Psalm 27, die geboorte van Christus en Nagmaal
Psalm 27, die geboorte van Christus en Nagmaal
Lees: Ps 27 en Lk 2:25-32
Tekste:
Ps.27:1,4-6: Die HERE is my lig en my heil =verlossing: vir wie sou ek vrees? … 4-6: Dawid het begeer om die HERE se lieflikheid te aanskou/sien in sy tempel.
Lk 2:30-32: My oë het u heil=verlossing gesien, wat U berei het voor die oë van al die volke — ‘n lig tot verligting (van Israel en alle nasies)
Sing: Psalm 27:1,2; Ps 119:39,40; Skrifberyming 3:1,2; Ps 23, Ps 116; 84:1,6
Tema: Die HERE is mý Lig, dws mý verlossing, wat mý duisternis verdryf.
Inleiding
Calvyn begin sy verklaring van hierdie Psalm met ’n veelseggende, troosryke beeld: die beeld van ’n weegskaal. Kyk, sê Calvyn: in sy een hand, in die een skaal, het Dawid die duisternis, die beproewings, in sy lewe. En – die gewig in daardie skaal, die duisternis, is so lig soos ’n veertjie. In die ander skaal is die Lig van verlossing, Christus. Die Lig skyn in ons duisternis en dit triomfeer ook oor ons duisternis. Wat dit ook al mag wees.
Dit is so mooi dat ons in hierdie tyd mag stilstaan by hierdie troos: die koms van die Lig in ons lewe, sy geboorte.
En – aan die Nagmaalstafel word ons verseker: hierdie lig is ook vir jou bedoel. Hier, hier is die Brood. Die liggaam van Christus. Hier is die Lig: dis ook vir jou bedoel. Die brood en die wyn word so direk vir ons aangereik. Uit die hand van God Self.Moenie twyfel nie. Dis ook vir jou.
1. Donker = vyande
Dit was pikdonker in die lewe van Dawid tydens hierdie Psalm. Vyande, wat sy lewe wou neem, het ’n dik duisternis oor sy lewe gebring. Ons lees ’n paar keer van die vyande in ons Psalm.
Dit kan ook om ander redes so donker wees in ons lewens. Dink maar aan die donkerte van sonde, die donker van die duiwel, die donkerte siekte, die dood en die eensaamheid van die ouer word.
Maar nou ’n baie belangrike vraag:Wat doen Dawid dan as dit so donker word in sy lewe?
- Dan staar/sien hy hom nie vas teen die donker werklikheid rondom hom nie.
- Nee, dan sien hy Iemand Anders: Die HERE! Met die Naam HERE begin Dawid ( v 1) en met Hom eindig Dawid (v 15)
- Die Naam HERE dus omraam hierdie Psalm. Die bedoeling van ’n raam rondom ’n skildery is om die skilderye en sy boodskap des te beter te laat uitstaan. So is dit ook met Psalm 27: die raamwerk HERE aan die begin en einde: dit wil laat uitstaan wat die inhoud van die Psalm 27 is; die HERE, Hy is die inhoud van Psalm 27.
En dan jubel Dawid dit uit:
2. Die HERE is mý lig en mý heil/verlossing
Die HERE is mý lig. Die lig van die HERE bestaan daarin (=) dat die HERE verlossing/heil bring, dat Hy alleen Dawid verlos van die vyand. Die woordjie verlossing of heil verklaar die lig.
In die woordjie heil of verlossing hoor ons die Naam Jesus. Hy is die Lig. Maar
3. Om hierdie lig te sien, is ’n saak van geloof
Dawid sê: mý. Die HERE is mý lig en mý heil/verlossing.
Hy sê nie net: die HERE is lig en verlossing, nie. Hy sê uitdruklik: mý.
So moet ons nie net sê: Jesus het gesterf, nie. Die mý hoort daarby: Here Jesus, U het gesterf en U het dit ook vir my gedoen. U is mý Lig in my duisternis, wat my donker ook al mag wees.
Luther sê: die woordjie mý is die moeilikste woord in die Bybel. Die HERE moet die mý in ons hart en op ons lippe lê. Geloof is ’n gawe van God.
Nagmaal versterk daardie geloof = ook vir my, ja, ook vir my.
In Psalm 27 kry ons ook tweemaal die woordjie vertrou, amen.
Ons kyk vervolgens:
4. waar Dawid die Lig leer ken en gesien het: in die huis van God
Dit sê Dawid in vers 4-6: Hy het begeer om die HERE se lieflikheid te aanskou/sien in sy tempel. Met die lieflikheid van die HERE bedoel Dawid: die Lig, verlossing van die HERE. In sy tempel en in sy Woord het die verlossing van die HERE Dawid in al sy heerlikheid toegestraal.
Dawid het die Lig gesien in al die offers en seremonies en in die Woordverkondiging in die tempel.
Daar in die tempel dus het ’n lig het opgegaan vir Dawid en dit het sy duisternis oorweldig.
Ons “sien” hierdie lig ook vandag in: Kerk en Woord.
In Lukas 2 hoor ons van:
5. ’n ou man, Simeon.
En – hy was óók in die tempel.
En juis wanneer Simeon dáár is, word die Lig van die wêreld in die arms van Josef en Maria in die tempel ingedra, Jesus. Die Lig van God het vlees en bloed geword.
En dan neem Simeon die Jesus-kind in sy arms en Hy jubel en sing:
My oë het u heil=verlossing gesien, wat U berei het voor die oë van al die volke — ‘n lig tot verligting (van Israel en alle nasies)
Daar is soveel ooreenkomste tussen Simeon en Dawid:
- beide gaan tempel toe,
- beide sien,
- beide sien die lig, die verlossing van God;
- en soos Dawid dan Psalm 27 uitjubel, so sing Simeon sy lied: My oë het u heil=verlossing gesien, wat U berei het voor die oë van al die volke — ‘n lig tot verligting (van Israel en alle nasies)
Hoe het Simeon geweet dat juis daardie Kind in die arms van Josef en Maria die lank beloofde Lig en Verlosser was? Daar is op daardie dag sekerlik ook nog ander kinders ingebring. Hoe weet Simeon dit dan? Vers 25 sê dit: die Heilige Gees was op Simeon. Die Heilige Gees het Simeon o.a. aan die hand van Psalm 27 die Jesus-Kind laat erken.
Sy mooi naam Simeon beteken: God hoor/verhoor. Dawid en Simeon het gelowig op God en sy Ou-Testamentiese Beloftewoord gewag/gehoop (Ps. 27:14) en God het sy Woord en hulle verwagting vervul: die Lig het gekom.
6. Ook ons sien
Ons sien die Lig van die wêreld, Jesus, met die oog van die geloof.
In kerk en Woord word sien ons Hom – met die oog van die geloof.
In kerk en Woord straal Hy ons toe.
Slot
En dan sing ook ons saam:
Saam met Dawid:
God is my lig, my heil: ek sal nie vrees nie
En saam met Simeon:
‘n Lig het opgegaan,
‘n helder stralebaan
skiet deur die donker wolke.
Dit is Immanuel,
die Vors van Israel,
die Lig van alle volke.
AMEN
Onlangse Kommentaar