, baie duidelike Skrifgedeeltes noem om op baie eenvoudige, maar ook kragtige, helder manier te laat sien hoe seker ons oor die Bybel kan wees.
In Johannes 14:16-17 en 26 sê ons Here Jesus vir sy dissipels: En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ʼn ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid …die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
In Johannes 16:13-15 sê ons Here verder in verband met sy Heilige Gees: … wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.
Daar is niks onseker in hierdie verbondswoord, in hierdie belofte aangaande die Heilige Gees nie. Let maar net op die woorde alles en hele: Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. En Hy julle in die hele waarheid lei. Dit sluit die hele Woord in. Ons het hierdie heerlike sekere belofte.
Onder andere in hierdie tekste van Johannes 14 en 16 het ons God se beloftes aan ons oor sy Woord aan ons.
En weet julle: Agter hierdie belofte staan ons biddende Voorbidder, ons Here Jesus Christus: … Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ʼn ander Trooster gee … Ék sál en die Vader sál … Hoor julle hoe tot oorlopens toe vol van sekerheid hierdie beloftes in verband met die Woord is.
By hierdie beloftes van die Here moet ons 2 Korintiërs 1:20 lees. Daar in 2 Korintiërs 1:20 staan dat al God se beloftes in Christus ja en amen is. Ja en amen beteken: rotsvas en seker. Dit geld ook van die belofte aangaande die Heilige Gees in Johannes 14 en 16, wat ons in die hele waarheid sal lei.
Al God se beloftes lê vas in die bloed van die kruis.
Ek wil ook op ’n verbondswoord die aandag vestig: trou, die verbondstrou van die Here. Die hele Bybel is vol daarvan: Die Here is getrou en daarom kan ons altyd seker wees van sy verbondsbeloftes.
Ek moes hierby onwillekeurig dink aan Totius se beryming van Psalm 105:
Die HEER wat van geen wankel weet nie,
sal nimmer sy verbond vergeet nie;
al sy beloftes bly van krag
tot in die duisendste geslag.
Verbond met Abraham, sy vrind,
bevestig Hy van kind tot kind. (Psalm 105:5)
Ten slotte nog hierdie verse van Psalm 119, daardie Psalm wat van begin tot einde die Woord en die betroubaarheid van die Woord besing:
Ps. 119:89 Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele. Let wel: Dit staan vas, onveranderlik in die hemele, in die hemele, waar geen duiwel of sondaarhand dit kan bederf nie.
Ps. 119:140 U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief. Dit is gelouter, gesuiwer. Wie anders sal dit doen as God self.
Ps. 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. Dit is dieselfde woord as die een wat gebruik word vir God se trou, sy verbondstrou. Sy Woord is trou en getrou van begin tot einde. Dit is een groot lofprysing op God se trou. Christus word die waarheid genoem. In Christus laat die Here sy trou sien. In Christus bewaarheid God al sy beloftes van sy trouverbond. Christus Self bid ook nog vir ons: Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. (Johannes 17:17).
Daarom ook: Dit is baie erg as ʼn mens sê dat ons nie seker kan wees van die Woord nie. Dit raak die trou van die Here aan sy eie beloftes.
4. God se verbond ook met ons persoonlik: ons doop
Dit is ter wille van ons geloof in en ons sekerheid oor die Woord belangrik dat ons moet weet: Die Here het sy trouverbond ook met ons opgerig – ja, ook met ons, met my persoonlik, by die naam!
Die Here Self het ons gedoop en ons met die doop verseker van sy verbond met ons.
Die doop is ’n heerlike versekering en waarborg van God aan ons ter wille van ons klein en swak geloof: Ons hét die Woord!
In die doopsformulier lees ons naamlik onder andere: “Daarom word ons gedoop in die Naam van God: die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Want as ons in die Naam van die Vader gedoop word, betuig en verseël die Vader aan ons dat Hy ‘n ewige genadeverbond met ons oprig.”
5. My geloofsstandpunt en vertrekpunt
Voordat ek enigsins verder gaan met hierdie skrywe, wil ek baie helder en duidelik stel wat my geloofsstandpunt en vertrekpunt is:
Ek wil nét met die Woord werk. Net die Woord het die ant-Woord en die Woord het die ant-Woord ook sonder enige twyfel en met heerlike krag en oortuiging en helderheid.
In my artikel gaan ek doelbewus nie in op die baie of die min manuskripte nie. Die aantal manuskripte lê vir my geen enkele gewig in die skaal nie of ’n teks in die Bybel hoort of nie. Net die Here moet en sal my lei deur sy Woord alleen. As ek by mense geen lig het nie, het God die lig vir my pad en die lamp vir my voet. Dan straal die Son van geregtigheid, ons Here Jesus Christus, sy heerlike lig.
My grootste rede waarom ek my nie laat lei deur hierdie manuskripte nie, is heel eenvoudig die volgende:
Die Heilige Skrif is die hoogste en heel enigste en finale gesag om te bepaal of ’n Skrifgedeelte, teks of woord deel van die Heilige Skrif is. God sal dit vir ons sê en Hy sê dit ook baie helder en duidelik, maar ons moet dan ook luister en goed luister.
Al sou ’n vers baie min steun in manuskripte vind, beteken dit nog glad nie dat dit nie in die Bybel hoort nie. Die Bybel alleen bepaal dit.
Ek wil dit alles ook nog so stel ter wille van duidelikheid en die erns van die saak:
Dit is wetenskaplik om by die lees van ’n boek vir die skrywer self te vra wat hy bedoel het of geskryf het. Dit geld des te meer van die Bybel en die groot Bybel-Skrywer: Vra die Skrywer Self, wat in sy Woord staan en nie vir nietige, sonde-gebroke mense nie.
Ek het in my navorsing op hierdie groot en bevrydende en bemoedigende waarheid afgekom, geskryf deur ’n sekere pastoor Truelove: The Best Defense of the Bible is the Bible. Dit het my soos ‘n donderslag tussen my oë geslaan. Dit beteken doodeenvoudig: Nie die baie manuskripte nie, maar die Woord sal ons leer en wys en oortuig wat die kanon is. Ek hoef nie – en selfs: mag nie – die Comma Johanneum (1 Johannes 5:7,8) probeer verdedig met menslike manuskripte en aanhalings van Kerkvaders nie. Die Woord en die Here is Self almagtig genoeg om selfs deur die martelaarteks, 1 Joh 5:7-8, mense te oortuig dat ook daardie Comma Johanneum Kanon is, deel van sy Kanon, die Bybel.
Ek moet ook net doodeenvoudig die mooi titel van John Brown van Haddington (1722 – 1787) se groot kommentaar op die hele Bybel vir julle gee: The Self-Interpreting Bible, die Self-Verklarende Bybel. Dis ten diepste wat Bybelverklaring is: om die Self-Verklarende Bybel aan die Woord te laat kom. En ook: om die Self-Verklarende Bybel te laat sê wat die Woord is en wat dit nie is nie. Die die Self-Verklarende Bybel is ook die Self-Verdedigende Bybel. Dit is die Swaard van die Heilige Gees.
6. Die Skrywer van die Bybel is steeds by ons
Daar word by herhaling deur geleerdes gesê: Ons het nie meer die oorspronklike manuskripte van Johannes, Paulus, Moses of wie ook al nie. Die Geskrifte, sê hulle, is weg en ons kan nie weet of ons dit ooit meer het nie, want in die oorskrywe daarvan het die skribas of oorskrywers baie foute gemaak.
Daarteenoor wil ek dit met groot nadruk stel: Ons het inderdaad nie meer die Geskrifte soos wat Johannes of Paulus dit geskrywe het nie. Dit maak egter glad nie saak nie, want ons het nog steeds die Skrywer van hierdie Geskrifte by ons: die alwetende, getroue, almagtige Verbondsgod, wat sy Woord aan ons belowe en wat trou bly tot in ewigheid.
Wat het ons meer nodig?
7. My besorgdheid oor die vak tekskritiek kort en kragtig
Daar is ’n vak in die teologie met die naam Tekskritiek.
Die bedoeling van hierdie vak is om te bepaal wat in die Woord hoort en wat nie.
Uit hierdie vak het sedert ongeveer 1881 die Moderne Kritiese Teks voortgespruit.
Opsigself hoef daar niks met so ’n vak verkeerd te wees nie. Ons moet gelowig en biddend aan die hand van die Woord navors en naspeur wat die suiwer Woord van God is en wat nie. Dit moet ons egter altyd in die geloof doen dat net God dit ons kan wys en dat net Hy deur sy Woord alleen vir ons kan leer, wat sy Woord is en wat dit nie is nie.
Juis in die verband leef daar egter by my groot bekommernis.
Ek wil my besorgdheid helder en duidelik in die volgende twee stellings stel:
1. God en sy Woord is nie meer die hoogste, finale gesag en regter nie:
Ek is diep bekommerd daaroor dat die Bybel, die Skrif alleen (die sola Scriptura), God alleen nie, die hoogste en finale rol gespeel het in die beoordeling of ’n teks in die Bybel moet staan of nie.
Dit sal natuurlik nie by alle Skrifkritici heeltemal die geval wees nie. Tog dink ek dat dit in meerdere of mindere mate by almal die geval is. Daar word na my mening nie genoegsaam erns van elke teks, wat weggelaat word, gemaak nie. Ek vind byvoorbeeld die argumente rondom die weglating van 1 Johannes 5 vers 7 en 8 baie oppervlakkig.
Ek vra daarom baie ernstig: Kom ons steek ons hand baie, baie diep in eie boesem en laat ons onsself ernstig en biddend afvra of ons genoegsaam gestudeer het, wanneer ons sommer links en regs woorde weglaat en verander – almal van ons.
2. Die mens en sy woord kry die beslissende rol:
Ek is ernstig besorgd daaroor dat in die plek van die Skrif alleen die hoeveelheid menslike manuskripte en die gewaande ouderdom daarvan gekom het en dat dit bedoeld of onbedoeld die hoogste punte tel in die besluit of ’n teks of woord in die Bybel moet staan of nie.
8. Mense kan ons die Woord nie gee nie, maar net God
Ons beste werke is met sonde bevlek. Dit geld eweneens van al die manuskripte en mense se pogings om tot ’n nuwe Moderne Kritiese Teks te kom. Daarom kan dit nooit of enigsins die deurslag gee nie.
Ons staan met die menslike manuskripte voor menslike onvermoë om te bepaal wat die Woord is. Van die manuskripte is ook deurspek van dwaalleer, waarteen net God deur die krag van sy Woord ons kan bewaar.
Daarby is dit nog maar ’n klein hoeveelheid van al die moontlike manuskripte wat ons het.
As ons by die sondige, swak mens vassteek en by ons gesnuffel in hierdie of daardie manuskripte, sal ons nooit sekerheid hê nie. Daarby is die Satan vir ons te sterk en hou hy ook nou nie op met sy aanvalle teen die Woord nie.
Oor ’n paar jaar word daar boonop dalk weer sogenaamd “beter manuskripte” ontdek en dan gaan ons nog verder en verder met ons dwase veranderings.
Daarom: God alleen kan ons help. As Hy die Woord nie aan ons gee nie, sal ons dit nooit hê nie.
Luister tog na hierdie Woord: Sonder My kan julle niks doen nie. (Johannes 15:5).
9. Ons Belydenis
In so ’n artikel soos hierdie hoort ook dit wat ons in ons belydenis bely aangaande die Woord.
Dit behoort ook die riglyn vir die vak Tekskritiek te wees.
As ons dan in 9.1 tot 9.2 gaan luister na wat die belydenisskrifte aangaande die Woord bely, moet dit ons opval dat daar by ons belydenisskrifte geen onsekerheid is oor wat die Woord is nie.
Ons hoor byvoorbeeld daarin van God se besondere sorg vir ons – let wel: ook vir ons – en dat God uit besondere sorg vir ons saligheid die die Woord laat opskrywe het. (NGB Artikel 3)
Die woordjie óns is so belangrik. Dit kan tog nie wees dat daardie Woord net geld van die eerste Geskrifte wat deur Paulus, Johannes of Markus opgeskryf is nie. Die dinge in die Bybel, die heerlike beloftes, is tog ook vir ons bedoel en vir ons gegee? Wat het ek aan ’n Woord, wat nie meer bestaan nie?
9.1 Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 3
Artikel 3 – Die geskrewe Woord van God
“Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Petrus 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.”
Artikel 5 – Die gesag van die Heilige Skrif
“Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.”
Onder punt 1 het ek dit gehad oor Matteus 6:13b, die slot van die Onse Vader, wat in die 2020-vertaling weer teruggebring is in die Bybel.
As motivering vir die terugbring van Matteus 6:13b skryf die vertalers die volgende voetnoot:
(Matteus) 6:13 Want … Amen: Volgens teksgetuienis was hierdie lofprysing nie aanvanklik deel van die bronteks nie. Dit het egter so deel van die liturgie van die vroeë kerk geword dat dit mettertyd in baie mss (manuskripte) opgeneem is en sodoende deel van die gebed geword het.
Hierdie motivering gaan juis in teen wat die NGB hier sê: Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie … Die verband van hierdie teks (Matteus 6:9, waar Jesus Self sê: Só moet julle dan bid …Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen) laat ons in alle duidelikheid sien dat ons in vers 13 met die eie woorde van Jesus, van God, te make het.
Die 2020-vertaling moes dit gemotiveer het: Gód sê dit. Nie die kerk nie. Miskien het die vertalers dit nie so bedoel nie, maar dit kom wel so oor.
Artikel 7 – Die Volkomenheid van die Heilige Skrif
“Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was daar ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Galasiërs 1:8: Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deuteronomium 12:32: Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10: Ja, nietigheid is die mensekinders, leuens is die aansienlikes; in die weegskaal moet hulle opgaan, almal saam is hulle minder as nietigheid.). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” (1 Johannes 4:1) en: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…” (2 Johannes:10).”
Ons belydenis haal onder andere die ernstige waarskuwing van Deuteronomium 12:32 aan, dat ons niks by die Woord mag byvoeg of weglaat nie. Daarby moet nog Openbaring 22:18-19 gevoeg word, wat ’n aanhaling van Deuteronomium is: Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. Vergelyk boonop Spreuke 30:6: Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ʼn leuenaar openbaar word nie.
Hierdie woorde is tipiese Verbondsvoorskrifte, wat ons met huiwering en versigtigheid moet vervul om nie aan die eie Verbondskrif van die Here te verander nie. Dit is heeltemal ter sake in die saak van tekskritiek.
9.2 Heidelbergse Kategismus
123. Vr. Wat is die tweede bede?
Antw. Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en u Gees dat ons hoe langer hoe meer ons aan U onderwerp (a); bewaar en vermeerder u kerk (b); vernietig die werke van die duiwel en alle heerskappy wat hom teen U verhef, en verder ook alle bose planne wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles sal wees in almal (e).
Uit hierdie vraag en antwoord is twee dinge helder en duidelik:
1. Die Woord word bedreig.
2. Net God kan die Woord bewaar – daarom die gebed. Gebed is belydenis van ons totale afhanklikheid van God. Ons vra Hom dat Hy Self sy Woord sal bewaar, omdat ons so swak is.
10. Gelowig en biddend luister
Die belofte van die Heilige Gees, wat ons in die hele waarheid sal lei, is ’n gebedsaak.
In Lukas 11 kry ons hierdie heerlike gebed om die gawe van die Heilige Gees:
Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ʼn klip gee; of ook ʼn vis, en hy sal hom in plaas van ʼn vis ʼn slang gee; of ook as hy ʼn eier vra, hom ʼn skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid? (Lukas 11:9-13).
Let wel dat dit ’n gebed vol sekerheid is: sál, sál, sál … bid en vir julle sál gegee word, soek en julle sál vind. Bid en julle sál die Heilige Gees ontvang.
In die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 5 bely ons: Die Heilige Gees getuig in ons hart dat die 66 boeke van die Bybel van God is. Hý is die een wat getuig en oortuig dat die Bybel die gesagvolle Woord van God is – en hierdie waarheid geld van élke woord en elke teks. Dit is ook van toepassing op 1 Johannes 5:7. Het ons al die Heilige Gees gevra of dit die Woord van God is? Sou elke persoon, wat betrokke was by die Moderne Kritiese Teks dit gedoen het?
Onder punt 4 het ek oor die doop gepraat. Hier wil ek dit noem dat by ons doop ook die Heilige Gees aan ons beloof is. Dit sluit sy werk van getuig oor die gesagvolheid van elke Woord in en elke Teks. Wel is dit ‘n bevel, ‘n opdrag om daarvoor te bid.
11. Die gemeenskap van die heiliges en Textus Receptus
In die Textus Receptus (die Griekse teks wat gebruik is in die KJV, Statenvertaling en 1953-vertaling) het ons die erfenis van die gemeenskap van die heiliges soos Calvyn, Luther, Beza ens.
Met die Moderne Kritiese Teks is dit losgelaat en ’n ander tekslyn, teksgroep, gekies, wat ’n bedenklike agtergrond het.
Hier geld verseker die woorde van Hebreërs 13:7: Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het.
Ons is as studente in die Skrifverklaring-klas (eksegese) gewaarsku: Moenie maak asof julle die eerste mense is, wat die Bybel verklaar nie. Dit geld ook van tekskritiek: Moenie maak asof julle die eerste mense is, wat moet bepaal wat die Griekse bronteks is nie. Gedenk julle voorgangers.
12. Ten slotte
Ek wil ’n ernstige beroep op predikante en geleerdes doen om te besin oor die Skrifbeginsels, wat in hierdie artikel vermeld word. Dink biddend en by die lig van die Skrif daaroor na.
Die Woord waarmee ons werk en waarby ons leef en sterf, is nie ons Woord nie. Dit is God se Woord.
Dit is Christus Self, wat in die kleed van die Woord na ons toe kom. Hy is nie net die vleesgeworde Woord nie, maar Hy is eweneens die Skrifgeworde Woord. In Christus word God ten hoogste geëer en verheerlik – in die volle Christus, dit wil sê in die hele Woord. Christus is my enigste troos – die héle Christus.
Dit is vreeslik as ons mense laat twyfel oor die Woord.
Julle hoef egter nooit ooit te twyfel oor die Woord en of julle die volle Woord het nie. Die kruis is ons waarborg, die doop is ons versekering, die trou van God is ons onwankelbare houvas. Laat niemand hierdie sekerheid van julle wegneem nie.
Bylaag vir diegene wat meer wil lees
Vir lidmate
Daar is dalk lidmate wat graag meer oor alles wil lees. Ek verwys julle graag na die volgende:
MH Watts. Die Here het die Woord gegee. Geskiedenis van die herkoms van en betroubaarheid van die grondteks en die Here se sorg. In Afrikaans vertaal deur Willem Swanepoel. PDF
Vir predikante
- Le Cornu S. Bronne oor tekskritiek SKAKEL
- BurgonJW The Revision Revised SKAKEL
- BurgonJW Inspiration and Interpretation SKAKEL
- BurgonJW The Causes of the Corruption of NT SKAKEL
- David Allen_PRESERVATION OF THE BIBLICAL TEXT SKAKEL
- HillsEF_Textus Receptus SKAKEL
- Scrivener A-Plain-Introduction-to-the-Criticism-NT 1 SKAKEL
- Scrivener A-Plain-Introduction-to-the-Criticism-NT 2 SKAKEL
· Van Bruggen, J. The ancient text of the New Testament SKAKEL
[1] “We do not have now – in any of our critical Greek texts or in any translations – exactly what the authors of the New Testament wrote. Even if we did, we would not know it. There are many, many places in which the text of the New Testament is uncertain” (Dan Wallace).
Onlangse Kommentaar