Drie oordenkings oor Filippense 4:4,6,7
Die gordyn sak (1)
Lees: Fil. 4
Teks: Fil.4:6,7
U het almal al op een of ander stadium van u lewe ‘n konsert bygewoon. U weet dus dat daar op die verhoog ‘n gordyn is. As die sak, sien u nie meer die spelers nie. As die gordyne daarna weer opskuif, kan u weer die toneel geniet en lag en bly wees.
Hierdie beeld wil ek gebruik om ons teks in hierdie en in die volgende twee oordenkings (25-26) aan u te verklaar en die lewe van ‘n gelowige aan u te verduidelik. En dit doen ek dan aan die hand van die volgende punte:
- die gordyn sak;
-
die gordyn oopgeskuif; en
-
die vredegewende toneel.
Nou die eerste: die gordyn sak.
In vers 4 is ons opgeroep om bly te wees, ja, om altyd deur bly te wees, wat die omstandighede ook al mag wees.
Paulus het ook aan ons die geheim van ‘n Christen se voortdurende blydskap onthul : dit is ons Here Jesus. As ons Hom maar met die oog van ons siel sien staan op die verhoog van ons lewe, kan ons altyd bly wees. Want as ek Hom sien, weet ek: Hy regeer. My lewe is in sy hand en Hy laat alles ten goede meewerk. Dit so ‘n wonderlike toneel. Dit gee so ‘n heerlike vreugde en so ‘n soete rus.
Maar soms sak daar ‘n gordyn op die verhoog van ons lewe. Dan sien ons Jesus nie meer staan nie. Dan hou die gelag op. Dan word dit treurig, donker, somber in ons hart.
Wat is daardie gordyn? Paulus noem dit by name: besorgdheid. Intense kommer, bittere besorgdheid – dit kan ‘n gordyn voor ons oë laat sak. Ek bedoel maar: ons bekommernisse kan so swaar op ons rus, dat ons net daaraan dink. Ons sorge kan ons sodanig in beslag neem, dat ons vir niks anders meer oog het nie. Dan verdwyn Jesus agter die gordyn van ons sorge. Dan sien ons Hom, die bron van ons blydskap, nie meer staan nie. En, ja…as dit eers so ver is, dan verdwyn die glimlag uit ons lewe. Dan gaan die ligte uit. Dan is dit net donker.
Besorgdheid – dit is so wyd soos u lewe: dit kan besorgdheid wees oor u kind. Of oor u man of u vrou. Dit kan ondraaglike kommer wees oor ‘n siektetoestand wat maar net nie wil genees nie. Of dit kan angs wees oor die toekoms. En voeg maar by hierdie lysie by wat u kwel, so kwel dat u net daaroor kan loop en tob.
Uit ons teks is dit duidelik dat die Filippense dit ook geken het. Hulle was diep besorgd. Dit kon kommer gewees het oor die vervolging wat hulle moes verduur en wat alles daarmee saamgegaan het. Dit kon sekerlike ook sorg gewees het oor hulle kinders wat in ‘n heidense omgewing moes groot word.
Wat dit presies was, weet ons nie. Maar een ding weet die apostel: dat dit vir ‘n gelowige nie goed is nie. Dit beroof ons van ons blydskap. Want dit ontneem ons van ons uitsig van Jesus. Daarom waarsku hy: “Wees oor niks besorg nie…” En vooraf aan die bevel sê hy: “Die Here is naby”. En daarmee sê hy: mense, wees tog nie so vreeslike besorgd nie. Want sien Jesus tog staan, die almagtige. Hy is tog in beheer.
Maar u moet ook daarop let hoe sterk Paulus dit stel: “Wees oor niks besord nie”. Niks nie! Dit sluit ALLES in. Alles waaroor u so bekommerd kan wees: u geld, u gesondheid, u werk, u huisgesin. Wees oor geeneen van daardie dinge besorgd nie, beveel die Heilige Gees ons hier.
Wees nie besorgd nie. Dit is immers nie nodig nie. Want: DIE HERE IS TOG NABY. En Hy was so besorgd oor ons dat Hy sy Seun vir ons gegee het. As Hy dan so vir ons gesorg het, sal Hy dan nie ook nou nog vir ons sorg nie?
Erens sê Kohlbrugge: Wat ‘n dwase is ons tog dat ons ons so kwel. Want lank voordat ons nog verstand gehad het, ja lank voordat ons nog bestaan het, van alle ewigheid af het God al vir ons gesorg.
Ons het dus nie die minste rede om bekommerd te wees nie. Want ons lewe is in goeie hande, almagtige hande, Vaderhande.
En tog, tog bekommer ons ons. Dit is so deel van ons. En ons weet nie hoe om van die ondraaglike las bevry te word nie.
Maar God weet dit! Hy ken sy skepsele. Hy weet hoe maklik ons ons laat oorweldig deur ons sorge. Daarvoor het Hy ‘n oplossing, maar daaroor ‘n volgende keer: hoe die gordyn weer weggetrek kan word .
(2) Die gordyn word oopgeskuif
Lees Filippense 4:6: Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
‘n Gordyn van bekommernisse kan ons sig op ons Here Jesus, die bron van ons vreugde, verduister. Maar God ons Vader weet dit. Hy ken sy kinders. Daarom wys Hy ons in ons teks hoe die gordyn weer weggetrek kan word en hoe ons Jesus weer kan sien staan op die verhoog van ons lewe.
Hy wys ons naamlik op die groot gawe van die gebed: “Wees oor niks besorg nie, MAAR laat julle begeertes in alles deur gebed…bekend word by God”.
Nou wil ek julle wys – weer met behulp van ‘n beeld – wat die gebed nie is nie en wat dit wel is:
- EERSTENS wat dit nie is nie. Of anders gesê: wat ons dikwels van die gebed maak.
Ons kan die sorge van ons lewe met ‘n pak vergelyk: ‘n pak wat veels en veels te swaar is om te dra. Daarmee gaan ons na God toe deur die gebed. In ons gebed begin ons dan aan Hom verduidelik hoe die pak lyk en hoe bitter swaar dit vir ons is om dit te dra. Maar – as ons klaar gebid het, neem ons daardie ondraaglike las weer op en gaan daarmee verder ons lewe in.
Dit is nou juis wat die gebed nie is nie! Die gebed is nie maar net om ‘n klomp informasie deur te gee aan die Here nie. As dit so was, was die gebed nie eens nodig nie. Immers, God weet al lankal wat ons kwel, nog voordat ons dit vir Hom sê!
- Maar wat is die gebed dan wel? Dit in die TWEEDE plek.
Dit is om daardie pak oor te gee in die hande van die Here en om dit in sy hande te laat.
- Ons skouers is te swak om die las van die lewe te kan dra. Lê dit daarom op skouers wat dit wel kan dra: werp dit daarom deur die gebed op die skouers van God!
-
Ons handjies is te swak om ons sorge te hanteer. Lê dit daarom biddend in die almagtige hande van God! Daartoe nooi Hy u uit in ons teks: laat julle begeertes bekend word by God!
Hier wil ek weer terugkom by die woordjie “besorgdheid”. Die woord het eintlik die betekenis van: om meer te wil wees as wat jy is. Dit wil sê: ons is nie daarmee tevrede dat ons mense is nie. Ons wil meer wees. Ons wil soos God wees – ons eeue oue paradysideaal. Ons wil self ons laste dra en ons wil self ons probleme oplos.
Juis daarteen waarsku God ons Vader ons hier: my kind, moet tog nie probeer om meer te wees as wat jy is. Moenie self jou pak probeer dra nie. Jou skouers is nie daarvoor gemaak nie. Jy sal te gronde gaan onder die las. Jou senuwees sal gedaan raak daarvan. Gee dit daarom maar vir My. Ek kan dit wel dra. Ja, Ek wil dit ook vir jou dra.
Nog twee punte in verband met die gebed vra ons aandag:
- Eerstens: Paulus sê nie net dat ons moet bid nie, maar ons moet bid én “smeek”. “Smeek” beteken natuurlik ook bid. Die woord “smeek” is egter nog intensiewer: dit is roep om hulp, ‘n skreeu uit die diepte van ons ellende tot God. So hoor ons die Psalmdigters ook dikwels roep: “My hart en vlees, o God roep luid tot U wat leef, verlangend uit” (Ps.84:1, berymd). Ons mag maar smeek. Ons mag maar roep. Ons mag maar aan die Here wys hoe swaar ons nood is.
** Tweedens praat die apostel van “danksegging”. Dit hoort eweneens by ons gebede, ook by ons gebed in nood. Ook dan mag die danksegging nie ontbreek nie.
Maar waarvoor moet ons dank, vra u miskien? Waarvoor moet ons dank as ons probleme nog nie eens opgelos is nie?
Ek dink ons verstaan die woord “danksegging”, wat hier gebruik word, nie goed nie. Hierdie “danksegging” is eerder ‘n gelowige, dankbare lofprysing, ‘n dankbare erkenning van Wie en Wat die Here is.
Ek wil dit ter wille van duidelikheid en ryk vertroosting so omskryf: Vader, ek glo in u Vaderlike goedheid en liefde en almag; ek dank u dat ek my lewe en my laste in u onbeskryflik wonderlike Vaderhande mag lê.
Wie deur die geloof deurdrenk is van sy Vadersorg en -krag, sal ook sing en dank in die diepste duisternis. Ja,dit kan, sê die digter van Psalm 42 midde in ‘n see van verdriet: “Ook deur donker nag omgewe, sing ek nog my pelgrimslied. Ja, ek lofsing in die nag…”. Ja, dit kan, sê hy, “want ek bly die HEER verwag”.
As ons so bid, gaan die gordyn oop. Ons sorge verdwyn en ons sien ‘n vredegewende toneel. Daaroor volgende keer.
Onlangse Kommentaar