Sien die HERE en sy hand
Sien die HERE en sy hand
AH Bogaards
2025
In Spreuke 21:1 staan daar: “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.”
Spreuke is die boek van die ware wysheid. Wysheid in die Bybel beteken nie om ’n hoë IK te hê of groot geleerdheid nie. Dit beteken selfs nie om groot kennis van die Bybel te hê nie.
Ware wysheid is om die Bybel gelowig toe te pas in jou lewe, om daaruit te lewe. Daarom, al het jy ’n doktorsgraad in teologie, as jy nie leef uit die Woord nie, is jy ’n dwaas.
In Spreuke kom ook konings, prinse, ter sprake. Ook in die manier waarop jy na konings kyk, kom of jou dwaasheid of jou wysheid uit: kyk jy na hulle in die lig van die Woord of nie?
Vandag is die hele wêreld so oë op die groot leiers, soos Trump. Ook in Suid-Afrika is daar by baie hoë verwagtings van Trump. Mens staar hulle blind teen hierdie leiers en hoop dat hulle ons sal red van al die onreg en probleme in ons land.
Spreuke 21:1 leer ons egter iets anders: “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.”
Spreuke 21 leer ons die ware wysheid: om ons nie vas te staar teen die hart – die besluite – van die koning nie, maar om die hand van die HERE raak te sien, om oog te hê vir wat sy hand doen.
Kyk, dit is nou werklik troos en ware wysheid: as jy jou nie vasstaar in die HART van die koning nie, maar as jy die HERE en SY HAND sien.
Die HERE is ALMAGTIG. Hy het ook beheer oor konings se harte: dit is in sy hand. Soos waterkanale deur ’n tuinier gelei word waar hy dit wil hê, so is dit ook met die hemelse Tuinier: Die koning se hart – sy besluite, sy gedagtes – is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.
Die Naam HERE (met 4 hoofletters in die 1953-vertaling) is in die oorspronklike die Naam Jahweh. Jahweh is die Here se verbondsnaam. Dit herinner ons daaraan dat die Here, wat konings se harte in sy hand het, dieselfde God is, wat met sy volk ’n verbond gesluit het. Dit is die Vader van ons Here Jesus Christus, en die Vader wat in die uur van ons doop sy VADERHAND op ons gelê het en aan ons belowe en verseker het: om Christus wil is Hy ons Vader en ons sy kinders. Daarom wil Hy ons met alle goeie dinge versorg en alle kwaad van ons afweer of tot ons beswil beskik (Heidelbergse Kategismus Sondag 10).
Dit is nou waaragtige wysheid, troosryke wysheid, om te weet:
- Die MAGTIGE koning se HART is in die ALMAGSHAND van die HERE van die kerk; die MAGTIGE koning is só in die hand van die HERE dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie (Heidelbergse Kategismus Sondag 10); en
- ons, sy kinders, is in die ALMAGTIGE, ALOMTEENWOORDIGE, LIEFDEVOLLE VADERHAND VAN ONS HERE.
Ek weet nie waarheen my Vader Trump se hart lei nie, maar wat ek vas en seker glo, is: die HERE is my Vader en niks sal my van sy liefde skei nie; die HERE is my Vader en Hy sal alles ten goed laat meewerk vir my, sy kosbare eiendom, sy oogappel. My Vader is, altyd, ja altyd en tot in ewigheid goed vir sy kinders (Psalm 73).
En – sy Vaderskap lê vas in die bloed van sy Seun en is aan my verseker en gewaarborg in my doop.
Waarom, ja, waarom praat mense, leiers, so baie oor Trump en so min oor hierdie Vader?
Onlangse Kommentaar